Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Kommer oor morele vakuum waarbinne ons lewe

KRUGERSDORP. – Die land benodig ernstige besinning oor hoe ’n morele kode in ’n diverse multikulturele en postmoderne klimaat vergestalt word.
So sê die organiseerder van die Nasionale Moraliteitskonferensie wat op 30 Maart in Krugersdorp aangebied word, ds Jannie Pelser.

Ds Pelser het aan Kerkbode gesê die onlangse oproep van pres Zuma oor ’n nasionale gesprek oor moraliteit is betekenisvol omdat hulle reeds op daardie stadium besig was met die reëlings vir hierdie byeenkoms.

Ds Pelser sê ’n volgehoue gesprek daaroor is baie nodig. “Die vraag of moraliteit as sodanig staties of dinamies van aard is, is van groot belang.”
Die huidige gesprek oor byvoorbeeld saambly is volgens ds Pelser ’n voorbeeld daarvan, asook president Zuma se veelvoudige huwelike en kinders.

Hy sê om vanuit die luuksheid van jou studeerkamer oor morele kodes te praat sonder begrip vir die leefwêreld van die meerderheid van ons landsburgers is onsensitief en sonder integriteit. “Dr Christina Landman van Unisa vra ’n belangrike vraag wanneer sy vra of alle mense vry is om moreel te wees.”
Ds Pelser sê dit lyk vir hom of die hele gesprek rondom moraliteit ’n lysie van moets en moenies, van aanvaarbaar en nie aanvaarbaar, moet agterlaat.

“Terselfdertyd hou ons vas aan die geloofwaardigheid en normatiewe karakter van God se Woord. Die kommer in baie mense se hart oor die morele vakuum waarbinne ons lewe is vanselfsprekend,” het ds Pelser gesê.

Die konferensie vind vanaf 21-23 April in die Rant en Dal gemeenskapskerk op Krugersdorp plaas. Die geleentheid word deur Die Nuwe Hart Stigting in samewerking met die Kantoor vir Morele Leierskap by die Universiteit Stellenbosch onder leiding van dr Chris Jones gereël en aangebied. Van die ander sprekers wat sal deelneem is onder andere die moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode, prof Piet Strauss, prof Christina Landman, dr Danny Titus van die ATKV en dr Dirk Hermann van Solidariteit. - jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.