Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

König se geloofwaardigheid op die spel geplaas

POTCHEFSTROOM. – Die teoloog en skrywer van die omstrede boek Die Evangelie is op die spel, prof Adrio König, se geloofwaardigheid was op die spel tydens die afgelope Aardklop-kunstefees.

Die dagblad Beeld se kerksakejoernalis, Neels Jackson, wat prof König oor sy boek uitgevra het, het ’n klein opskudding veroorsaak toe hy prof König se geloofwaardigheid bevraagteken het. Jackson het tydens ’n openbare gesprek aan prof König gesê hy het te veel respek vir hom om hom as ’n leuenaar te bestempel.

Ná die gesprek het prof König aan Jackson gesê hy was “geruk” deur die indirekte wyse waarop Jackson hom ’n leuenaar genoem het.
Jackson het aan Kerkbode gesê hy het deur die loop van die gespek probeer aantoon dat König sekere teoloë se standpunte oor Jesus se opstanding verkeerd weergee in sy boek.

Jackson het aan die einde van die gesprek na ’n brief wat dr Henk Gous in die media geskryf het, verwys. Daarin het hy gereageer op twee briefskrywers wat beweer Tukkies se teoloë ontken die opstanding. Dr Gous het in sy brief geskryf die briefskrywers se stellings is leuens. Jackson het gesê hy het te veel respek vir König om in sulke taal met hom te praat, maar dat hy dink König het op ’n baie onbillike wyse ’n slegte refleksie op ander teoloë gewerp deur hulle standpunte verkeerd weer te gee in sy boek.

Tydens die gesprek het König ontken hy probeer die “liberale teoloë” in sy boek in ’n slegte lig stel. Hy het egter voet by stuk gehou dat daar rede tot kommer is oor die sogenaamde liberale teoloë se standpunte. Hy meen hulle verwar mense en maak hulle seer. Jackson het prof König beskuldig dat hy in sy boek daarop uit is om proff Danie Veldsman en Julian Müller van die Universiteit van Pretoria en dr Ben du Toit van die parlementêre lessenaar in ’n slegte lig te stel.

Prof König het op navraag aan Kerkbode gesê hy het ’n kort briefie oor die saak aan Beeld geskryf. Jackson en prof König sou ook die saak verder in Beeld debatteer. – jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.