Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Dit ís rassisme wat ons uitmekaar hou

Beste broer Anton

Jou meningsartikel in Kerkbode (5 Maart) het my in besonder geïnteresseer. Ek waardeer dit dat jy die saak oor kerkhereniging aan die orde gestel het. Dit bly steeds ’n uiters aktuele saak vir die NG Kerk. Dit is immers die lakmoestoets om as bewys te dien dat die NG Kerk werklik met apartheid weggedoen het.
Jy noem onder meer “die massas NG lidmate wat op kerkhereniging hulle rug gedraai het”. Dit is ’n baie sensitiewe saak omdat die NG Kerk nooit werklik bekend gemaak het wat die uitslag was van hulle ondersoek oor die gemeentes se reaksie op kerkhereniging nie. Waarom is dit nou die eerste keer dat so ’n stelling in skrif verskyn? Dit is immers deel van die oop gesprek waarvoor jy pleit. Dit is so jammer dat die kerkleiding hierdie feit nog altyd verswyg het. Of is ek verkeerd? Het hulle dit miskien wel iewers vermeld?

Jy stel dit dat die VGK die NGK “daarvan verdink dat hy steeds rassisties is”. Ja, jou vermoede is korrek. Maar dit is nie as gevolg van vooroordeel dat die VGK so ’n vermoede het nie. ’n Jaar of twee gelede is ek gevra om ondersoek in te stel na die redes vir die skeuring wat in VGK-gemeentes in die Vrystaat plaasgevind het. Dit was uiters ontstellende verhale wat ek moes aanhoor oor hoe  NG kerkrade die VGK-gemeentes behandel het. In die 14 gemeentes wat ek besoek het, was in al die gemeentes van die VGK die plaaslike NG gemeentes aangewys as medeverantwoordelik vir die skeuring.

Die rol van die NG Kerk ten opsigte van die skeuring is nog nooit op die tafel geplaas vir bespreking nie. Jy was seker in 1994 nog nie betrokke by die NG Kerkleiding nie. In daardie tyd is die VGK op allerlei wyse onder verdenking geplaas, naamlik dat dit ’n kerk is wat om politieke redes uit die “struggle” tot stand gekom het. Dat dit eintlik Allan Boesak was wat die vereniging van die NGK en die NGSK afgedwing het en dat hy vanuit sy bevrydingsteologie die Belhar-belydenis opgestel het.

Ek was destyds aktuarius van die eertydse NGKA, en die enigste wit lid in die moderature van die NGSK en die NGKA. Johan Heyns het as moderator van die NGK in privaat na my gekom en gevra dat ek tog die vereniging van die twee kerke moes probeer verhoed. Sy woorde was: “Daar sal net ’n doodgebore baba daaruit gebore word.” Natuurlik het ek hom ten sterkste aangespreek dat hy so oor die vereniging gedink het.

Die hoofbeswaar by die NG Kerkleiding was dat die NGSK en die NGKA besluit het om te verenig sonder raadpleging en goedkeuring van die “moederkerk”. Dít terwyl die NG Kerk aan hierdie kerke ’n selfstandige status verleen het! Dit het my menige droewige oomblik besorg om te luister hoe my mede-wit broers met die swart broers gepraat het. By geleentheid het ’n swart kerkleier vanuit Botswana vir prof Heyns gesê: “Jy praat met my soos met jou tuinjong. Jy maak ’n groot fout om te dink dat die swart kerk nog in die ‘ja-baas’-fase verkeer.”

Dieselfde het gebeur met Piet Strauss toe hy ’n groeteboodskap van die NG Kerk aan die VGK-sinode in 2008 oorgedra het. En dan gee jy nog te kenne dat die VGK nie rede het om die NGK van rassisme te verdink nie!

Jy stel dit verder dat wanneer die VGK gevra word om “begrip te hê vir die pragmatiese probleme wat die lidmate van die NG Kerk met kerkhereniging het”, is daar geen tegemoetkoming nie. Die gesprek oor eenwording het reeds in 1975 begin. Moet die VGK na 35 jaar se samesprekings nog steeds begrip hê vir dieselfde besware van die NG lidmate? En buitendien is dit sondige besware. Die VGK het ’n profetiese roeping om die NG Kerk uit die gevangeskap van vooroordeel teenoor hulle gekleurde broers en susters te help bevry. En soms bestaan die profetiese roeping daarin dat die VGK die gemeenskap met medegelowiges wat volhard op ’n sondige weg, verbreek. Daarvan getuig die moratorium wat die VGK-sinode in 2008 op samesprekings met die NG Kerk geplaas het.

