Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Kerklike Zimbabwe is reeds by ons

Ben du Toit

Ek het onlangs die voorreg gehad van ’n week lange besoek aan Bulawayo, Zimbabwe. Dit was ’n wonderlike, maar ook diep ontstellende ervaring.  ’n Mens verwonder jou oor die mense se geloof en deursettingsvermoë. Jy gaan om te bedien – maar dan word jy bedien. En tussendeur die Sondag-erediens, die tuisbesoeke, die luister na verhale en ervarings van NG lidmate, Hervormde lidmate, maar ook die wel en wee, die versugtinge van ons susters en broers van die CCAP-gemeente (een van ons NG Familiekerke in Zimbabwe)*, raak ’n mens al meer verward oor hoe om die situasie teologies te beoordeel. Die teenstrydighede is somtyds verbysterend.

Ek meen egter dat dit uitermate belangrik vir ons as Christene in Suid-Afrika (en ons kerke) is om vroegtydig hieruit iets te leer, voordat ’n kerklike Zimbabwe ook hier by ons ’n werklikheid word.
 
Teologie van oorlewing
Die totale ekonomiese inploffing van die land, wat baie Zimbabwiërs hulle hele lewensonderhoud laat verloor het; die uitgesproke vyandigheid van die Mugabe-regering teen die wit boere; die skreiende skending van menseregte op haas alle gebiede; die arrogante, vermetele, rassistiese en lewensbedreigende optrede van die plaasbesetters – dit alles het mense outomaties geplaas in ’n oorlewingsmodus. “As ons net kan uithou tot na Mugabe,” is die versugting. Een prominente 80-jarige ouderling het die begeerte uitgespreek dat die Here hom asseblief net moet spaar tot “justice day” as Mugabe weg of dood is.

Dit is, terloops, verstommend hoe mense hulle hoop behou. Hulle ken die potensiaal van hierdie land. Hulle weet wel dat alles nie sommer net weer vinnig sal regkom nie, maar hierdie is hulle land en hulle gaan nêrens heen nie. Dit verras ’n mens regtig hoedat talle mense, na soveel materiële verlies en emosionele trauma, bereid is om dit (hierdie tragedie) agter te laat, as daar net spoedig weer ’n beter bedeling sal aanbreek. Daar is baie voorbeelde van Zimbabwiërs wat, ten spyte van al die terugslae, weer met nuwe inisiatiewe begin en net nie tou opgooi nie.
Wanneer ’n mens na individue (in die NG gemeente) se lewensverhale luister – en na hulle verstaan van God se betrokkenheid by hulle wel en wee – dan is daar ’n redelik duidelike en konstante prentjie sigbaar. Die NG lidmate opereer hoofsaaklik met ’n soort oorlewingsteologie. Gevoed vanuit persoonlike wonderervarings van voorsiening (dit is amper asof daar ’n wedywering is vir die beste stories van Gods voorsiening), vind ’n mens ’n vaste geloof daarin dat God die enigste hoop vir oorlewing onder die moeilikste van omstandighede is.
Dit het ook (ironies genoeg) ongetwyfeld raakpunte met Bevrydingsteologie, in die sin dat mense hulle beroep op God vir die handhawing van reg en geregtigheid – sy onderskraging te midde van onreg en vergryp – heilige protes en weerstand (selfs verset) teen die aantasting van menswaardigheid. Dit word verder versterk deur die sigbare agteruitgang van die land – in alle opsigte. Dit, so word geredeneer, kan tog nie reg wees nie. Dit kan tog nie die goedkeuring van God wegdra, dat sy skepping so vernietig word – mens en dier en aarde so totaal en al met minagting behandel word nie.

Die vlak waarop strukturele korrupsie, diefstal en wanbestuur van die regering en meelopers die land se infrastruktuur totaal en al vernietig het (en nog steeds verlam), werk destruktief in op die psige van almal in die land. Verslaentheid – en op sy beste, gelatenheid – is dikwels al oorlewingsmeganisme. Wat dit nog slegter maak, is die volgehoue kollektiewe woede wat, kwalik bedek onder die oppervlak, die psigologiese profiel van mense uitmaak. “Hoe kan die wêreld niks aan hierdie onreg doen nie?” gaan oor in ’n uitgesproke teologiese vraag: “Hoe kan/wil God eintlik niks aan hierdie toestand doen nie?”

