Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Christene steeds in baie lande vervolg

Noord-Korea is weer bo-aan die wêreldwaarnemingslys vir 2010 van lande waar Christene verlede jaar die meeste vervolg is. In hierdie land word elke godsdienstige aktiwiteit gesien as verset teen die Noord-Koreaanse sosialistiese beginsels.

Volgens ’n verklaring deur Geopende Deure, wat die vervolging van Christene wêreldwyd monitor, het Iran Saoedi-Arabië verbygesteek en beklee nou die tweede plek. Saoedi-Arabië is in die derde plek. Somalië het na die vierde plek opgeskuif aangesien die klein groepie Christene se godsdiensvryheid verder ingeperk is. Hulle word kwaai vervolg en moet hulle geloof in die geheim beoefen.

Islam is die amptelike godsdiens van sewe lande in die boonste tien, naamlik Iran, Saoedi-Arabië, Somalië, die Maledive, Afganistan, Jemen en Mauritanië.
Daar was geen verbetering in godsdiensvryheid in Laos nie, en hierdie land beklee tans die negende plek. Hoewel Oesbekistan steeds in die tiende plek is, is godsdiensvryheid die afgelope jaar ingekort. Die tydperk waaroor daar in hierdie uitgawe van die Wêreldwaarnemingslys verslag gedoen is, strek van 1 November 2008 tot en met 31 Oktober 2009.

Nuut in die boonste tien vanjaar is Mauritanië, aangesien die situasie gedurende die verslagtydperk agteruitgegaan het weens die moord op ’n Christen-medewerker in Junie 2009, die inhegtenisneming en marteling van 35 Mauritaniese Christene in Julie 2009 en die inhegtenisneming van ’n groep van 150 Christene van Afrika suid van die Sahara in Augustus 2009.

In Viëtnam was daar grootskaalse konfrontasies tussen gelowiges en die regering oor kerkeiendom waarop beslag gelê is. Talle gelowiges is tydens die betogings geslaan en aangehou. In Azerbeidjan en Tadjikistan is ’n nuwe onderdrukkende godsdienswet verlede jaar goedgekeur wat die regte van godsdienstige gemeenskappe erg aan bande lê.

Geopende Deure het minder berigte van vervolging van Christene in Algerië, Indië, Kuba, Jordanië, Sri Lanka en Indonesië ontvang. Die Algeriese regering het voor negatiewe internasionale media-aandag geswig nadat daar verlede jaar op Christene toegeslaan is, maar kerkleiers in Algerië meen dat druk enige oomblik weer kan toeneem.

In Kuba het dinge nie veel verander nie – die regime is steeds onderdrukkend, maar Christene het baie innoverend geword wat die verspreiding van die Evangelie betref. Jordanië is laer op die Wêreldwaarnemingslys vanweë berigte dat druk op sendelinge afgeneem het, en daar was geen berigte van Christene wat tydens die verslagtydperk in hegtenis geneem of aangerand is weens hulle geloof nie. Fisieke teistering van gelowiges in Sri Lanka het effens afgeneem en Geopende Deure het geen berigte ontvang van Christene wat in Indonesië in hegtenis geneem en/of ontvoer is nie. Minder Christene is geteister as in die vorige verslagtydperk. – jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.