Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Dankie dat my passie vir lees moontlik kan word

WORCESTER. – Vanjaar word die geboortedag van Louis Braille, 200 jaar gelede, wêreldwyd gevier. Die Instituut vir Blindes op Worcester bied deur die jaar verskeie aktiwiteite aan om die besondere bydrae van dié blinde Fransman te herdenk.

Die Instituut vir Blindes is in 1881 deur die NG Kerk in Worcester gevestig. Sedertdien het die inrigting geweldig uitgebrei en vandag bied die instituut ’n veilige heenkome vir bykans een duisend blindes, doofblindes, swaksiendes en blindes met bykomende gestremdhede.

Benewens leeskompetisies, vasvrawedstryde, skryfkompetisies, skaakwedstryde, uitstallings en ander feestelikhede het die instituut ’n spesiale wynbottel en glase laat maak om Louis Braille se grootse bydrae te erken.
In die skryfkompetisie het Jeanie Rudolph, ’n leerder van Pionierskool, die volgende oor Louis Braille geskryf: “Nogmaals baie, baie dankie vir die kans om my passie vir lees moontlik te maak. Ek hoop, daar waar jy is, is jy trots op ons braille-gebruikers.”

Braille is ’n skrif van verhewe puntjies op papier. Die skepper van die stelsel, Louis Braille, het in sy lewe nooit die triomf van sy uitvindsel ervaar nie. In Junie 1852, ses maande ná sy dood, het die Franse regering amptelik toestemming gegee dat sy stelsel gebruik mag word.

Die aanleer van braille is vir alle blindes van kardinale belang, want braille is die primêre instrument vir blindes tot geletterdheid. Vandag word dit in lande oor die hele wêreld heen gebruik.

Braille skep die geleentheid vir siggestremdes om op gelyke voet met siendes mee te ding om selfstandige, produktiewe en waardige lede van die gemeenskap te wees.

francine@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.