Wonderverhale voed geloof
Dit is dan dat die individuele wonderverhale van uitkoms en versorging (wat natuurlik nie vir almal beskore is/was nie – alhoewel dit nie in hulle teologiese denke verdiskonteer word nie) al is wat die geloof in God in stand hou. Dit wil sê, by diegene wat nog vashou aan God, hulle wat hulle toelê op Bybelstudie, gebed en godsdienstige radio-uitsendings en video’s (waarin dikwels ’n soort volksteologie van vroeër jare aangebied word) as troos. Ook word die ondersteuning wat hulle van die kerk(e) in Suid-Afrika ontvang het – en nog tot ’n groot mate steeds ontvang – gesien as deel van hierdie wonder van God se voorsiening. Daar is dan ook diep dankbaarheid teenoor die NG Kerk en die Hervormde Kerk (Bulawayo-gemeente is nou ’n gekombineerde gemeente van die twee kerke) vir die krities onmisbare rol wat hulle daarin speel. Ons weet ook dat hierdie ondersteuning vanuit die hele NG Kerkfamilie kom, in Suid-Afrika, sowel as die vennootskapskerke in Zimbabwe.

Die Zimbabwiërs is oor die algemeen baie godsdienstig. Oor naweke kom alles tot stilstand en word daar in die talle en talle kerke byeenkomste van een of ander aard gehou – en die materiële ondersteuning aan mekaar vind uiting in talle liefdadigheidsprojekte. Ook hierin word die wonderkarakter van geloof ervaar en versterk: God gee wonderbaarlik uitkoms.

Dit is tog ook opvallend dat hierdie wondergeloof nie (juis) van toepassing gemaak word op die groter lyne van die samelewing nie. Volgens almal gaan niks in Zimbabwe verander terwyl Mugabe nog iets met die land te doen het nie. Die Regering van Nasionale Eenheid is feitlik niks werd nie. Terwyl die wondergeloof in die klein dinge gesien word, is dit asof hierdie geloof nie sover strek om iets aan Mugabe en kie te (kan) doen nie. Mugabe is die duiwel se werk, vir sommige selfs die duiwel self.

Sinisme die keersy van wondergeloof
Sinisme is ’n wesenskenmerk van feitlik alle gesprekke. Dit is ’n paradoks: Terwyl baie mense uitgesproke is oor God se voorsiening, is sommige egter sinies hieroor. Hulle leef met broeiende verbittering – logies gemik teen die regering en sy meelopers, maar somtyds stilswyend teen God. Somtyds ervaar ’n mens geloof en sinisme binne dieselfde persoon.

Binne hierdie konteks is ’n Evangelie van liefde en versoening met die medemens wat nie tot jou “groep” behoort nie (laat staan nog met die vyand), ondenkbaar. Daarom die kenmerkende oorlewingsteologie. ’n Mens moet hier onthou dat die uitgesproke fokus van die (swart) regering teen die wit boere is – en daarmee teen alle wittes, wat simplisties in die regeringsretoriek aangedui word as die koloniste wat die land van die Zimbabwiërs afgevat het.

Rassehaat is ’n realiteit wat op geen manier deur die regering se uitsprake en optrede verdoesel word nie. Dit is te verstane dat dit omgekeerde rassisme sal voed. Lidmate is dus vanselfsprekend baie rasbewus in hulle sosiale denke en lewensbeskouing. 

Die verskynsel dat feitlik alle Afrika-lande suid van die Sahara gekenmerk word deur ekonomiese agteruitgang en ’n gebrek aan ontwikkeling, nog verder vererger deur ’n gebrek aan doeltreffende programme van instandhouding, help uiteraard nie om negatiewe persepsies oor Afrika om te draai nie.

