Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Groter eenheid vir gereformeerdes op die tafel

SWITSERLAND. – ’n Internasionale paneel teoloë en predikante het begin met die opstel van ’n gespreksdokument of “manifes” wat as basis sal dien vir kerkeenheid en sosiale geregtigheid vir die beoogde nuwe wêreldwye organisasie van gereformeerde kerke.

Die manifes se inhoud sal in Junie aan die Verenigende Algemene Raad van die World Communion of Reformed Churches (WCRC) in die Verenigde State van Amerika voorgelê word vir goedkeuring.

Verteenwoordigers van kerke in agt wêreldstreke het vroeër die maand in Switserland ooreengekom op die bewoording van die dokument. Daarin word ’n duidelike verbintenis uitgespreek vir kerkeenheid as basis vir gesamentlike optrede ten opsigte van ekonomiese en ekologiese geregtigheid.

“Wat ons besig is om voor te berei is in effek ’n teologiese manifes,” het die voorsitter van die samesprekings, Ofelia Ortega van die Presbyterian Reformed Church in Cuba, volgens mediaberigte gesê. Hy sê die doelwit is om die basiese beginsels te bespreek en neer te lê waarop die beoogde nuwe ekumeniese liggaam gesamentlike aksies kan loods.

Die Verenigende Algemene Raad van die World Communion of Reformed Churches sal die samevoeging wees van die twee ekumeniese liggame wat die gereformeerde kerkfamilie tot dusver wêreldwyd verteenwoordig het, naamlik die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WARC) en die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER). Dié twee ekumeniese liggame het in die verlede verskillende teologiese perspektiewe van die gereformeerde kerkfamilie weerspieël.

Dr Douwe Visser van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke sê vir kerke om saam te werk is dit noodsaaklik dat hulle mekaar se teologie sal verstaan en respekteer. Dr Visser sê om verantwoordelik kommentaar te lewer oor sake soos geregtigheid is dit noodsaaklik dat daar ’n stewige teologiese basis vir sulke argumente sal wees.

Teoloë van regoor die wêreld het die afgelope jaar en ’n half indringend vergader om te besin oor groter eenheid tussen kerke in die gereformeerde tradisie.

Dr Visser sê ondanks die diversiteit in teologiese perspektiewe onder die deelnemers tydens die samesprekings, was dit duidelik dat die twee bestaande ekumeniese liggame ’n gemeenskaplike basis het vanwaar hulle saam vorentoe kan beweeg.

Die beoogde nuwe ekumeniese liggaam sal veral daarop fokus om ’n gesonde  teologiese basis daar te stel vir groter interkerklike samewerking. Die liggaam wil ook gesamentlike inisiatiewe tussen kerke aanmoedig ter ondersteuning van ekonomiese geregtigheid, om veral om te sien na die regte van die weerloses. - jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

Ekonomiese geregtigheid
2010/04/08
Beteken die feit dat sommiges meer eiendom en besittings het as ander dat daar geen geregtigheid is??? Ek het nog altyd gedink dat ekonomiese geregtigheid beteken dat jy jou naaste liefhet soos jouself. Dus respekteer jy jou naaste se eiendom en besittings. Dit geld tog seker ongeag hoeveel 'n persoon besit?? Die gebod "jy mag nie steel nie" is tog op alle mense ryk en arm van toepassing? Was Abraham (die Bill Gates van sy tyd) die rede vir die armoede van ander aardbewoners! Dis tog snert. Ekonomiese geregtigheid in suiwer vorm bestaan nie,en sal nooit bestaan nie. Maar hoe suiwerder en vollediger kapitalisme toegepas word sonder inmenging van die staat hoe nader ons aan geregtigheid sal kom. ELKE MENS ryk en arm moet sy naaste liefhe soos homself. Dit is Christelik!!
Enige stelsel wat egter gebaseer word op " My naaste moet my liefhe soos hy homself liefhet" is van Lucifer. Of ek self my naaste se goed steel of 'n regering aanstel om dit namens my te doen, die beginsel is dieselfde. Die heler is so erg soos die steler. - Jan Buter
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.