Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Taalraad ondersoek gebruik van Afrikaans in kerke

BLOEMFONTEIN. – “Engels! “Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor; in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor,” hoor ’n mens byna vandag weer CP Hoogenhout se stem as daar geluister word na baie Afrikaanssprekendes se kommer oor hulle taal.

Die gebruik van Afrikaans in die kerk vorm nou ook deel van ’n landwye ondersoek deur die Afrikaanse Taalraad oor die gebruik van Afrikaans op verskillende terreine in Suid-Afrika. Die opname geskied in samewerking met die Departement Praktiese Teologie aan die Universiteit Vrystaat.
Prof Kobus Schoeman, wat die ondersoek lei, het aan Kerkbode gesê feitlik al die Afrikaanse kerke is by die ondersoek betrek. Vraelyste is na sowat 5 000 Afrikaanse gemeentes van sowat 30 denominasies gestuur.

Prof Schoeman sê die Afrikaanse Taalraad wil met behulp van die ondersoek ’n databasis opbou oor die gebruik van Afrikaans as aanbiddingstaal. Dit gaan nie net oor Christelike kerke nie, maar sluit ook Afrikaans as aanbiddingstaal van Moslems in.

Die algemene sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, het leraars en gemeentes van die Afrikaanse kerke versoek om hulle samewerking vir hierdie navorsingsprojek te gee. “Ons weet hoe sensitief die taalkwessie in die land is. Dit is vir die NG Kerk belangrik dat soveel as moontlik gemeentes wat vraelyste hieroor ontvang het, daarop reageer,” het dr Gerber gesê.

Tot dusver het slegs 118 van die NG gemeentes op die vraelyste gereageer, maar prof Schoeman is vol hoop dat minstens die helfte van alle NG gemeentes terugvoering sal stuur.

Deelnemende gemeentes moet hulle vraelyste voor die einde van die maand elektronies of per pos inhandig.

Dr Gerber sê die ondersoek is uiteraard vir die NG Kerk van groot belang. Die doel van die vraelys is om vas te stel in hoe verre kerke en gemeentes Afrikaans as ’n medium gebruik.

Van die vrae wat aan gemeentes gestel word, handel onder meer oor die taalmedium van hulle webwerwe, nuusbriewe en algemene gemeentelewe.
Daar word ook ondersoek ingestel na die voorkeurtaal waarin gemeentes sing en in watter tale kursusse in gemeentes aangebied word.
 jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.