Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Leraar bedank na vrae oor omgee en dogma

PRETORIA. – ’n Jong jeugleraar van die NG Kerk het as predikant bedank omdat die kerk volgens hom onder meer nog nooit klinkklaar kon bewys hy gee om vir mense nie.

Ds Izak du Plessis, wat die afgelope aantal jare jeugleraar van die NG Gemeente Valleisig in Pretoria was, sê hoewel daar individue is wat dit doen, kry die kerk as instansie dit nie reg om met deernis teenoor almal te leef nie.
“Gaan vra maar vir elke dogter wat tussen 1960 en 1994 swanger geword het. Gaan vra maar vir elkeen wat in daardie tyd geskei het. Gaan vra maar vir die gay mense hoe seer hulle net in die afgelope paar jaar gekry het. Gaan vra maar vir elke gelowige wat dit gedurf waag het om ander vrae te vra,” het ds Du Plessis in sy afskeidsrede gesê.

Die 41-jarige ds Du Plessis was baie gewild by ’n groot deel van sy gemeente, terwyl ander hom as ’n dwaalleraar bestempel het. Dit het daartoe gelei dat hy ’n tyd gelede op 21 klagtes van leer en lewe voor die Ring van Faerie Glen moes gaan verantwoording doen. Hy is onskuldig bevind op 19 en skuldig aan twee, waarvoor die ring hom op die vingers getik het. Hy kon egter sy bediening voortsit. Hy sê dit is ’n werk wat hy regtig geniet het.

Du Plessis het in sy afskeidspreek toegegee dat hy in die lig van die kerk se belydenisskrifte besig is om te dwaal. “Ek weet niks van God nie. Ek bely niks oor God nie. Ek leef net in God,” het ds Du Plessis aan sy gemeente gesê. Sy teksvers was Job 19:4. As ek werklik gedwaal het, is my dwaling my eie saak.
Hy sê van die sake in die kerk wat hom al hoe meer ongemaklik gemaak het, is hoe mense geestelik afgedreig word met begrippe soos hemel en hel, vrae rondom die maagdelike geboorte, Jesus se fisieke opstanding en die hemelvaart.
“Daarom probeer ek wegbly van dogmatiese uitsprake oor God. Ek bely nie meer my geloof in God nie, want belydenisse beperk ons ervaring van God. Ek verkies om te volstaan by hoogstens een uitspraak: Ek leef in God. Dit bied aan my die moontlikheid om die misterie, die ewig ontwykende misterie van God te bly ervaar,” het ds Du Plessis in sy laaste preek gesê.

’n Groot groep kerkmense sowel as kerklos mense het ds Du Plessis op die sosiale webwerf Facebook en op sy blog geloof vir sy eerlikheid.
jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

Leraar bedank na vrae oor omge
2010/06/17
Ek het van Izak se denkwyse op ‘n ander forum gelees en soms van hom verskil, maar hy was opreg en eerlik in dit wat hy geskryf. Wat ‘n kragtige getuienis “Ek leef net in God” Dit kan ook anders gestel word, “ek leef in God en God leef in my”. Dit is altyd jammer wanneer ‘n leraar oor dogmatiese verskille die kerk verlaat. Om dit te doen verg moed. Vir ‘n leraar om ‘n punt te bereik waar jy aan jouself/haarself moet sê – ek kan nie meer so aangaan nie, is tekenend van oortuiging.
Ek kan myself nie indink dat God nèè, nèè sou gesê het nie – “wat van jou werk as leraar, jou inkomste, jou pensioen en wat gaan die mense sê !” Waar daar ‘n Godsbesef is, ‘n erkenning van Hom, Sy genade, Sy liefde wat geen perke ken nie, gestroop van alle dogmas en ander mense en kerklike seremonies en gebruike, wie kan die eerste klip gooi !
Izak – sterkte en mag jy Sy vreugde en Liefde in oorvloed ervaar.
Groete : RJ Kruger
- RJ Kruger
 
Izak se bedanking
2010/06/17
Dis tragies dat Izak du Plessis uit die bediening moes tree. Ja, wat ons glo is belangrik, maar dit gaan tog in die kerk oor meer as net ons belydenisse. Ons moet luister en leer sodat ons in die toekoms mooi tussen die Scylla en die Charibdus deur kan vaar sonder om nóg skeepsmanne aan die see af te staan. - Gerhard Bothma
 
Meer as belydenisse
2010/06/21
Ja Gerhard, in die Kerk behoort dit eerstens oor God te gaan. Sekerlik is dit 'n probleem as lidmate en predikante nog meer, God nie eer nie. - Flous Niemand
 
leraar bedank
2010/06/21
Izak du Plessis hoef regtig nie die bediening te verlaat nie. Hy moet net 'n "kerk" soek wat nie glo in die maagdelike geboorte, die opstanding van Jesus uit die dood en ander belydenisse soos deur die NG Kerk bely word, nie.
Wat van die Nuwe Hervormers ? Hy het tog geweet toe hy sy legitimasie eed afgele het, dat die NG Kerk 'n belydenis Kerk is, of nie ? - Fanie van Emmenes
 
