Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Genesis en Eksodus laat Kerkbode se webwerf vou

WELLINGTON. – Die vraag of Genesis en Eksodus historiese gebeurtenisse is en of dit “singewende mites” is, soos wat onder andere die filosoof prof Willie Esterhuyse aanvoer, het baie belangstelling uitgelok op Kerkbode se webwerf.
’n Ongekende hoë getal mense het aan ’n stemming hieroor op www.kerkbode.co.za deelgeneem.

Kerkbode se webwerfbediener kon in een stadium nie al die besoekers gelyk akkommodeer nie. Weens die hoë verkeer was die webwerf vir die eerste keer in sy geskiedenis by tye ontoeganklik vir besoekers. Die stemmery het aan die begin redelik gelykop verloop met diegene wat nie glo Genesis en Eksodus is historiese verhale nie in die meerderheid. Daarna het diegene wat glo die twee Bybelboeke is wel historiese dokumente, ’n voorspring opgebou. Dit was egter van korte duur.

Die stemmery het soos ’n veldbrand in die kuberruim versprei nadat ’n Amerikaanse webwerf daaroor berig het. Letterlik duisende mense wat nie glo in die historisiteit van Genesis en Eksodus nie, het op Kerkbode se webwerf toegesak. Byna 26 000 mense het aan die peiling deelgeneem. Daarvan het 99% aangedui hulle stem saam met prof Esterhuyse dat Genesis en Eksodus nie historiese verhale is nie. Slegs ’n rapsie meer as 100 besoekers (1%) was van mening dat die twee Bybelboeke wel historiese gebeure is wat werklik plaasgevind het.

Sowat 100 deelnemers het gesê hulle weet nie meer wat in die Bybel waar is en wat nie. Aangesien besoekers van regoor die wêreld en van verskillende geloofsoortuigings aan die stemmery kon deelneem, kan die uitslag nie noodwendig beskou word as ’n getroue beeld oor hoe NG lidmate daaroor voel nie.
–  jean@tydskrifte.co.za  


Kommentaar:

Genesis en Eksodus
2010/06/07
Dit is jammer dat geleerde mense verwarring skep oor die Bybel terwyl God dit bedoel het as 'n ewige Waarheid waardeur twyfelaars soos Prof. Willie Esterhuyse sekerheid kan kry. Wie na die onsin luister wat Prof. Esterhuyse kwytraak wil ek as 'n eenvoudige gelowige net daarop wys dat Jesus in Johannes 17:17 bid dat sy kinders deur die waarheid geheilig moet word. Dan sê Jesus self: "U woord is die waarheid" Dat Jesus self die Bybel as die waarheid beskou laat dus geen twyfel nie. Dat 'n geleerde man dit nie kan raaksien en beleef nie, is natuurlik niks ongewoon nie. Jesus het tog self gesê dat baie dinge vir geleerdes onverstaanbaar sal bly. As gelowige weet ons dat die Bybel die waarheid is, maar ons weet ook dat gelowiges slegs kan getuig en nie kan oortuig nie. Dit is die werk van God die Heilige Gees. Vir prof. Willie kan ons maar net bid dat die Heilige Gees hom ook sal oortuig van die waarheid. Vir wie na die onsin luister wat hy kwytraak wil ek net wys op wat in 1 Johannes 2:18-19 staan: "Kinders dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar 'n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is. Hulle (die antichris/ leuenaars) het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie, want as hulle werklik van ons was, sou hulle by ons gebly het. dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie." Wie twyfel moet hom nie verder laat mislei deur sinlose verkondigings soos die van Prof. Willie nie. Ons weet nie op wie se gesag hy optree nie. Die Bybel staan op die gesag van die lewende Here en kan dus onomwonde as die waarheid aanvaar word, soos dit ook deur Jesus eerbiedig is. As ons 1Johannes 5:13 ook in gedagte hou dan het Johannes geweet dat mense soos prof. Willie te voorskyn sal kom om twyfel te saai. Daarom skryf hy "Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle KAN WEET dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo." HOU VAS AAN DIE WAARHEID! - Jan Botha van Fochvi
 
Genesis en Eksodus
2010/06/12
Dit is ontstellend om te sien hoe die redaksionele span meehelp om verwarring en ongeloof te saai. Al hoe meer spasie word gegee aan nuwe hervormers, moslems en ongelowiges soos prof Esterhuyse. Die idee wat hulle het dat dit lei tot sinvolle gesprek is absolute nonsens. Het hulle gesien op die meningsopname hoeveel mense weet nie meer wat om van die Bybel te glo nie? Wel, Kerkbode help die verwarring aan sover as hulle kan, dit is asof dit hulle missie is.

Aan die sg. prof wil ek net sê, indien u dink dat die' eerste 2 Boeke sommer fiksie is, gee jou Bybel aan iemand wat dit wil lees, iemand wat die Here wil dien. Prof, ek voel jammer vir jou. - A Grobbelaar
 
Genesis en Eksodus
2010/06/15
Hoe beklaenswaardig is dit dat die Gesag van die Woord veruil word alledaagse opinies.Die wat Vader persoonlik ken en in die ruimte van SY WOORD (Psm 119) wandel - betreur "die soort wysheid" van die "geleerdes".Mag jy eendag God regtig ontmoet!!In die ruimte van SY Woord is daar seën en geluk.Salig is hulle wat arm van gees (absoluut desperaat)is, want aan hulle behoort die koninkryk van die Hemele! - EAN
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.