Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Die NG Kerk se charismatiese monent

’n Paar maande gelede was die evangelis Angus Buchan in Bloemfontein en soos gewoonlik het duisende mense – oorwegend Afrikaners – met hande in die lug gesing, ’n evangelistiese bekeringspreek aangeluister en aan ’n massagebed om geloofsgenesing deelgeneem.

Op ’n perskonferensie ná die tyd was daar weer eens meestal Afrikaanse joernaliste, en tog is die meeste vrae deur ’n Engelssprekende gevra.
Haar oë was wyd gesper. “Wat maak soveel Afrikaners by ’n charismatiese byeenkoms?” wou sy weet. “Moet al dié mense dan nie gereformeerd wees nie?” het haar gesigsuitdrukking bygevoeg. En weet die dominees wat hier aangaan?

Afrikaanse gelowiges weet die charismatiese beweging is allermins nuut en nouliks raar onder hulle volk, maar as ’n mens bietjie rondvra, kom jy soms nog dieselfde vooroordeel as by die Engelse joernalis teë. Baie mense dink grootskeepse charismatiese spiritualiteit is ’n nuwerige verskynsel onder Afrikaners, ’n apostoliese uitvinding of ’n Amerikaanse invoerproduk.

Okkultiese gelowe
Die opvatting dat Afrikaners tradisioneel deur die bank gereformeerd is en was, is egter nie heeltemal histories akkuraat nie.

Daar was nog nooit ’n tyd dat álle Afrikaners hulle geestelike antwoorde in die belydenisskrifte gesoek en min emosie in die erediens getoon het nie. Selfs bínne die NG Kerk was daar nog altyd sterk mededingende spiritualiteite, en soms het dié alternatiewe selfs die botoon gevoer.

Benewens die charismatiese tradisie, het Afrikaners byvoorbeeld ’n ou okkulte­tradisie. Afrikaners se voorsate het in die 1600’s ’n verskeidenheid Europese okkultiese gelowe uit Europa saamgedra. Dié gelowe is mondelings lewend gehou en het later die basis van ’n verskeidenheid plaaslike spook- en sienergelowe gevorm. Ander sterk spiritualiteite onder Afrikaners het ingesluit toorgelowe wat deur Indonesiese ballinge (“Slamse”) hierheen gebring is, moderner tradisies soos die teosofie wat in die Boererepublieke gedy het, en die spiritisme, wat in die 1870’s al in Suid-Afrika opgeduik het, ’n honderd jaar lank landwyd volop was en bekendes soos genl Koos de la Rey, Johanna Brandt, C Louis Leipoldt en TJ Haarhoff onder belangstellendes getel het.
Maar veral een alternatiewe spiritualiteit was prominent: die evangelistiese tradisie.

Tot diep in die 20ste eeu was Gereformeerdheid nie onder Afrikaners vanselfsprekend nie en was sektebestryding een van die NG Kerk se vernaamste bedrywighede.

NG ringverslae uit 1860’s byvoorbeeld is dikwels treurmares – die volk het min in die kerk belanggestel en wanneer hulle die dag met die bonatuurlike wou omgaan, het hulle hulle eerder tot die volop Boeresieners of spookgelowe gewend.

In die Kaap was daar net ’n handvol NG gemeentes.

Te min sitplekke
In die 1860’s het dié kerklouheid egter omgeswaai. Daarvoor bedank baie mense die herlewings wat in die 1860’s op verskeie Bolandse dorpe uitgebreek en tot ’n groot toename in vroomheid gelei het – sodanig dat daar op party dorpe nie meer genoeg sitplek in kerke was nie.

Die laaste weke het dié herlewings weer baie publisiteit gekry – Buchan preek soms daaroor, ’n prominente Gautengse NG gemeente bid dat dit herhaal moet word en die tydskrif Juig! publiseer vandeesmaand ’n artikel van vyf bladsye oor die onderwerp.

Lees ’n mens egter die destydse ooggetuieverslae, sien jy die herlewings was nie sodanig ’n impetus vir groter gereformeerdheid nie, maar eerder ’n proses waardeur mededingende spiritualiteite die NG Kerk binnegesypel en van groter lewenskrag voorsien het. Daar was geen teken van die bedeesde spiritualiteit wat stereotipies aan gereformeerdheid toegedig word nie.

Op party byeenkomste was die godsdiensywer so vurig “dat het scheen of het dak van het huis in beweging kwam”. By ’n ander byeenkoms lees mens: “Velen kermden om hunne zonden, terwijl anderen door de tranen van berouw tot de vreugde der dankbaarheid doorbraken.”

Al die beskrywings laat ’n indruk van ’n raserige, selfs chaotiese aanbiddingstyl wat Calvyn in sy graf sou laat draai.

