Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

'Ware man sal uithou vir sy trouvrou'

In swart gemeenskappe is daar baie vroue wat kinders wil hê, maar nie in die huwelik belangstel nie, het me Zingisa Mkhuma, redakteur van die Pretoria News, tydens die konferensie oor saamwoon en trou, wat deur die Oostelike Sinode gereël is, gesê. Dié oop gesprek het Maandagaand 24 Mei by die Choose Life-sentrum in Moreletapark plaasgevind.

“Swart vroue het dikwels ’n raw deal. Daar is nie sterk gesinstrukture in ons gemeenskappe nie. En ten spyte van armoede, het ons te veel kinders. Daar is baie swart vroue en kinders wat sleg behandel word. Daarom wil jong swart vroue vry wees. Hulle wil ’n ander lewe kies.

“Die kerk moet ’n goeie beeld van die huwelik aan ons kinders voorstel. Die kerk moet ons kinders help om die huwelik te verstaan as ’n vennootskap. Die huwelik is nie ’n plek waar vroue gedomineer moet word nie.

“Die probleem is dat hulle voor soveel keuses staan. Hulle word blootgestel aan ’n sekere soort lewenstyl en hulle ervaar baie groepsdruk. Ons moet met hulle praat, ons het gesonde gesinne nodig,” het sy gesê.

Die gesprek is ingelei deur dr James Kirkpatrick, voorsitter van die NG Kerk se Taakgroep vir Leer en Aktuele Sake. Hy het die kompleksiteit van die saak verduidelik. Hy het gesê hy dink die rede waarom die onderwerp vir baie mense so ontstellend is, is omdat dit eintlik oor seks gaan. Hy voel die kerk skuld jong mense behoorlike leiding oor hulle seksualiteit. Sy raad aan almal was: Trou, en bly dan saam.

Donnalee Roberts, ook bekend as die aktrise Annelie in 7de Laan, het gesê sy en haar verloofde, Gerber Strydom, wat nie vir saamwoon kies nie, bid saam. Hulle vra God om hulle te help teen die versoekings. “Om saam met iemand te slaap is nie ’n bewys van liefde nie,” het sy gesê.

“Die toets vir ’n ware man, is of hy kan uithou vir sy trouvrou. God sien elke beweging en sy oë is gevul met hartseer omdat mense nie sy blessing wil hê nie,” het sy bygevoeg. “Hoe kosbaar is die lewe met God se blessing. Ek en Gerber sê dit dikwels vir mekaar.”


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.