Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Het Calvyn Mandela tronk toe gestuur?

JOHAN VAN DER MERWE

In die jaar waarin ons die geboortedag van Calvyn 500 jaar gelede herdenk, het daar letterlik honderde artikels oor dié 16de-eeuse teoloog verskyn. Terwyl sommige Calvyn ophemel as superheld, breek ander hom af tot superskurk! In Suid-Afrika verwyt sommige hom vir apartheid terwyl ander sy teologie as die groeibodem beskou waaruit die stryd teen apartheid gegroei het. Dit laat die vraag ontstaan: Hoe sou Calvyn self oor sy teologiese nalatenskap in Suid-Afrika oordeel? Sou hy ’n goeie Calvinistiese Afrikaner wees wat die Nasionale Party regering ondersteun het, of sou hy vanuit sy teologiese denkraamwerk apartheid met hand en tand beveg het? Anders gestel: Sou Calvyn Mandela tronk toe gestuur het?

Om op hierdie ietwat moedswillige vraag te antwoord, is dit nodig om kortliks te kyk na die rol van Mandela in ’n pre-apartheid Suid-Afrika. Nelson Mandela is op 18 Julie 1918 in Mvezo, ’n klein dorpie in die Transkei gebore. Hy het grootgeword in ’n Suid-Afrika waar apartheid hoogty gevier het en was instrumenteel in die totstandkoming van die ANC-jeugliga. Die gebeure by Sharpeville op 21 Maart 1960 het gelei tot die stigting van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, waarin Mandela ’n leidende rol gespeel het. Geweld en opstand teen die regering het gevolg voordat Mandela in 1962 gearresteer is. Tydens die bekende Rivonia-verhoor is hy skuldig bevind aan hoogverraad en op 12 Junie 1964 lewenslank tronk toe gestuur as vyand van die Christelik-nasionale regering van Suid-Afrika.

Sou Calvyn saamstem met hierdie oordeel van die hof? Die antwoord lê waarskynlik opgesluit in Calvyn se siening oor die rol van die burgerlike owerheid. Calvyn was van mening dat die burgerlike owerheid, of dan die regering, deel is van die wyse waarop mense geroep is om deel te wees van die Koninkryk van God. In hoofstuk 20 van deel 4 van sy Institusie skryf hy dat die Here Koning van die konings is en dat die owerheid die roeping het om die koninkryk van die Here op aarde te proklameer. Hierdie roeping moet uitgevoer word deur magistrate, wette en onderdane. Die staat is daarom nie ’n abstrakte konsep nie, maar ’n konkrete werklikheid wat ondergeskik is aan die wil van God en wat moet sorg dat die wil van God nagejaag en uitgevoer word.
Calvyn het verder verduidelik dat magistrate (regeerders) dienaars van God is wat deur sy gesag aan­gestel is tot voordeel van alle onderdane (Rom 13:4). Die afleiding kan dus gemaak word dat die burgerlike owerheid volgens Calvyn deur God aangestel is om namens Hom te regeer sodat onderdane hulle Godgegewe roeping in vrede kan uitleef. Indien die owerheid openlik bely dat hy sy roeping van God ontvang het en boonop wette ingestel het om onderdane te help om volgens God se wil te leef, is opstand teen die owerheid buite die kwessie. Weerstand teen of opstand teen so ’n owerheid is opstand teen die wil van die God en moet daarom op die swaarste denkbare manier gestraf word.
Dit is die standpunt wat deur die Nasionale Party-regering van dr HF Verwoerd gehuldig is. Suid-Afrika was ’n Christelike land met ’n Christelike regering wat daarna gestreef het om die roeping van God uit te leef. Dit word bevestig deur uitsprake van onder meer dr DF Malan en dr HF Verwoerd self. Met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 het Malan die denkrigting van die Nasionale Party-regering in Suid-Afrika aangedui met sy bekende woorde: “Glo in God, glo in jou volk en glo in jouself.” In dieselfde trant het dr HF Verwoerd, nadat hy tot Eersteminister verkies is, in sy aanvaardingstoespraak in die parlement gesê: “Ek aanvaar my verkiesing as ’n roeping van God. Ek sal my krag in die Woord van God soek, en nie in myself nie” – Christelike leiers van ’n Christelike regering met Christelike wette!

