Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Kopenhagenberaad – te min! Te laat?

Kopenhagen was einde 2009 op almal se lippe. Daar is berig dat dit ’n konferensie gaan wees wat deurslaggewende besluite oor die toekoms van die aarde sou neem. Dit was opvallend hoeveel kerke betrokke was by die konferensie. Waarom wou die kerke saampraat? Waaroor moes die konferensiegangers besluit? ERNST CONRADIE plaas die gebeurtenis in perspektief.

“Too little, too late” – Is dit ’n toepaslike aanmerking rondom die Verenigde Nasies se konferensie oor klimaatsverandering wat van 7 tot 18 Desember 2009 in Kopenhagen gehou is? Hierdie was reeds die 15de jaarlikse “Konferensie van Partye” van die VN-verdrag om die impak van klimaatsverandering te beperk.

Daar was met goeie rede wêreldwyd enorme verwagtings rondom die beraad: Dit was die beraad waar die Kioto-protokol van 1997 (wat slegs die periode tot en met 2012 dek), opgevolg moes word met ’n nuwe verdrag wat die groot skip van die wêreld se ekonomie op ’n volhoubare koers sou stuur. Kortliks behels dit dat die energiebasis van die ekonomie vanaf koolstof (olie, steenkool en aardgas) verskuif moet word na volhoubare alternatiewe. Daarvoor moet die uitsetting van kweekhuisgasse wêreldwyd met minstens 50% gesnoei word en met ongeveer 80% in nywerheidslande. Op hierdie basis sou dit moontlik wees om die konsentrasie van koolstofdioksied in te perk tot 350 deeltjies per miljoen. Dit sal weer help om ’n styging in die planeet se gemiddelde oppervlaktemperatuur van meer as 2 grade Celsius te voorkom. Die wetenskaplike konsensus (ten spyte van ander geluide) is dat dit katastrofale gevolge vir lewe op aarde kan inhou indien ons in hierdie doel misluk. Daaroor is wyd in die media berig in die aanloop tot Kopenhagen.

Dit is natuurlik geensins maklik om die koers van só ’n groot skip só drasties te verander nie. Dit sal noodwendig dekades duur. Die besluit om van koers te verander, kan op die kaptein (in dié geval die VN) se bevel egter in ’n oomblik geneem word. Daardie oomblik van waarheid was Kopenhagen.

Kerke wêreldwyd was ten nouste betrokke by die aanloop tot Kopenhagen. Die Wêreldraad van Kerke het ’n staande komitee wat as waarnemer op die hoogste vlak betrokke is by politieke onderhandelinge rondom klimaatsverandering. Dit het oor dekades heen talle publikasies en reeds 49 nuusbriewe die lig laat sien. Hulle webblad (www.wcc-coe.org/wcc) bevat ’n rykdom van gegewens hieroor. Talle kerklike tradisies het voor die tyd verklarings uitgereik. Die All Africa Conference of Churches, die belangrikste ekumeniese liggaam in Afrika, het in ’n pastorale brief van 17 Oktober 2009 gewys op die verwoestende impak wat klimaatsverandering reeds in dele van Afrika het. Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ’n merkwaardige dokument gepubliseer met die titel “Climate Change a Challenge to Churches in South Africa”. Dit is onderteken deur 211 Christen-leiers in Suid-Afrika, waaronder 62 uit die NG Kerk-familie. Daar het, volgens hierdie dokument, ’n nuwe oomblik van waarheid aangebreek waarin ons geroep word om die tekens van die tye te lees. Dit sal van ons niks minder as bekering (metanoia) verg nie: Ons sal ons opnuut moet instem op God se woord ten einde ons denke, houdings, gewoontes en gedrag te verander.

Die Kopenhagenberaad moes veral aan twee sake aandag gee. Eerstens, die wêreldwye inkorting van kweekhuisgasse (“mitigation”). En tweedens die skep van meganismes om hulp te verleen aan die slagoffers van klimaatsverandering en om “ontwikkelende” lande te help om die nodige aanpassings te maak (“adaptation”). Daar is vooraf twee roetes uitgestippel. Eerstens moes daar ’n bindende verdrag opgestel word wat die Kiotoprotokol na 2012 kan vervang. Tweedens was daar die roete van langtermyn gekoördineerde samewerking waarvolgens individuele lidlande duidelike doelwitte moes stel – wat egter nie polities bindend sou wees nie.

Dit is nie nodig om wat by Kopenhagen bereik is, hier in detail te bespreek nie. Daar is op die laaste nippertjie ’n politieke ooreenkoms bereik waarvolgens die wetenskaplike konsensus, soos uiteengesit in die verslae van die IPCC, aanvaar is. Volgens hierdie ooreenkoms sal lidlande temperatuurstygings probeer in toom hou deur die vrystelling van kweekhuisgasse “betekenisvol” in te perk en finansiële hulp bied aan ontwikkelende lande om by klimaatsverandering aan te pas. Om hierdie doelwitte te bereik, sal geïndustrialiseerde lande, volgens die ooreenkoms, hulleself daartoe verbind om teikens te stel rondom die vrystelling van kweekhuisgasse vanaf 2020. Hierdie teikens moet teen 31 Januarie 2010 in ’n register aangedui word.

