Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Om te leef asof

Gerrit Brand

“Is teologie poësie?” vra CS Lewis ’n keer in ’n lesing met dié titel, of is dit meer soos wetenskap? En natuurlik is sy antwoord dat daar in albei vergelykings iets steek, maar dat teologie – mense se woorde oor God – uiteindelik tog iets heel eiesoortigs is.

GK Chesterton gebruik ’n ander vergelyking: In sy biografie St Francis of Assisi skryf hy Fransiskus se geloof was “nie soos ’n teorie nie, maar soos ’n liefdesverhouding”(iets wat Vincent Brümmer in die opdrag van sy boek What are we Doing when we Pray? ook op die geloof van die NG kerkvaders John Murray, Nicolaas Hofmeyr en Andrew Murray van toepassing maak).
Self wonder ek al geruime tyd of geloof nie met toneelspel vergelyk kan word nie.

Shakespeare verklaar mos (in As you Like it): “All the world’s a stage, / And all the men and women merely players: / They have their exits and their entrances; / And one man in his time plays many parts ...” Sü sit die wêreld in mekaar: soos ’n verhoog waarop die “drama” van ons lewe hom afspeel. Ons alledaagse taalgebruik weerspieël dit. Ons praat van die “rol” wat iemand speel, hoe mense “optree”, die “agtergrond” waarteen hulle dit doen.

Is geloof dalk om toneel te speel, om te “leef asof”? Asof God “die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde” is; asof Jesus die “Christus”, God se “eniggebore Seun, ons Here” is; asof Hy “opgestaan het uit die dode, opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van God ...”; kortom: asof die dinge wat Christene bely, waar is?

Dit is dalk te veel gesê, want mense wat hierdie dinge bely, leef nie altyd asof hulle dit regtig glo nie. Watter gelowige leef regtig deurgaans “asof”? Die gevaar, wanneer geloof as “optrede” voorgestel word, is dat dit tot ’n prestasie verwring word – ’n manier om God se goedkeuring te wen. Soos in ’n oudisie ...

Nederiger sou ’n mens dalk kan sê: Geloof is om te probéér “leef asof”. Om te oefen (en dalk al hoe beter te word?) daarmee. Volgens ’n populêre definisie is ’n dissipel iemand wat leer hoe om in God se koninkryk te leef. Om die verbeelding vir hierdie soort oefening op te skerp het Jesus telkens sy gelykenisse ingelei met die woorde: “Die koninkryk van God is soos ...” Asof Hy sy hoorders wil aanspoor om te vra: Hoe sou ’n mens in dáárdie soort wêreld optree? Wat sou ’n mens se rol wees?

Hoeveel gelowiges kan egter eerlik sê dat hulle, ook wanneer hulle dit nie regkry om te “leef asof” nie, ten minste probeer? Nee wat, as dit is wat geloof beteken, bestaan daar nie iets soos gelowiges nie.

Miskien is geloof dan nie om te “leef asof” nie, en ook nie om te probéér “leef asof” nie, maar eerder om jou daartoe genoop, geroepe, te voel om te probeer. Maar hoe kom dit?

Die teoloog Hans Urs von Baltasar praat van die heilsgebeure waarvan die Bybel getuig as ’n “Teodrama” – die verhaal van God se verskyning op die verhoog van die geskiedenis. Nie dat God nie al die tyd al as dramaturg, vervaardiger en regisseur betrokke was nie; “teater van sy glorie,” het Calvyn die skepping genoem. Die punt is dat nie ons nie, maar God, die inisiatief in hierdie drama neem.

’n Mens gaan kyk toneelstukke óf om aan die werklikheid te ontsnap óf om nuwe perspektief op die werklikheid te kry. Maar gestel jy sou tot die oortuiging, of selfs net die vermoede, kom dat die toneelstuk waarna jy kyk, waardeur jy meegesleur en betrek word, die eintlike werklikheid is.

* Dr Gerrit Brand doseer sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Besoek LitNet.co.za vir sy blog, DinkNet.


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.