Alhoewel Calvyn se leer oor die burgerlike owerheid oor dekades in Suid-Afrika gekontekstualiseer is en die neo-Calvinisme van Abraham Kuyper ook ’n groot en leidende rol gespeel het in die totstandkoming van Suid-Afrika se Christelike nasionale regering, blyk die ondertone van Calvyn se leer duidelik.
In die Suid-Afrika van die 1960’s was die stryd tussen ’n Christelik-nasionale regering en ’n “anti-christelike” en “kommunistiese” mag wat die regering met geweld omver wou werp. Mandela was instrumenteel in hierdie stryd. Toe bomme op 16 Desember 1961 by simboliese teikens in Johannesburg, Port Elizabeth en Durban ontplof, was die skrif vir Mandela aan die muur. Pamflette wat versprei is, het aangekondig: “Daar kom ’n tyd in die lewe van enige nasie wanneer slegs twee keuses oorbly: om te veg of te onderwerp. Ons sal ons nie onderwerp nie, maar terugslaan.” Dit het aan die regering die “Godgegewe” mag gegee om homself en die waardes waarvoor hy gestaan het, met mag en mening te verdedig. Mandela was deel van hierdie bose mag wat uitgeroei moes word ten einde die Christelike regering te beskerm! Daarom is hy gevang, veroordeel en het hy tot in 1990 op Robbeneiland in die tronk deurbring.
Sou Calvyn Mandela ook lewenslank tronk toe gestuur het?

Suiwer bekyk deur die lens van Calvyn se leer oor die rol en verantwoordelikheid van die burgerlike owerheid, waarskynlik – ja! Hy was immers ’n teenstander van ’n Christelike regering. Aan die ander kant is dit te betwyfel of Calvyn hom sou blind hou vir die onreg van apartheid. Dit is juis ook Calvyn se teologie wat die motivering was vir gereformeerde gelowiges soos Beyers Naudé om profeties op te staan teen apartheid. Dit was ’n gereformeerde gelowige, FW de Klerk, wat op 2 Februarie 1990 aangekondig het dat Mandela vrygelaat word.

Miskien sou Calvyn eerder na ’n ander oplossing gesoek het, ’n oplossing wat die eer van God voorop gestel het. Sy woorde op sy sterfbed bevestig dit: “God het aan my die mag gegee om te skryf ... maar ek het niks uit haat geskryf nie ... wat ek gedoen het, het ek getrou gedoen omdat ek geglo het dat dit tot eer van God is.” Die eer van God het vir Calvyn voorop gestaan. Miskien, net miskien, sou hierdie soeke na die eer van God Suid-Afrika baie pyn gespaar het!

¢º Prof Johan van der Merwe is dosent in kerkreg en kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

 
Kommentaar
Het Calvyn Mandela Tronk toe g
2009/11/10
Ek is nie seker wat Prof. Van der Merwe vir ons in bg. artikel wil se nie. Ek kan ook nie juis sy vergelyking verstaan nie. Die destydse apartheidsregering het mense teen geweld beskerm, mense is deur bomme dood gemaak. Of dit nou n wettige regering was of nie, hulle moes die mense van die land beskerm.
Calvyn het iemand laat dood maak wat geen gevaar vir niemand was nie, dit was uit haat vir Servetus. Selfs op Calvyn se sterfbed wil hy hom nog steeds veronskuldig deur die woorde soos deur prof. van der Merwe aangehaal. “ wat ek gedoen het, het ek getrou gedoen omdat ek geglo het dat dit tot eer van God is.” Hoe kan dit tot eer van God wees om iemand te vermoor.
- Boeta du Plooy
 
Calvyn sou Mandela verbrand he
2009/11/26
Prof vd Merwe , volgens jou skrywe lyk dit of jy een van die IW ghoeroes op die PU vir CHO was.
Wat is so moeilik om te erken. Calvyn sou beslis vir Mandela verbrand het , en meer brutaal as vir die 34 vroue wat hy as Hekse verklaar het of as vir Servitus.
Calvyn die slagter van Genève wat almal gedwing het om deel van sy elect te wees meer as ‘n verleentheid . Calvyn was ‘n krimineel wat sy wandade uit die Bybel regverdig het , inlyn met die NG Kerk en Doppers se houding teenoor gay’s en vroue. Diskriminasie en afsluiting in die naam van die God van die Bybel is die wagwoord van Calvinisme . Ken jy nie ‘n land soos Suid Afrika waar dit duidelik te sien is nie?
- Jennifer
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.