In Leona Choy se biografie van ds Andrew Murray haal sy ds JC de Vries se beskrywing aan van ’n biduur wat in Murray se Worcester-gemeente plaasgevind het: “Ons het ’n vreemde geluid gehoor, ’n veraf gedreun, wat steeds nader en nader gekom het, totdat dit gevoel het asof die hele saal deur ’n onsigbare hand geskud word. Meteens het almal teenwoordig begin bid, sommiges hardop, ander in fluisterstemme. Dit was ’n oorverdowende lawaai.”
Die geraas en geween was so erg dat Murray self hom daarteen verset het. “Ds Murray het … in die gang afgestap en so hard as wat hy kon uitgeroep: ‘Stil mense! Bedaar, asseblief!’ Maar die gebede het doodeenvoudig voortgegaan ...
“Ds Murray het weer uitgeroep: ‘Mense, ek is julle predikant, van God gestuur. Bly dadelik stil!’ Maar dit was tevergeefs. Niemand het hom eers gehoor nie. Die geraas het voortgeduur ...

“Ds Murray het … gesê ek moet ’n lied laat sing en wel ‘Help de ziel die raadloos schreit’. Ek het, maar die mense het net aanhou bid. Ds Murray was ontsteld en het gesê: ‘God is ’n God van orde en hier is alles in wanorde.’”
Weldra het Murray boedel oorgegee en hom by die nuwe godvrugtigheid geskaar – en sy invloed in die NG Kerk is welbekend.

Een van die bekendste episodes was die Paarlse biduur (daar was “een aanhoudend geroep om genade”) waar ds GWA van der Lingen ’n hemelse visioen gesien het. Die visioen en Van der Lingen se trane op die preekstoel klink amper kenmerkend van ’n apostoliese byeenkoms, maar dit het so ’n vormende rol op die NG spiritualiteit gehad en sou weldra die inspirasie vir die Pinksterbiduurtradisie wees.

Sieners en spoke
Van der Lingen se geestelikheid, moet mens byvoeg, het al van voor die herlewings nie uitsluitlik uit gereformeerdheid geput nie – hy het ook die siener- en spooktradisies van sy volk onderskryf. Ds Piet Huet, vir ’n tyd inwonend in Van der Lingen se pastorie en later ’n berugte spiritis, het opgeteken dat Van der Lingen sterk in spoke geglo het. In die Paarl loop vandag nog volksverhale oor Van der Lingen se heldersiendheid. Dit moes sekerlik ’n rol gespeel het toe hy ook binne die kerk visioene begin sien het.

Soms het die geestelike sinkretisme van dié dekade heeltemal handuit geruk. In 1869, byvoorbeeld, is uit Wellington in De Gereformeerde Kerkbode berig van twee predikante, JFC Derwig en WF Damen, wat Wellington aangedoen het op soek na ’n vrome gemeente, maar daar afgekom het op ’n groep mense “die in dweepziek tot allerlei buitensporigheden was vervallen”. Blykbaar het een van die Wellingtonse gelowiges, ’n vrou, visioene begin sien. Haar ondersteuners het hulle op bidure poedelkaal uitgetrek “dat zij met Christus overkleed kunnen worden”. Boonop het die profetes mense aangemoedig om vrye liefde te beoefen en selfs haar wettige man gelos om met ’n jong man in ontug saam te woon.

Verskeie spiritualiteite
Die herlewings van die 1860’s was dus ’n tyd toe uiteenlopende spiritualiteite hulle stryd om die siel van die NG Kerk verskerp het en op die oog af lyk dit asof ’n charismatiese spiritualiteit (met invloede van volksgelowe oor heldersiendheid) eerder as ’n gereformeerde spiritualiteit die wenner was.
Ortodoksie word altyd terugskouend op die geskiedenis ingeskryf. In die vroegste verlede van enige geestelike tradisie lê daar inderwaarheid ’n pluraliteit van spiritualiteite wat met mekaar meeding eerder as ortodoksie. Dit geld ook vir die Afrikaners se geestelike verlede. Die idee dat Afrikaners in die geskiedenis ooit deur die bank gereformeerd was, is in latere jare op die geskiedenis ingeskryf.

Van die meer buitensporige strome wat in die 1860’s-herlewings kop uitgesteek het, het weldra stil geraak, maar talle mense sal meen dat veral die evangelistiese stroom in die NG Kerk sterk bly loop het (en op populêre vlak selfs oorheers het) en dat dit dié tradisie is wat deur Buchan en die toenemende aantal charismatiese dominees aangespreek word.

Wanneer Afrikanergelowiges deesdae charismaties draai, bedryf hulle dus nie iets volksvreemd wat die laaste 20 jaar ingevoer is nie. Hulle sluit aan by die tradisie wat die NG Kerk in die 1860’s van ’n sukkelende tot dinamiese verband omskep het en deur die jare aan die hart van die kerk se kultuur en identiteit bly sluimer het.

- Johannes de Villiers is ’n redaksielid van Rapport.

 
Kommentaar
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.