Enige moontlike negatiewe verwysings na die rassistiese bedelings van die verlede, hetsy of dit kolonialisme, imperialisme, apartheid, of selfs Eurosentriese denke en kapitalisme is, hou vanuit hierdie (lidmate se) oogpunt, nie regtig water nie.
Dit is ’n diep ironie en realiteit dat die mees betroubare geldeenheid in Zimbabwe die Amerikaanse Dollar is! Die nuwe rassisme is nie meer aanvaarbaar as die oue nie. ’n Mens kan nie anders nie as om waar te neem dat die rasseverhoudings in die land nie anders (beter) is as dekades gelede nie.

’n Versoenende rol van die kerke beperk
Die moontlike funksionering van ’n kerkfamilie wat hierdie rassegrense transendeer, funksioneer hoegenaamd nie in die godsdienstige bewussyn van Bulawayo se gemeentes nie. ’n Mens wonder of dit elders in die land baie anders kan wees, gegewe die regering se volgehoue teiken van die kommersiële boerderygemeenskap as die voortgesette draers van die onreg van die verlede. Daar is menslik gesproke nie ’n manier dat hierdie voortgesette standpunt van die regering rassistiese denke by lidmate kan verminder nie. 

Dit is wel opvallend dat daar binne die gemeente self (tussen lidmate) geen sigbare rassisme in optrede sigbaar is nie. Mense van alle rasse aanbid en werk saam binne die een gemeente. Ook is die NG Kerk se kerkgebou tot beskikking van ’n groep lidmate van die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ: ons kerk onder Shona-sprekendes) vir byeenkomste gedurende die week. Maar, daar bestaan geen funksionerende verhouding tussen die NG Kerk, die RCZ of die CCAP op plaaslike vlak in Bulawayo nie. Daar is op geen vlak ’n deurlopende bewussyn of kennis van mekaar nie.

Die teologiese/Evangeliese ideaal, dat gesonde verhoudings binne die kerkfamilie die situasie in die land sou kon verbeter, is nie praktiese teologie/politiek nie en word deur niemand as roeping gedra nie. En die vraag is of enige sodanige teologiese ideaal, wat van buite af aan die gemeentes opgedring word, sou kon slaag, as dit nie deur die lidmate, as inwoners van hierdie land, self van binne as roeping gesien en gedryf/gemotiveer/bestuur word nie.
 
En in Suid-Afrika?
Hoe maak ons met hierdie versplinterde kerk, gegewe ons eie worsteling tot eenheid en versoening binne die kerkfamilie in Suid-Afrika? Hoe maak die Here daarmee as Hy bedoel het dat ons ’n verskil sou maak in die wêreld (Matt 5:13-16)?

Die tekens van ’n Teologie van Oorlewing is al reeds oral in ons land sigbaar – presies so met ’n wondergeloof as onderbou. Natuurlik is daar in die Bybel talle verwysings na wonders en tekens wat die vroeë Christelike gemeenskap gekenmerk het. Maar, as hierdie wonders en tekens nie resoneer met die Evangelie van liefde en versoening nie, as dit nie ’n praktyk van Christelike versoening en getuienis tot gevolg het nie, maar hoofsaaklik dien om die eie te beskerm en te dien, dan moet ’n vraagteken geskryf word oor die Christelike karakter van so ’n wondergeloof. Dan moet ’n mens jou bedenkinge uitspreek teenoor ’n verskynsel van ’n oorlewingsteologie wat bloedweinig verskil sou toon met enige ander vinnige, maar vruglose godsdienstige oplewing in die konteks van ellende en vervolging. Is dit dan nog Christelik?

Die groeiende tekens van ’n funksionerende oorlewingsteologie onder ons lidmate, stel groot uitdagings aan die Christelike geloof. Terwyl ons uitgesproke is in ons vrees dat ons land ’n Zimbabwe sal word, is ’n kerklike Zimbabwe reeds in sommige dele van ons land ’n realiteit – tot so ’n mate dat die versoenende rol wat ’n NG Kerkfamilie in plaaslike gemeenskappe sou kon speel, uitermate moeilik geword het.  

- Dr Ben du Toit is redakteur Elektroniese Kommunikasie van die Algemene Sinode.

*CCAP staan vir Church of Central Africa Presbyterian en is deel van ons kerk in Malawi.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.