Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Afrika se NG kerke vat hande as vennote

KEMPTONPARK. – Afgevaardigdes van die NG Kerkfamilie in Afrika het van 9 tot 11 September 2009 byeen gekom om oor vennootskappe binne die kerk te gesels.

Die byeenkoms is deur die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis (VDDG) van die NG Kerkfamilie in Suid-Afrika gereël en deur verteenwoordigers uit Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Mosambiek, Angola, Kenia en Nigerië bygewoon.

Die vier kerke werk sedert 2006 op algemeen-sinodale vlak saam aan projekte vir barmhartigheid en sending. Die toenemende gevoel van samehorigheid is verblydend. By die konferensie in Kemptonpark is die eenheidsbande hegter gesmee en verder uitgebrei oor landsgrense heen.

Die tema van die konferensie was: “Called to service and witness in and from Africa – in partnership”. Die byeenkoms is gefasiliteer deur John Rogers van Engeland, ’n sendeling wat spesialiseer in vennootskappe. Hy het heelwat aandag bestee aan die teorie van vennootskappe, maar op so ’n stimulerende en praktiese manier dat dit ook verhoudingsbou was. Pret was ’n groot deel van die proses. John het ’n uitsonderlike gawe om met volwasse leerders te werk. Die ontwikkeling van spanwerk was hoog op die agenda.

Die behoefte aan multi-laterale vennootskappe het sterk na vore gekom. Daar bestaan reeds heelwat vennootskappe oor die landsgrense heen, maar dit is meestal bilateraal. Die Vrystaatse NG Kerk werk saam met ’n susterskerk in Zambië, Noord-Kaap met Botswana en Namibië met Angola. Die familie van NG Kerke in Kaapland het vennootskappe met kerke in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe. Die Getuienisforum fokus op die suide van Mosambiek.

Dr Hannes Knoetze van die Noord-Kaap het opgemerk dat “baie meer bereik kan word as hierdie susterskerke buite Suid-Afrika nouer verhoudinge kan bou en die sinodes in Suid-Afrika kan saamwerk aan hierdie vennootskappe. Dit is tyd dat daar aan multi-laterale ooreenkomste gewerk word.”

Na die konferensie het baie ’n beter begrip gekry vir wat God op ’n wye vlak in ons vasteland doen om sy koninkryk te laat kom. Dit is egter nie genoeg om net sporadies met mekaar kontak te maak nie. Daar is ’n groot behoefte aan werklike vennootskap. Dit beteken gereelde byeenkomste, behoorlike koördinering, gedeelde visie, gesamentlike beplanning en wedersydse ondersteuning. - Hennie van Deventer

 


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.