Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Iemand moet met pres Zuma praat

STELLENBOSCH. – Iemand in die kerk behoort die moed te hê om die vraag te vra of president Jacob Zuma die regte persoon is om die land moreelgesproke te lei.

So het die politieke kommentator en voormalige koerantredakteur, Harald Pakendorf, tydens ’n konferensie oor morele uitdagings by die Kweekskool op Stellenbosch gesê. Mnr Pakendorf sê sy eie antwoord op die vraag sou wees dat president Zuma nie die regte persoon is om dit te doen nie. Hy sê iemand soos pastoor Ray McCauley, wat skynbaar na aan president Zuma is, is waarskynlik die aangewese persoon om dit vir hom te sê.

Mnr Pakendorf, wat gepraat het oor morele leierskap en die media, het gesê hy dink nie dit is die media se plig om agente van moraliteit te wees nie. “Die media is nie in die eerste plek die draer van ’n morele boodskap nie, want wie se moraliteit is hulle veronderstel om uit te dra?” Hy het ook gewaarsku dat dit beslis nie die regering kan wees wat aan die media voorskryf hoe om sy boodskap uit te dra nie. Dit sal ernstige gevolge vir persvryheid inhou as dit die geval is. Dit is wel nodig dat die media hom hou by sy eie gedragskodes.

Hoewel Suid-Afrika kan spog met die vryste media ter wêreld, was daar volgens Pakendorf onrusbarende geluide tydens die ANC se Polokwane-konferensie wat mediavryheid betref.

Sy kritiek teen die media is dat koerante huiwerig is om mekaar te kritiseer. Soms is hulle ook onwillig om te erken as hulle verkeerd was. Ten spyte daarvan is die media in Suid-Afrika volgens mnr Pakendorf steeds die instelling wat meer as enige ander daarin slaag om die regering van die dag tot verantwoording te roep. Hy het ook verwys na nuwe soorte media, soos die internet, en het die gespreksforum Kletskerk uitgesonder as een van die interessante mediaforums waar daar kennis geneem word van ’n verskeidenheid standpunte.

Tydens vraetyd wou van die afgevaardigdes by mnr Pakendorf weet of dit reg is dat die media soms baie krities oor kerksake berig. Hy het gesê daar is geen rede waarom koerante nie oor die kerk en sy doen en late moet berig nie, aangesien die kerk – soos enige ander instelling – deur die media ondersoek behoort te word.
jean@tydskrifte.co.za


Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.