’n Aantal ontluikende ekonomieë (waaronder Brasilië, Suid-Afrika, Indië en China) het ook ooreengekom om húlle vrywillige pogings om kweekhuisgasse in te perk, elke twee jaar bekend te maak. Hulle teikens sal ook teen 31 Januarie 2010 geregistreer word.

Hierdie ooreenkoms is wyd veroordeel as hopeloos onvoldoende om die uitdagings tegemoet te kom. Ban Kimoon, die sekretaris-generaal van die VN, het erken: “Hierdie ooreenkoms is beslis nie dít waarvoor almal gehoop het nie, maar dit is ’n noodsaaklike begin.” Yvo de Boer, die VN se uitvoerende sekretaris oor klimaatsverandering, het bygevoeg: “Die wêreld gaan met ’n ooreenkoms van Kopenhagen weg. Maar verwagtings rondom die verlaging van vrystellings sal aansienlik gelig moet word as die wêreld by 2 grade wil hou.”


Het God oneindige geduld?
Vanuit Christelike oorwegings rondom God se vergifnis sou ’n mens kon sê dat verandering (bekering) nooit werklik te laat is nie. Het God dan nie oneindige geduld met ons nie? Is God dan nie lankmoedig nie? Kan daar ooit ’n dag kom wanneer dit ook in God se oë te laat sal wees? In die dae van die stryd teen apartheid is dikwels gesê dat politieke hervorming “te min, te laat” is. Maar die koms van demokrasie was tog nie “te laat” nie. Dit sou weliswaar baie gehelp het as probleme rondom onderwys, behuising en vigs veel vroeër aandag gekry het. Nou is hierdie probleme veel ingewikkelder, maar dit is nie regtig te laat om daaraan aandag te gee nie. En wat van die visie vir kerkeenheid? Dit is sekerlik laat in die dag, maar tog nie te laat daarvoor nie, of hoe?

Daar is egter wel gevalle waar iets onherroepelik te laat kan wees. Dink aan verlore geleenthede op skool. Of aan ’n skuldbelydenis teenoor iemand wat nie meer daar is nie. Of aan tyd wat jy saam met jou kinders wou deurgebring het terwyl hulle nog op skool was.

Hoe raak dit klimaatsverandering?
Daar is mense soos die bekende James Lovelock wat sê dat dit reeds te laat is. In sy boek The Vanishing Face of Gaia (2009) argumenteer hy dat die hoeveelheid koolstofdioksied wat reeds in die atmosfeer is, katastrofale gevolge inhou. Daar is byna niks wat ons meer daaraan kan doen nie. Al wat ons nog kan doen, is om ons voor te berei vir die ergste. Miljoene sal ’n ander heenkome moet vind en daar sal teen die einde van die eeu ’n stryd om oorlewing wees.

Ander wys weer op die drempeleffek. Wanneer ’n sekere drempel verbygesteek word, sal klimaatsverandering onomkeerbaar word. Die impak daarvan sal duisende jare voortduur. Angswekkende voorbeelde hiervan is die smelt van gletsers en yslae in Groenland en Antarktika, die verdamping van metaangas uit die veenvelde van Siberië en die vloei van lugstrome in die Amasone. Hiervolgens is daar dalk nog tyd om ’n plan te maak, maar dit sal toenemend moeilik word om die proses in toom te hou of om te keer en binne ’n dekade of drie vier sal dit wel te laat wees – veral as die huidige toename in die vrystelling van kweekhuisgasse voortduur.

Is die kans nou verby?
Wat nou van Kopenhagen: Was dit te laat? Nogmaals, om die proses om te keer sal dekades duur, maar die besluit kan op een dag geneem word. Dit sou seker moontlik wees om daardie besluit ’n jaar later te neem. Die volgende VN-beraad oor klimaatsverandering (COP16) is geskeduleer vir Desember 2010 in Meksikostad, met onderhandelinge vooraf in Bonn (31 Mei tot 11 Junie). Die probleem is egter dat die geleentheid om ’n toereikende verdrag in Kopenhagen te beklink nou verby is. Waar sal die politieke wil en die morele verbeelding vandaan kom om in 2010 te doen wat nie in 2009 bereik kon word nie? Watter impak sal die mislukking van Kopenhagen en die wedersydse wantroue hê op die volgende beraad?

Hierdie vraag lê vierkantig op die agenda van kerke wêreldwyd: Waarin lê ons hoop op verandering? Sal ons roekelose gebruik van steenkool en olie in die hede onherroeplike gevolge vir ons kleinkinders inhou? Sal daardie gevolge in die teken staan van God se geregtigheid en God se straf op die manier van leef van die verbruikersklas? Of kan ons maar net aangaan in die volle vertroue dat God ons liefhet en altyd maar net weer ons sondes sal vergewe? En sal ons kleinkinders ons vergewe as die groot skip dalk op die rotse loop omdat ons nie die moed gehad het om die koers te wysig toe dit nodig was nie?

¢º Prof Ernst Conradie doseer sistematiese teologie en etiek in die Departement Godsdiens en Teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.