Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Kaalvoetstapper vervul belofte ná rivierramp

KAAPSTAD. – Tien jaar nadat ’n tragedie 13 mans by hom se lewens geëis het, en 6 000 kilometers te voet later, het een van die Stormsrivierramp se oorlewen­des verlede week ’n gelofte gestand gedoen. Hy het onderneem om kaalvoet om Suid-Afrika te stap en sy storie te vertel as hy sou bly leef.

Die 13 mans wat in 2009 in die Stormsrivier omgekom het, was deel van ’n spanbougroep van 24 toe die noodlot hulle tref. Hulle is deur ’n fratsgolf oor ’n ses meter krans in die Stormsrivier afgevoer. Dertien van die 24 mense is dood weens kop- en nekbeserings.

Die toergids, Jaco Swart, was een van diegene wat die ramp oorleef het. Hy het in ’n maalkolk beland waar sy knie onder meer vergruis is. Hy het 27 uur lank vir lewe en dood aan ’n tak van ’n oorhangende krans gehang voordat reddingswerkers hom uiteindelik opgespoor het.

In hierdie 27 uur het Jaco ’n gelofte aan die Here afgelê. As die Here sy lewe spaar en hom red, en hy weer die gebruik van sy been het, sou hy kaalvoet om die land stap om vir mense te vertel wat die Here vir hom gedoen het.
Ses operasies en nege jaar later, het Jaco op 15 Januarie 2009 met sy kaalvoete en rugsak by die Kasteel in Kaapstad vertrek op ’n staptog kaalvoet om Suid-Afrika.

Sy vrou, Yzelle, het aan Kerkbode gesê hulle het albei einde 2008 uit hulle werk bedank. Jaco om voorbereiding vir sy stap te begin, en sy sodat sy verder kon studeer en vry kon wees om Jaco te ondersteun.

Geen maatskappye of ondernemings was bereid om Jaco te borg nie, vertel Yzelle. Sy sê na talle persoonlike terugslae en beproewings het hulle ervaar hoe die Here hulle deur alles gedra het. “Ons het geen borge gehad nie, maar elke maand as Jaco se aftrekorders moes afgaan, was daar geld in sy bankrekening. Wanneer daar nie was nie, het ek presies die bedrag wat ons nodig gehad het – tot op die sent – gekry om dit te betaal. Mense wat die Here elke keer op die regte oomblik oor ons pad gestuur het, het ons hande geneem en hierdie stap saam met ons gestap.”

Jaco het verlede week in Kaapstad aangekom waar hy en sy vrou mekaar weer vir die eerste keer ontmoet het na hulle troue in Desember verlede jaar. – jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.