Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Gay Christene vra dialoog

STELLENBOSCH. – Daar bestaan ’n groot behoefte in Afrika dat Christene vanuit die gay-gemeenskap in veilige ruimtes met ander gelowiges in dialoog kan tree, sonder dat dit in ’n getwis ontaard.

So sê ’n groep van 77 deelnemers uit 13 Afrikalande wat die afgelope maand buite Stellenbosch vergader het om vir die eerste keer vanuit ’n Christelike geloofsperspektief met mekaar in gesprek te tree oor hulle seksuele oriëntasie.
Een van die organiseerders, mnr Pieter Oberholzer van Inclusive & Affirming Ministries (IAM), sê daar is besluit om die gesprekke oor seksualiteit deur dialoog eerder as deur middel van debat te bevorder omdat debatte geneig is om mense te polariseer.

Verskeie deelnemers aan die konferensie het vir die eerste keer die geleentheid gehad om openlik en in ’n veilige ruimte met mekaar oor hulle seksuele oriëntasie te gesels.

Sommige van die deelnemers moes die byeenkoms op klandestiene wyse bywoon aangesien daar in verskeie Afrikalande nog ernstig gediskrimineer word teen gays. Selfs in Suid-Afrika, waar dit teen die wet is om teen mense te diskrimineer op grond van hulle seksuele oriëntasie, word daar volgens een van die konferensiegangers, me Judith Kotze, nog dikwels teen gays gediskrimineer.
Lande wat verteenwoordig is, sluit in Suid-Afrika, Botswana, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Kenia, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Nigerië, Uganda, Zambië en Zimbabwe.

Eerwaarde Jide Macaulay het aan Kerkbode vertel hoe hy ’n paar jaar gelede uit Nigerië na die Verenigde State moes vlug weens sy seksuele oriëntasie. Eerwaarde Macaulay het ’n gay-vriendelike gemeente in Lagos bedien, maar is deur homofobiese Christene met die dood gedreig en moes vir sy lewe vlug.
Tydens die Stellenbosch-beraad het afgevaardigdes die geleentheid gehad om uit ’n posisie van vrees te beweeg na ’n posisie van selfbemagtiging en hoop, het mnr Oberholzer aan Kerkbode gesê.

Homoseksualiteit is nog in 38 Afrikalande ’n misdaad en in vier Afrikalande kan gays die doodstraf ontvang, óf daar word wetgewing oorweeg om die doodstraf aan sulke persone op te lê.

Van die belangrikste struikelblokke wat nog in die weg staan van sinvolle dialoog tussen die gay en heteroseksuele gelowiges is:
- Gebrek aan kennis oor homoseksuele oriëntasie
- Verskillende Skrifinterpretasies
- Gays se stilte en dikwels afwesigheid in die geloofsgemeenskap
- ’n Ongeskrewe verbod om seksualiteit in Afrika te bespreek
- Hiërargiese kerkstrukture
- Onderdrukkende wetgewing

Struikelblokke soos dié lei volgens diegene wat die beraad bygewoon het daartoe dat die meeste kerke in debat tree óór die saak in plaas daarvan om mét mede-Christene te gesels oor die gay-kwessie.

jean@tydskrifte.co.za  


Kommentaar:

