Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Hoër aftree-ouderdom vir predikante?

PRETORIA. – Die aftree-ouderdom vir predikante kan dalk na sewentig verhoog word as sekere sinodes hulle sin kry.

Die predikant vir Teologiese Opleiding by Tukkies, dr Flip du Toit, sê daar is sterk geluide dat die aftree-ouderdom van predikante weer op maksimum 70 jaar vasgestel moet word.

Dit volg na ’n vergadering van die Gesamentlike Sinodale Kommissie (van die vier sinodes Noord van die Vaalrivier) met die Predikante-pensioenfonds wat onlangs gehou is.

Van die redes wat aangevoer word, is onder meer ’n langer lewensverwagting en die verwagte tekort aan opgeleide predikante in die kerk.
Dr Du Toit sê daar is geen Bybelse voorskrifte vir die aftree-ouderdom van predikante nie. Dit het deur die eeue, maar veral die afgelope klompie dekades, baie gewissel.

In talle kerke is daar geen aftree-ouderdom nie. Dit word as ’n lewenslange roeping gesien. Die pous van die Rooms-Katolieke Kerk bly byvoorbeeld in sy amp tot hy sterf.

Dr Du Toit sê binne Gereformeerde kringe het die besef veral in Nederland posgevat dat die predikant nie onbepaald kan dien as predikant nie. Die afgelope paar dekades het die aftree-ouderdom van predikante binne die NG Kerk interessante wendings geneem. Aanvanklik was daar geen aftree-ouderdom nie en het dit dikwels gebeur dat predikante in die tuig sterf.
Sedert Julie 1957 moes predikante op 70-jarige ouderdom aftree. Die verpligte aftree-ouderdom is later op 65 vasgestel. Tussen ongeveer 1990 en 2005 was daar ’n redelike oorskot van opgeleide predikante in die NG Kerk en was die aandrang baie sterk dat predikante op enige ouderdom vanaf 55, maar veral vanaf 60, behoort af te tree.

Met die vermindering van die oorskot opgeleide predikante moes daar egter nuwe reëlings getref word. Die Algemene Sinode van 2007 het toestemming verleen dat emeriti tussen 65 en 70 in termyngekoppelde poste kan dien.
Dr Du Toit sê die nuutste voorstelle vir die verhoging van die aftree-ouderdom is maar net een verdere trappie in die lang verhaal oor wat die geskikste ouderdom is om die roeping nie meer op voltydse basis te beoefen nie.
jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

Aftree ouderdom vir predikante
2010/02/19
Moet vir eers nie 'n besluit neem oor aftree ouderdom nie. As daar die dag geen werklose proponente meer is nie, gee dan aandag aan die saak. - Francois
 
Afree ouderdom vir predikante
2010/02/24
Wat is die getal van beroepbare-, werklose proponente. Ons moet onthou dat `n predikant wat voltyds werk tussen die ouderdom van 65 - 70 jaar baie duur is, daar is onder-betaalde predikante in baie gemeentes wat nie hul predikant kan bekostig nie. Kan ons nie kreatief begin dink om eerder hierdie probleem aan te spreek nie - Theo
 
2010/03/03
Saam met alle gereformeerdes wil ons sê: "Die Skrif alleen", veral waar dinge selfs ook wetenskaplik verstaan kan word. Aftree ouderdom mag nooit verantwoord word deur
die getal werklose proponente of geld nie. Die 'Status Quo' berus op die Kerkorde; dit kan verander word. Hoor die wysheid uit sekulêre Australië: "There is no statutory
retirement age in Australia." [Google: Age of Retirement in Australia] ... die partye kan wel sinvol onderhandel rondom verwagting en lewering. Mens MAG in Aus egter vroeër aftree, op eie versoek en, uitsonderings uitgeslote, mag mens dan eers op hoër ouderdom Pensioen begin kry! Slegs Regters en nog 2 ander beroepe is verplig om af te tree op 70. Ons wat in 1975 begin preek het, is dus nog vars perde ... en nou éérs slim en 'regter' om te verkondig! (Ek's ernstig ... kan ek 'n 'Amen" êrens kry?)


- Jan Grey
 
Aftree ouderdom van predikante
2010/03/05
Ek stem heelhartig met Jan Grey saam! Hoe verantwoord n mens dit skrifturlik dat 'n leraar wat uiters bekwaam en ervare is en fisies in "goeie toestand" is (beter as sommige jong predikante!) verplig word om sy roeping neer te le? Die aftree-ouderdom van 65 is in elk geval archaies en dis jammer dat "markkragte" in die velede en tans skynbaar so 'n groot invloed uitoefen! Die Here se Woord en sy beginsels behoort hier die laaste se te he! Amen! - Dr Jan Swanepoel
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.