’n Laaste stelling wat jy maak, is regtig onbillik. Jy vra: “Is daar agter die obsessie oor die kerkhereniging ’n verskuilde motief by lede van die VG Kerk wat hulle hande op die eiendomme of pensioenfondse van die NG Kerk wil lê.” Anton, waar kom jy tog aan so ’n vermoede? Dit is eenvoudig benede die maat van Christelikheid om so ’n vraag te stel. In al die jare wat ek betrokke was by die vorige NGKA, en later by die VGK se kerkleiding, het ek nooit ’n enkele woord gehoor van “hande lê op eiendomme of die pensioenfonds van die NG Kerk” nie. Hoe kan jy so ’n vraag stel? Dit kan net aanleiding gee tot verdere verdagmaking teen die VGK.

Ek dink jy is ’n verskoning daarvoor aan die VGK verskuldig. Jy het daarmee werklik saad van verdagmaking by die lesers van Kerkbode gesaai. Ek weier om te glo dat iemand van jou integriteit so iets kan doen.
Aan die einde van jou artikel doen jy ’n beroep dat ons “uit die donkerte moet kom”. As dit werklik ’n bedoeling uit jou hart is, wees dan gewillig om my brief aan jou in Kerkbode te publiseer.

Ek versoek egter uit my hart dat jy as medebroer in Christus sal wys waarin ek verkeerd is in my beoordeling van jou artikel. Ons is as medegelowiges in Christus dit aan mekaar verskuldig om mekaar tereg te wys oor wat nie volgens die Evangelie van geregtigheid en vrede is nie. Kom ons kom uit die donkerte uit deur “die mense wat saak maak, deel van die gesprek te maak”. 

Jou broer in Christus,
Nico Smith.

NS. Ek sien aan die einde van jou redaksionele artikel die teks uit Spreuke 10:10: “Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart ...” Miskien het dit juis betrekking op hierdie gesprek oor kerkhereniging.

------oOo------

ANTON ANTWOORD SOOS VOLG:

Is dit onbillik om te vra vir vriendskap?

Beste Oom Nico

Dankie vir u brief. Ek weet dat dit uit u hart kom.

Ek is eerlik as ek sê ek weet nie wat die verskillende kerke se probleme met mekaar in die gesprek oor eenheid is nie. Dit was my “vermoedens” wat ek neergeskryf het. Vermoedens wat nou al persepies is. Ongelukkig is dit geluide wat ek nog steeds in die wandelgange hoor. Ek het nooit dit wat ek geskryf het, op enige vergadering gehoor of ’n dokument van die kerk gelees nie. Indien ek iemand te na gekom het, vra ek weer om verskoning. Soos ek dit byvoorbaat gedoen het in die rubriek van 5 Maart.

Daarom is ek bly dat u gereageer het. Miskien kan meer mense tot die gesprek toetree. Dankie dat u vir ons ook inligting gee oor gesprekke en gebeure van die verlede. Ek, en baie ander lidmate, het niks daarvan geweet nie.

Miskien weet u dit nie, maar in die sewentigerjare het ek myself baie blootgestel omdat ek ’n vurige voorstander van kerkeenheid in die NG Kerkfamilie was. My vraag was altyd: Hoe kon ons dit ooit regverdig om ’n traktaatjie vir iemand te gee en sê, word ’n Christen, maar moet dit net nie naby my wees nie.
Ek is steeds ’n voorstander van eenheid in die NG Kerkfamilie. Maar nie meer omdat ek deur die Bybel daartoe gedring word nie. Persoonlik dink ek die sogenaamde eenwordingstekste in die Bybel kan nie hermeneuties gebruik word om Christene in 2010 te verplig om struktureel een kerk te wees nie. Vir my is die historiese ontstaan van die NG familie die oortuigendste en geloofwaardigste rede. Die NG Kerkfamilie het een geboorte gehad. Dieselfde unieke Suid-Afrikaanse gereformeerdheid loop in ons are. Die manier hoe ons die Bybel lees, die formuliere wat ons gebruik, die manier waarop ons is. Ons het dieselfde hart.

Waarom sukkel ek skielik dan na 30 jaar met kerkhereniging? Waarom het ek huiwerig geword?