Sondeblydenis en Bekering
2009/11/21
Eerlike oop gesprek volgens die Skrif is ‘n proses wat daartoe lei dat 'n sondaar van sy sonde bewus raak, berou daaroor het en die sonde bely en daarna sy rug daarop draai. Dit beteken nie dat hy nooit weer sal struikel nie, maar hy sal daarteen weerstand bied; "ten bloede toe" sou dit moet. Die gesindheid van sy hart sal wees dat hy God gehoorsaam wil wees omdat God hom genadig was en hy God deur sy lewenswandel wil eer uit dankbaarheid vir God se genade aan hom.
‘n Kerk wat waarlik liefhet sal die sonde uitwys en dit nie verdoesel en mooi name daaraan gee om mense in hul sondige toestand te paai nie! Ons is hier net vir ‘n baie kort tydjie, 80 – 100 jaar as ons gespaar bly, en al moet mense hier nou seerkry omdat hy ‘n sondige natuur moet beveg en hy alle krag en mag nodig het om die versoekings te weerstaan omdat God iets as sonde ag, sal hy vir ewigheid die vreugde en vrede saam met God beleef vir sy stryd wat hy hier getrou geveg het!
Deur ‘n akkommoderende ingesteldheid te hê, word die Kerk ‘n obstruksie in die weg van so ‘n persoon (wat vasgevang is in die kloue van sonde) om totale verlossing en bevryding van so ‘n toestand te kry. As die Kerk sê homoseksualisme is nie sonde nie, sal so ‘n person nooit berou daaroor kan vorm nie want sondebewustheid is ‘n voorvereiste vir die vorming van berou; en berou is op sy beurt ‘n voorvereiste vir opregte belydenis. En omdat God in die hart sien, weet Hy wanneer belydenis opreg is om vergifnis te gee; vergifnis wat God ten duurste vir ons bewerkstellig het deur Sy Seun se marteldood.
Deur ‘n akkommoderende ingesteldheid, stel die Kerk homself aan as die vryspreker van sonde; as die verlosser van mense as hy God se Woord oorskryf en sy eie reëls vir verlossing daarstel.
Wanneer die Kerk in gesprek tree met persone wat in die een of ander sonde vasgevang is soos dwelmafhanklikheid, drankverslawing , gebrek aan selfbeheersing, homoseksualiteit of watter sonde ookal, moet die oogmerk altyd wees om so iemand op die verwerplikheid daarvan te wys, die verdorwe aard daarvan, met die doel om so ‘n person deur gesonde en liefdevolle begeleiding tot berou en uiteindelike bekering te lei.
Die Kerk het verseker nie die mandaat van God gekry om met mense wat in sonde vasgevang is, te onderhandel met die oog om ‘n kompromie te bereik nie - om tot ‘n vergelyk te kom dat die Kerk so ‘n persoon ontvang met al die voorregte van die sakramente soos Jesus dit ingestel het terwyl aan die ander kant, die persoon steeds in sy sonde volhard asof God dit nie meer raaksien nie; so asof ons as Kerk saam met die betrokke persoon die sonde ‘n kleur gegee het wat die sonde vir God verskans het!
Ek wil glo dat die NG Kerk steeds van haarself kan sê dat sy die bruid van Jesus Christus is; die Kerk van Jesus Christus omrede sy aan Jesus en God se Woord gehoorsaam en onderdanig is. Hierdie tipe van gesprekke is ongelukkig daarop gemik om die Kerk daartoe te dwing om mense te aanvaar namens God en mense te laat goed voel midde in hulle verlore toestand. Alternatiewelik is dit daarop gemik om druk op die Kerk te plaas om sy siening te verander en in ‘n rigting te dwing wat nie met die Woord van God versoenbaar is nie. Dit is verseker nie die mandaat wat die Kerk van God ontvang het nie.
Voor die leierskap van die NG Kerk wil ek die pleidooi lewer dat ons nie ons mandaat wat ons van God ontvang het sal verruil vir ‘n mandaat van mense ter wille van ‘n polities korrekte ingesteldheid en sodoende ons relefantheid in die wêreld te probeer behou nie. Vele Kerke dien reeds as bewys daarvan dat hierdie tipe kompromie juis daartoe gelei het dat hulle totaal irrelevant geword het.
Sonde word nie op grond van ‘n demokraties verkose proses tot sonde verklaar nie, maar op grond van God se Woord alleen!
- James Maré
 
NGK voor nog 'n toets
2009/11/23
Dankie James, die vraag is of die NG kerk hierdie toets gaan slaag of druip.
Pro 15:31-32 Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef. Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand.
22Ti 3:14-17 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. - Salomo en Paulus
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.