Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Verdraaide kinders se hart swyg nie

Kerkbode het onlangs dié onstuimige en ontstellende briefie ontvang. Dit wat met Anoniem gebeur het, gebeur waarskynlik met baie ander ook. Ons het vir Gert Pretorius, ’n sielkundige, gevra om iets te vertel van wat in die hart van gemolesteerde kinders gebeur. En Adri-Louise van Renen, redakteur van LIG, vertel van die boek Thula Thula, wat oor dieselfde onderwerp handel.

Ek skryf die brief anoniem. Dalk kan julle die brief plaas om pa’s se oë oop te maak. My pa is ’n afgetrede PREDIKANT. Hy het my betas, in die badkamer ingekom as ek bad en my bekyk. Ek moes hom betas, en hy het homself ontbloot aan my, van my hoërskooldae tot net voor ek getroud is. Ek het my man voor ons troue daarvan vertel, want ek het nie geweet hoe ek sou voel en reageer na ons troue nie, of ek sou wou toelaat dat hy my liefkoos nie. Verder weet niemand daarvan nie. My broer kan nie verstaan nie en weet nie hoekom ek koud teenoor my pa staan nie.

Ek is nou amper sestig en dit het nog steeds amper daagliks ’n invloed op my lewe. Pa’s weet nie wat hulle aan hulle kinders doen nie!

Gert Pretorius

Iemand soos Anoniem het waarskynlik nie voorheen oor haar molestering gepraat nie omdat sy direk of indirek van die molesteerder of die gemeenskap ’n sterk boodskap gekry het om dit nie te doen nie.

Die enkele woord wat deesdae opval wanneer oor dié saak gepraat word, is: thula. Wees stil, moenie huil nie, moet niks sê nie.

Dit is asof stukke van die slagoffers se ontwikkeling gevries word as hulle gemolesteer word. Hulle bewaar hulle aaklige geheim met vrees en voortdurende spanning. En diep in hulle gemoed bly hulle kwaad vir die oortreder. Sommige mag skaam en skuldig voel weens ’n kinderlike aanvoeling dat die dade verkeerd is. Ander swyg omdat hulle bang is vir verwerping of gedreig is dat bekendmaking lelike gevolge sal hê. Baie gemolesteerde kinders twyfel ernstig of hulle geglo gaan word as hulle ’n volwassene, en veral ’n invloedryke persoon sou verkla.

Maar terwyl hulle mond stil is, galop hulle emosies.

Verraai voel soos weggesmyt
Gemolesteerde kinders voel magteloos, gebruik en verraai, gestroop van dit waarop hulle staatgemaak het. Waar ’n ouer of versorger die molesteerder is, doen hy of sy nie die werk van ’n mammahen wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm nie. Inteendeel, dit is asof die ouer so ’n kind se beskermende skild wegneem en dan nog boonop ook die seermaakhoue uitdeel.

In plaas van veilig voel en behoort, voel ’n gemolesteerde kind weggesmyt. Dit is ’n erger skok as wanneer iemand nie vir jou omgee nie of jou ignoreer. Wat jy gedink het die waarheid is, word verkeerd bewys. Dit skud jou geloof in baie dinge waarvan jy eers seker was, ook in jou eie vermoëns, jou waarde as mens en jou vertroue in jouself.

Hoe langer hoe erger
Molestering wat oor ’n lang tydperk aanhou, en vir die slagoffer liggaamlik en emosioneel erg is, doen die meeste skade. Hierdie slagoffers kan dieselfde simptome ontwikkel as mense wat ernstig getraumatiseer is.
Sommige slagoffers herleef elke keer die oorspronklike voorvalle wanneer iets hulle daaraan herinner. Gevolglik is hulle besonder wantrouig teenoor ander mense, uiters waaksaam en vermy hulle situasies wat enigsins ooreenstem met dit wat tevore gebeur het.

Ander slagoffers se reaksies is weer die teenoorgestelde van vermyding: Hulle herhaal doelbewus dade soos dié van voorheen. Hulle soek die soort opwinding, beloning of plesier wat met die molestering gepaard gegaan het. Sulke persone kan hulleself aan gevaarlike risiko’s blootstel en obsessies ontwikkel.

Baie slagoffers leef met skaamte, minderwaardigheid en selfs selfhaat. Sterk negatiewe gevoelens soos eensaamheid, selfverwyt en bedruktheid beroof hulle van lewensvreugde. Hulle moet dikwels vir ernstige gemoedsversteurings behandel word.

