Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Vrystaat-welsyn wen eerste rondte in die hof

BLOEMFONTEIN. – Welsynsorganisasies in die Vrystaat kon voorlopig daarin slaag om die verdere verval van welsynsdienste in die provinsie, met behulp van ’n hofbevel, te stuit. 

Dit volg nadat ’n groep welsynsorganisasies in die provinsie hulle vir die eerste keer in die land se regsgeskiedenis tot die Hooggeregshof gewend het om te keer dat behoeftige kinders vir die wolwe gegooi word.

Nie een van die reeks regsargumente wat die staat in hulle teenaansoek gevoer het, kon in die hof water hou nie. Dit is in totaliteit deur die hof ter syde gestel.
Ds Willem Botha, hoofdirekteur NG Maatskaplike Dienste, sê hy is doodtevrede dat die hof nou hierdie aangeleentheid op sy inherente meriete sal kan beoordeel en dat hulle genoeg inligting voor die hof sal plaas vir die doel.

Die Staat is deur die bevel van die hof verplig om teen 9 Junie 2010 hulle opponerende verklaring teen die hoofaansoek te liasseer. Die datum vir die aanhoor van die hoofaansoek is vasgestel vir 24 Junie 2010.

Ds Botha sê die jongste bevel deur die hof beteken dat al die grondwetlike, administratiewe, finansiële en ander aspekte waaroor hulle vir dekades in die welsyn kla, nou as ’n saak van dringendheid deur die hof aangehoor sal word. “Word die regsverligting wat ons vra toegestaan, sal dit die prentjie ten opsigte van welsynsdienslewering, veral wat NGO’s betref, ingrypend in ons guns verander,” het ds Botha gesê.

Ds Botha sê verskeie netwerke soortgelyk aan die Nasionale Assosiasie van Welsynsorganisasies en Nie-regeringsorganisasies (Nawongo) het hulle reeds genader om hulle hulp en ondersteuning aan te bied. Nawongo is die land se grootste oorkoepelende liggaam vir welsynsorganisasies. Ds Botha sê Nawongo is besig om sy stempel deeglik af te druk op die toekoms van welsynsdienslewering.
jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.