Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Tergende, maar kritiese vrae oor saamwoon

Die debat in die kerk oor ongetroude persone wat saamwoon en verlede jaar landwyd opslae veroorsaak het, word volgende week in Pretoria verder gevoer tydens ’n konferensie oor saambly.

En in ’n publikasie van Bybel-Media wat binnekort verskyn, word daar teologies nuut oor die saambly-vraagstuk gedink.

Volgende week se konferensie word aangebied deur die NG Kerk se Oostelike Sinode. Dit vind plaas by die gewese Rubensteinkampus van Moreletaparkgemeente.

’n Wye verskeidenheid sprekers met uiteenlopende standpunte sal aan die gesprek deelneem. Dit sluit onder andere in dr James Kirkpatrick, voorsitter van die Algemene Sinode se Taakgroep oor Leer en Aktuele Sake (Atlas), ds Dirkie van der Spuy van die NG Gemeente Moreletapark, asook kenners van ander vakgebiede as die teologie.

Intussen beloof Bybel-Media se publikasie Kan ons nie maar net saambly nie? om die saamwoondebat verder te voer as die ou geykte standpunte daaroor. Die redakteur van die publikasie is dr Chris Jones, wat die bal verlede jaar aan die rol gesit het toe hy die NG Kerk gevra het om ’n grondige en spoedige studie te doen oor saamblyverhoudings tussen mense wat nie getroud is nie.
Die ander medewerkers aan die boek is Christina Landman, Louis Jonker, Jeremy Punt, Julia Claassens, Adrio König, Antoon de Klerk en Gerda de Villiers. Die skrywers sê hulle wil teologies nuut, maar verantwoordelik daaroor nadink.

Die gesprek oor saamwoon vra volgens hulle kritiese en tergende vrae. Hulle sê die kerk moet daarop reageer as hy enigsins relevant wil bly. In die bekendstelling van die boek word gesê dit wil voorkom of die kerk sekere aspekte oor saamwoon nie wou of kon raaksien nie. “Uiteindelik weet die kerk nou daarvan. En het selfs besluit om daaroor te praat. Dit is waarom hierdie publikasie so belangrik is.”

Bybel Media se bestuurshoof van publikasies, mnr Danny Fourie, sê dit is belangrik om uit te wys dat die publikasie nie net óór saambly wil praat nie, maar ook mét saamblyers. “Hulle insette is onontbeerlik vir ’n sinvolle gesprek hieroor. Kan ons nie maar net saambly nie? Is spesifiek op die 20-plussers gemik. Daar is ook ’n klompie saamblyverhale ingevoeg en daar word na stemme vanuit die postmoderne samelewing geluister.”

Die boek sal teen 17 Junie beskikbaar wees, maar bestelling kan nou reeds geplaas word by www.bmedia.co.za, per e-pos by bestel@bmedia.co.za of telefonies by 0860 26 33 42.
jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.