Daar het baie water in die see geloop sedert 1982. Die bevryding van alle Suid-Afrikaners het deur politieke verandering gekom. Die sosio-politieke omgewing het verander. En net so het die kerke ook verander. En dit is juis dié veranderinge wat steeds aan ’t gebeur is om my, wat voortdurend my gedagtegang verander.

Die NG Kerk is nie meer ’n apartheidskerk nie. Die kerk is oop en verwelkom enige mens wat graag ’n lidmaat wil word. Dit gebeur ook so.

Om te sê dat die NG Kerk nog rassisties is, is nie my gewaarwording nie. Miskien is dit die saak waaroor ons nog baie moet praat. My ervaring van die NG Kerk is dat die kerk rassisme agtergelaat het, en dat die kerk spyt is oor sy onderskrywing van die rassisties gebaseerde politieke bestel van apartheid.
Dat daar nog rassiste in die NG Kerk is, en in die VG Kerk, kan ons nie ontken nie. Maar dit maak mos nie dat die kerke as instellings rassisties is nie? En as rassisme by tye op plekke deurslaan, moet ons dit met sensitiwiteit hanteer. Ons weet mos dit is iets wat nog vlak lê in ons geskiedenis. Dit gaan ’n tyd neem voor dit heeltemal gewyk het.

Oom Nico, u is ’n wyse mens met baie ervaring wat orals respek afdwing. As jonger kollega sou ek graag deur u, aan medegelowiges in die VG Kerk wou vra:

Is dit onbillik om te vra dat ons eers net ’n eenheid vorm waarbinne ons mekaar kan leer ken en vertrou, sonder dat iemand bedreig voel? Ons moet mekaar se teologie leer ken, en elkeen se praktyk van gemeente-wees. Ons sal moet leer om gemaklik te word met mekaar. Ons is soos familie wat mekaar vir jare lank wantrou en ons weet nie hoe om dit te hanteer nie. Ons moet soek na ’n eenheid wat vir almal waardig en werkbaar is.

Is dit onbillik om te vra dat die VG Kerk sy onverbiddelikheid laat skiet, en dat die familie net vir ’n tyd lank minstens soos goeie vriende saamleef?
Is dit onredelik om te vra dat daar ’n sensitiwiteit sal wees vir die bedreigheid wat Afrikaanssprekendes in die NG Kerk ervaar oor hulle taal en identiteit, sonder dat dit as rassisme gesien word? Is dit onbillik van die NG Kerk om te vra dat sy predikante opgelei word in die taal wat sy ongeveer 1,2 miljoen lidmate praat?

Ek verseker u van my broederskap met, en liefde vir elke lidmaat in die NG familie!

Anton Pienaar

 
Kommentaar
Belhar teenkanting = rasisme?
2010/04/19
Ek volg die gesprek rondom kerkhereniging al vir baie jare en as lidmaat van die NG Kerk vir byna 50 jaar stuit Nico Smith se stelling dat rassisme ons uitmekaar hou, my totaal teen die bors.

Rasisme speel heel waarskynlik 'n groot rol in die aanvaarding van die Belhar belydenis/kerkhereniging maar of dit al rede is twyfel ek sterk.

Vandat ek die eenwordings proses volg, was die VGK onwrikbaar in sy houding jeens die aanvaarding van die Belhar Belydenis en dit is net hier waar eenwording my stem verloor het.

'n Mens gaan tog nie na die onderhandelingstafel onder die dekmantel van broederliefde met 'n houding van my-voorwaardes-of-niks nie. Myns insiens sou eenwording lankal reeds plaas gevind het, of ons sou baie nader aanmekaar gewees het, het die VGK na die onderhandelingstafel gekom met 'n meer versoenende houding.

Eenwording, die voortbestaan van Christus se kerk en die verkondiging van God se woord is tog sekerlik van groter belang as 'n belydenis - dit gesê, wil ek hiermee geensins afbreuk maak aan die belangrikheid van die Belhar Belydenis vir die VGK nie.

Die aanvaarding van die Belhar Belydenis sou na eenwording, nadat ons mekaar leer vertrou het en groter begrip vir mekaar se opinies ontwikkel het, veel eerder gebeur het.

Vir die rekord, ek het geen probleem met die inhoud van die Belhar Belydenis nie en sal dit met liefde aanvaar.

Nou meer as ooit tevore het Suid Afrika nodig dat Christene mekaar vind om sodoende aan die wêreld 'n beter alternatief te bied.



- Willie Kemp
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.