Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 10 Maart 2010

Oom Cyril giggel aanmekaar giegie hy sê dis nou tipies van julius-die-slimme wat nie eens houtwerk kan deurkom nie NOU dop hy nog sy leefstyl oudit ook. Oom Cyril sê as daardie twee duur kaartehuise ewe kontant inmekaar tuimel sal hý wat oom Cyril is darem nie omgee vir daai horlosie nie, my maa sê don’t count your chickens klein julius het vriende in die laagste plekke buitendien is die range rover effens meer na háár sin noudat ons tazz net deur wondergom & geloof & vislyn aanmekaar gehou word. En die pedale haak al vir jáááre vas die oom van die toyotagarage sê ons vat ’n vet kans HY maak nie sulke ou modelle gratis reg nie.

Ag ja! sug my maa die vet kansvatters kom mos met alles weg maar dit lyk vir my hulle eet al hulle winste op. Jip! sug oom Cyril die mediese fondse gaan die laaste lag, ek wens die koerante wat so in eskom se winste en polokwane se tenders grawe wil ’n leefstyl oudit doen van almal wat voordeel trek uit mediese dienste DAN gaan jy fat cats met skerp rooi naels hoor miaau.

Weet doomnie dalk wat staan als in ons kerk se geheime brief aan ou vaderjacob? Gideon sê sy pa sê húlle kerk sal NOOIT so ’n brief skryf nie halleluja hulle sal net vir hom ’n fotostaat van oorlede johannes se openbaring stuur dat iemand vir hom kan voorlees van die laaste dae & die dier met die sewe stortkoppe.

Maar doomnie hoef nie bang te wees dat ons sal loer wat daar in ons kerk se brief geskrywe staan nie DAARVOOR is ons te goed opgevoed én te verwonderd oor die ooms wat in die geheim alweer en nog steeds en soos altyd namens ons ander van beter weet.

Nee ons sal maar kyk hoe die bobbejane wat agter die bult gaan haal is & die katte wat in die duiwehok losgelaat is mekaar dikbek sit en aangluur EN hoe die storms in die teologiese teekoppies & die uitgebraaide kierankies verveeld geïgnoreer word. Doomnie weet mos deesdae gee ons mense régtig nie meer om oor gevegte teen kreasioniste en ander windmeulens nie hulle sit en wag eerder op ’n kaptein. Maar ons hou nie ons asems op nie ONS sit maar en neurie die lydensliedere hier in die agterste bank, ek en my maa.

 
Uit die agterste bank Argief
I N ..L G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.