Die versorging en stukkies liefde wat ’n gemolesteerde kind óók van die ouer ontvang, versteur die kind se verhouding met die ouer en ander mense. Sulke slagoffers soek dikwels in die toekoms steeds liefde of aandag by mense wat onbetroubaar is en vir hulle skadelik is.

Molesteerders het baie invalshoeke
Anoniem skryf haar brief om te pleit dat pa’s soos hare moet besef watter skade hulle doen. Dit wys ook hoe molesteerders hulle slagoffers se swakker posisie of behoeftes uitbuit.

’n Pa wat sy kind molesteer, buit sy mag of gesag uit. Die kind is sy mindere. ’n Pa, meer as ’n ma, is in baie gesinne die strenger een wat gesag en reëls moet afdwing of straf uitdeel. ’n Kind wat van jongs af geleer is om haar ouers se gesag te aanvaar, sal nie terugpraat of hulle teëgaan nie, en kan haarself baie moeilik handhaaf in die soort gebeure wat in Anoniem se badkamer plaasgevind het.

’n Molesteerder wat verleiding gebruik om ’n kind te oorreed om sy wense uit te voer, buit kinders se behoefte aan liefde, aandag en opwinding uit deur beloftes te maak.

Wat hy vir sy slagoffers vertel, klink só goed of het te doen met iets wat hulle só graag wil hê, dat hulle gewillig is om die feite en hulle eie gesonde verstand te ignoreer en te waag.

Vrees en dreigemente word gebruik om iemand te keer wat dit oorweeg om inligting bekend te maak. Dit kan ook met sluheid en verleiding gekombineer word, soos wanneer ’n pa byvoorbeeld in die mooiste woorde verduidelik hoe sleg die kind se ma hom behandel. So ’n kind kan die rol van helper begin speel en skuldig voel as sy nie help om haar ongelukkige pa te troos nie. Op dié manier word die kind se oordeelsvermoë verswak.

Die emosionele band wat tussen mense bestaan asook hulle goedhartigheid kan uitgebuit word. Waar iemand ’n morele verpligting het teenoor ’n persoon wat vir hom ’n groot guns gedoen het of ’n bepaalde rekening betaal het, verg dit baie moed om weerstand te bied teen so iemand se seksuele of ander eise, of om dit te rapporteer.

In die behandeling van slagoffers van seksuele oortredings word gevind dat die uitbuiting van mense se geloof en geestelike afhanklikheid groter gevolge het as die genoemde ander soorte misbruik.

Mense kyk normaalweg op na ’n geestelike leier. Waar so ’n persoon die oortreder is, bring dit meer vrae as in die geval van ouer-kind-molestering. Slagoffers se geestelike groei haak vas by die fase waar hulle was toe dié seksuele oortredings begaan is. Hulle vertroue in God word geknou en as so ’n slagoffer glad nie oor geloof of vergifnis wil praat nie, word terapie belemmer.

Daar is hoop
Slagoffers kan nie die verlede verander nie. Met harde werk kan die gevolge van wat gebeur het, wel verander word. Om emosionele seerkry te verwerk beteken nie dat ’n slagoffer die gebeure moet vergeet nie. Die pad van herstel is ’n grondpaadjie, waarlangs ’n mens leer om te aanvaar en weer die betekenis van jou eie lewe en verlede opnuut te ontdek.
¢º Dr Gert Pretorius is verbonde aan die Promed-Kinder-en-Gesinseenheid in Durbanville. Hy kan gekontak word by 021 975 2230.

Almal weet. Almal sjuut

Adri-Louise van Renen

Ek sal nie maklik ’n fliek met ’n ouderdomsbeperking van 18 gaan kyk nie. Veral nie as daardie gradering iets met geweld te doen het nie. Ter wille van myself, maar ook omdat ek nie die fliekgangers weerskante van my – bekend en onbekend – se spanningsvlakke verder wil verhoog met my krampagtige lyftaal nie.

