Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Saambly & egskeiding: Is mans wat wil heers die probleem?

’n Groot rede waarom saamwoon vir baie vroue ’n uitkoms geword het, is omdat mans hulle voorkeurposisie in die huwelik nie wil prysgee nie. Vroue wil uitkomkans hê as manne die outydse patriargale rang wil trek. Christo de Klerk is ’n ervare berader en verduidelik hoe hy dit waarneem.

Patriargie beteken “regering deur die man”. Die kultuur waarin die Bybel tot stand gekom het en die kultuur waarin die Bybel vir amper twee duisend jaar interpreteer is, was ’n patriargale kultuur. Dit beteken dat dit aanvaar is dat mans se ervaring, emosies en insig meer waarde het as dié van vroue. Vroue is beskou as minderwaardig. Hulle groot “roeping” is om aan mans onderdanig te wees en mans te dien.

Vir baie eeue was die enigste manier hoe ’n huwelik ingerig is, patriargaal. Daar was duidelik sosiale “rolle” vir die man en vrou afgebaken. Die man is die broodwinner, die vrou die versorger. Die man versorg materieel, die vrou emosioneel. Die man se “terrein” is buite die huis (en kombuis), die vrou s’n binne die huis (en kombuis en babakamer). Die huwelik was ’n instelling met ’n duidelike rangorde: Die man was die “hoof” van die vrou, en die vrou onderdanig aan die man.

Die patriargale huwelik en samelewing is goed vir mans, sleg vir vroue. In ’n patriargale samelewing is mans se woord wet. Mans moet ten alle koste tevrede gehou word. Mans het status. Daarom het mans ook gevestigde belange om die patriargale huwelik ten alle koste in stand te hou. Een van die maniere om die patriargale huwelik in stand te hou is om hierdie huwelik te beskou as “God se wil”, en nie as ’n kulturele verskynsel nie (wat dit inderdaad is).

Sedert die sestigerjare van die vorige eeu het die status van die vrou in die samelewing verander. Meer vroue het loopbane begin navolg. Vroue het bewus geword van hulle eie waarde as beelddraers van God in eie reg. Hulle kon al meer hulle stem laat hoor in die werkplek en wil ook graag “gehoor” word in die huis.

Vir sommige mans is hierdie verskuiwing in vroue se status baie moeilik om te aanvaar. Hulle wil nog steeds, soos in die “ou dae”, heers. Hulle verwag steeds van die vrou onderdanigheid, dink steeds vroue is minderwaardig (en behandel hulle so). Ten alle koste wil sommige mans vandag die patriargale huwelik in stand hou. Dit is duidelik dat die tafel vir konflik gedek is: tussen mans wat die patriargale huwelik in stand wil hou en vroue wat bevry wil wees van minderwaardigheid, vernedering, oorheersing, miskenning (van hulle idees, emosies, talente). Dit is iets wat dikwels met die patriargale huwelik gepaardgaan.

Die gevolg van hierdie konflik tussen mans wat die patriargale huwelik in stand wil hou en vroue wat nie meer oorheers wil word nie, speel elke dag wêreldwyd in egskeidingshowe af. Mans wat ten alle koste patriargale huwelike in stand wil hou, is een van die grootste oorsake van egskeidings.

Wêreldwyd is die statistiek in Westerse lande dieselfde: Sowat 70% van die huweliksmaats wat die inisiatief neem om te skei, is vroue. Dit beteken nie dat vroue in die meerderheid van gevalle die “skuldige” een in die huwelik is nie, wel dat vroue in die groter meerderheid van gevalle die ontevrede een in die huwelik is.

Een van die maniere hoe hulle uitdrukking gee aan hulle ontevredenheid oor die oorheersing van die man, is om te dagvaar vir egskeiding. Dit beteken ook dat mans dikwels hulle brood aan albei kante gebotter wil hê: Hulle wil die voordeel hê van die huwelik en gesin, maar ook “een van die manne” wees wat saam kan kuier, selfs kan rondloop, sonder om verantwoordelikhede tuis na te kom. Daarom neem min mans die inisiatief in egskeidings.

Daarom ook dat baie vroue kies om nie te trou nie. Navorsing het getoon dat vroue wat saambly voel hulle “bou voortdurend” aan die “huwelikshuis”. In ’n saamblyverhouding is daar geen patriargale gemaksone nie. Respek, romanse en voortdurende onderhandeling oor verantwoordelikhede hou nooit op nie. Daarteenoor is die patriargale huwelik ’n klaargeboude huis waarin ’n mens intrek. Met baie meubels in die huis waarteen vroue hulle vasloop.

Die geweldige teenkanting in die patriargale samelewing en die patriargale kerk teen saambly en egskeiding is vir vroue wat aan die ontvangkant van patriargie staan, ’n poging om manlike oorheersing in stand te hou en om vroue onderdanig te hou.

Een voorbeeld van patriargale eksegese word vlugtig genoem. In Markus 10: 1-12 word Jesus se gesprek oor egskeiding gevind. Almal weet hoe skerp egskeiding deur Jesus veroordeel word. Die teks word dikwels gebruik om vir mense wat in ongelukkige huwelike vasgevang is, te vertel hoe ’n groot sonde egskeiding is. Die gedeelte is deel van ’n groter geheel waar Jesus verskeie sondes aan die kaak stel: 9:33-37: hoogmoed, 9:38-41: partyskappe, 10:17-31: materialisme.

Die deel oor die sondes word omraam deur Jesus se tweede en derde lydingsaankondigings (9:30-32 en 10:32-34). Amper reg in die middel vind ons die verhaal van Jesus wat die kinders seën. Die boodskap is duidelik: Jesus het baie en hoë ideale vir ons (ons huwelik, ons finansies, die gemeenskap van gelowiges). Ons stel Jesus op baie maniere teleur. Tog ly Hy plaasvervangend vir al ons sonde en omhels ons soos Hy die kinders omhels.

Dit is vreemd dat daar steeds groot opgewondenheid is oor die sonde van egskeiding, maar dat die sonde van materialisme, partyskappe en hoogmoed selde ter sprake kom. Is dit dalk omdat laasgenoemde meer “manlike” sondes is en eersgenoemde ’n meer “vroulike” sonde?

Indien die NG Kerk wil saampraat oor saambly, die huwelik en egskeiding, sal die kerk ook eers ’n duidelik standpunt moet formuleer oor patriargie. Eers wanneer die kerk sy patriargale verlede afskud, sal die kerk dalk ’n geloofwaardige woord oor dié belangrike sake kan sê. Patriargie sal net so skerp veroordeel moet word as wat apartheid veroordeel is. Die slagoffers van patriargie sal ook om vergifnis gevra moet word. Want net soos die kerk apartheid goedgekeur en help in stand hou het, het die kerk patriargie Bybels geregverdig en in stand gehou. Net soos apartheid, veroorsaak patriargie onnoembare leed.

- Ds Christo de Klerk is ’n pastorale berader en tentmakerleraar van die NG Gemeente Monumentpark-Wes.

 
Kommentaar
Saambly en egskeiding
2010/03/05
Ds de Klerk,
Geluk met hierdie ewewigtige en eerlike verslagdoening oor die huwelik in ons moderne samelewing. Werklik verfrissend om 'n bydrae uit kerk geledere te sien wat hierdie onderwerp aanspreek sonder om "doekies om te draai". Ons mans het duidelik nog baie om te leer. - Malherbe
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.