Van Emmenes sit pot mis
2010/06/21
Dit is tog jammer van Emmenes was nie daar in Jesus se tyd nie. Dan kon hy sommer vir Jesus ook van raad bedien het en vertel het Jesus moet maar net 'n ander sinagoge gaan loop soek waar hy op die sewende dag mense mag genees, met melaatses mag meng, met prostitute mag omgaan ens. Jesus het tog geweet wat die "kerk" van destyds se beleid was, of nie? Dit is uitsprake soos die van Van Emmenis wat mens al hoe verder van die kerk af wegdryf. - Jan Le Roux
 
Die Verkeerde Pot
2010/06/22
Jan jy sit die pot mis. Dit gaan tog nie oor mense genees op die Sabat,met melaatses meng,met prostitute meng ens.nie. Ek het geen probleem met Ds. Izak se besoeke aan die kroeg, of sy stelling dat die kerk soos die kroeg moet word nie. Ek het 'n probleem met sy uitspraak dat hy nie meer glo in die opstanding van Jesus uit die dood, en Sy maagdelike geboorte nie. Jesus het tog van Sy opstanding self gese: "Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op ? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan my en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie".
Dit is tog wat die NG kerk bely,of nie ? Paulus se in 1 Kor.15:14: "En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof".
Jan, die totale Christelike geloof staan of val by die geloof in die opstanding van Jesus. Verloen dit, dan glo ons vergeefs en kan ons maar deure toemaak.
Wat my betref kan Ds. Izak sy bediening in die praktyk doen soos hy wil, maar binne die belydenis van die Christelike gemeenskap. - Fanie van Emmenes
 
Kerk se beleid
2010/06/22
Jesus was en is God en Hy het die nuwe verbond wat in die Ou Testament al deur God belowe is in werking kom stel. Om die feit dat Jesus sekere aspekte van die godsdiens vervul en dus kom verander het, as verskoning te probeer gebruik om nou die evangelie en die basiese Christelike geloof te verander, is onversoenbaar met jouself 'n Christengelowige te noem. Die vraag vandag is of 'n kerk en sy ampsdraers se werklike belydenis nog met die volledige Bybel klop. Om vir Izak du Plessis met Jesus te vergelyk, terwyl hy in wese die evangelie van Jesus verloën, is verstommend. - Daniël Michau
 
Ds Izak du Plessis - bedanking
2010/06/22
NG Kerk Valleisig het 'n geskiedenis van probleme met predikante. Wonder maar net waar lê die probleem? Almal maak 'n bohaai oor die bedanking. Dit is nie die eerste predikant wat bedank nie.In elk geval het ds IZak nie as predikant bedank nie, maar uit die gemeente.Valleisig soek sy domineeskap weg. Julle weet nie wat julle doen nie. - Daniël Snyman
 
Wie sit die pot mis?
2010/06/23
Ag nee Van Emmenis dit is jy wat die pot mis sit nie ek nie. Jesus se optrede was vir sy "kerk" van destyd net so verkeerd soos wat ds Du Plessis s'n vandag virf ju is. En so was Luther s'n ook vir die kerk van sý tyd. Michau se kommentaar sit die pot net so mis. Niemand het Jesus en Izak met mekaar vergelyk nie. Ek vergelyk die kerke van toe en nou se optrede met die optredes van Jeus en Izak. - Jan
 
Mushroom behandeling
2010/07/05
Aag toggie mense , kom ons wees ernstig en vergeet die emosies vir ‘n rukkie.
Daar is honderde NG predikante wat nie in die maagdelike geboorte , opstanding en wederkoms glo nie. Net so daar vele predikante wat nie in ‘n sesdagskepping 6-7000 jaar gelde glo nie , ook nie dat die vloed werklik gebeur het nie.
Ons weet mos almal dat die stories lewendig gehou moet word anders daal die lidmategetalle en ook die inkomste. Dis mos maar die mushroom behandeling wat die kerke vandag nog aan die lewe hou.
In die opsig moet Izak eerder geprys word as ‘n geloofwaardige mens . Ek dink dit het baie moed van oortuig gevat om die boodskap in die kerk te lewer. My vraag is hoeveel dominees is daar wat weekliks op die preekstoel staan en die maagdelike geboorte , opstanding , hemelvaart en wederkoms feitelik aan bied terwyl hulle weet dat dit nie waar is nie.
Hoe ironies is dit dat die grootste skynheiliges en huigelaars in ‘n organisasie is wat daarop aanspraak maak dat hulle die absolute waarheid verkondig word.
- Detlev
 
Izak du Plessis
2010/07/26
nou ja daar het ons dit. ds. Izak hou sy eerste diens in die kroeg. Die hemel het nie geval nie, en sekerlik is hy ook nie die eerste Pridikant wat 'n diens op 'n vreemde plek hou nie. Jare terug het Theuns Kuhn sy dienste verskuif na 'n bioskoop saal. Ek wonder net hoeveel van die teenwoordiges is gereelde, lees "locals", wat die kroeg van Maandag tot Saterdag besoek ? As dit 'n aansienlike persentasie is, het Izak sy doel bereik. As dit egter maar net van sy ou gemeentelede is. moet ons nog wag en kyk. Ek wens hom egter alle voorspoed toe met sy dogma-lose gemeente. - Fanie van Emmenes
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.