Maar toe Thula-thula – Gertruida Strydom se gruverhaal – in my hand kom lê, was dit asof sy self voor my staan. Ek wou sin probeer maak uit haar lewe van kastyding en stilswye – die ouderdomsbeperking van 18 ten spyt. Ek wou die pad saam met die kleutertjie, die dogtertjie, die tiener en uiteindelik die jongvrou stap – in die hoop dat daar êrens vir haar lig sou deurbreek; dat Kiepersolkloof, haar geboorteplek én haar hel, tog uiteindelik soos ’n groot sambreel oor haar sal oopvou en vir haar ’n tuiskomplek sou wees. Sodat sy nie meer – met haar .22 as beskerming – in haar klip“huis” in die berg hoef weg te kruip vir pa Abel en sy “salf” nie. En vir die stilswye van ma Susarah en haar grootword-maat en haar abba-ma. Want hulle almal het gewéét – en ’n hele paar ander het vermoed – maar gesjuut.

As net een omgee-mens in Gertruida se leefwêreld gepraat het; vir iemand gesê het ... Maar as is verbrande hout. Soos Kiepersolkloof se (kosbare) huisraad en onthougoed wat uitgesmyt en uitgebrand word wanneer die 26 jarige Gertruida die pyn en woede van 22 jaar se molestering en verkragting in vier dae uitskreeu.

Kiepersolkloof se swye strek veel verder terug as Gertruida se 22 jaar van hel waarin Abel haar nag vir nag in die maanlig laat dans het en haar lyf gesteel het. Dit was reeds daar toe Abel sonder sy ma, wat deur die gif van ’n rinkhals gedood is, moes grootword; toe hy nie ’n sitplek kon kry op “’n sterke regop stoel in sy papa se hart” nie; toe hy as linkshandige seuntjie moes hoor hy is “onnooslik”. Toe hy sy bed natgemaak het oor die bang vir sy pa wat hom sonder ophou met woorde en plathand geklap het. Toe sy pa vir Imfenana, Abel se troetelbobbejaan, sy “broertjie”, voor sy oë doodgeskiet het en Mama Thandeka met die geweer dreig wanneer sy hom teëgaan. Sodat sy vir Abel grootgemaak het en getroos en versorg het, maar stilgebly het oor die onreg. Terwyl sy weet “’n man huil deur sy spies”. En hy “slyp hom oralster waar hy iets sien wat soos ’n slypsteen lyk”.

Wanneer Gertuida haar bed natmaak, wéét Mama Thandeka ... maar waar sal sy en Samuel en Mabel beland as sy praat? Sy het immers haar eie geheim.
Swye het ook saam met Susarah op die plaas aangekom. Haar tweelingsuster – wat selfmoord pleeg – is deur hulle pa gemolesteer. En sy dan? Is dit die swye wat sy kleintyd aangeleer het wat haar nou ook agter diggetrekte gordyne laat wegkruip met net die hartseer oor haar enigste seun se vroeë dood as geselskap?

Ja, almal weet. Maar almal het iets om weg te steek of iemand om te beskerm. Ook Gertruida. En só betaal al Kiepersolkloof se mense ’n duur prys vir hulle stilswye. Gertruida die meeste van almal.

En tog kon sy nog droom en hoop. Oor ’n lewe sonder woede en Frankryk en Braham Fourie en ’n nag se slaap sonder dat die deurknop van haar slaapkamerdeur draai ... Sy kon (uiteindelik) selfs ja sê vir ’n man se vriendskap. Maar heelword sal sy nooit.

Sendiya vuma, Sendiya vuma, Somandla ... Stuur ons Here, stuur ons Here, in u Naam ...
Laat ons die stilswye verbreek!

Thula-thula deur Annelie Botes word uitgegee deur Tafelberg en kos R169,00. Ouderdomsbeperking: 18.

Drie Kerkbode-lesers kan elk ’n kopie van Thula-thula met die komplimente van Tafelberg ontvang. Stuur jou naam, adres, selnommer en e-pos-adres voor 5 Maart 2010 na Thula-thula, Kerkbode, Privaatsak X5, Wellington 7654 of kerkbodewedstryd@tydskrifte.co.za – merk die onderwerplyn: Thula-thula.

 
Kommentaar
Kindermolestering
2010/02/23
In Dan Brown se boek, The Da Vinci Code, is daar 'n karakter, 'n senior Franse polisieman, wat "the Bull" genoem word. In die boek sê die hy dat 'n priester [lees ook sommer predikant, pastoor, non, ens] wat 'n kind molesteer twee keer gehang moet word - een keer vir wat hy die kind aandoen, en nog 'n keer vir wat hy die kerk aandoen.

Ek kan dit nie beter stel nie. Daar is nie 'n meer afskuwelike misdaad as kindermolestering nie!

Jan H Stander
Mondeor.
- Jan H Stander
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.