Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Boeke oor Jesus en die aartsbiskop wen gesogte SA pryse

WELLINGTON. – Die Andrew Murrayprys vir die beste Afrikaanse Christelike boek is vanjaar gewen deur Stephan Joubert vir sy werk, Jesus, ’n radikale sprong, uitgegee deur CUM, en die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir die beste Christelike/teologiese boek in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, deur Paddy Kearney vir Guardian of the Light – the biography of Denis Hurley, uitgegee deur die KwaZulu-Natal University Press.

 Die beoordelaars vir die Andrew Murrayprys was dr Pieter van Niekerk, VGK-predikant van Friemersheim, me Elize Parker, boekeredakteur van die tydskrif Lééf en mnr Christo van der Rheede, direkteur van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans. Hulle wys daarop dat Joubert die leser uitnooi om radikaal ánders as tot dusver oor Jesus te dink. Dit sal meebring dat daar ook nuut oor die kerk gedink kan word. “Hy sluit Afrikaanse lesers se koppe oop met ’n vernuwende benadering en slaag daarin om buite die boks, nuut en vars oor Jesus én die kerk te skryf.”   

Die naaswenner is die Christelike Kernensiklopedie, uitgegee deur Lux Verbi.BM. Daar is vanjaar 28 boeke deur 10 uitgewers vir die Andrew Murrayprys ingeskryf. 

Die beoordelaars vir die Andrew Murray-Desmond Tutuprys was vanjaar hoogeerwaarde Rowan Smith, die deken van die St George-katedraal in Kaapstad, dr Spiwo Xapile, predikant van die Uniting Presbyterian Church, Guguletu, en me Amanda Botha, joernalis en skrywer. Volgens hulle is Kearney se biografie oor wyle aartsbiskop Denis Hurley en sy stryd teen apartheid, ’n kragtige werk wat ook vir ons tyd iets te sê het. “Kearney wys dat sowel die kerk as die staat oop moet wees vir die lig van Christus en dat die profetiese rol van die kerk nie afgewater mag word deur die guns van kerklike of sekulêre magte te soek nie.”

Dit kan as ’n soort “ekumeniese deurbraak” beskou word dat die Andrew Murray-Desmond Tutuprys, vernoem na ’n 19de eeuse dominee van die NG Kerk en ’n aartsbiskop-emeritus van die Anglikaanse Kerk, vanjaar aan ’n Rooms-Katoliek toegeken word.

Die naaswenner is Focussing on the Message onder redaksie van Andrie du Toit. Ses uitgewers het 15 boeke vir hierdie prys ingeskryf.

Die pryse bedra elk R12 000, ’n goue penning/trofee en ’n oorkonde en sal in Mei aan die wenners oorhandig word.


Kommentaar:

Uit die boks
2010/05/05
Dat 'n Rooms-katoliek die prys wen is 'n bewys van die aanslag teen God en sy kinders. - Johan
 
Boks is te klein
2010/05/06
Sjoe, Johan leef jy nog in die era van die Roomse gevaar ? By implikasie beweer jy dat 'n Rooms-Katoliek nie ook 'n kind van God kan wees nie. Is dit dan kerke en denominasies wat ons kinders van God maak ? 'n Kind van God is elkeen wat sy/haar vertroue in Jesus Christus as Verlosser en Middelaar plaas. Word wakker, jou bokls is te eng ! - Fanie van Emmenes
 
Boks is te klein
2010/05/07
Ek wil net vir Johan laat weet dat die Rooms Katolieke Kerk lankal nie meer die Vulgaat as hul Bybel gebruik nie. Hulle gebruik nou die Kings James Version Bybel in hulle Kerke.

Groete, Edwin Müller, Sasolburg - Edwin Müller
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.