Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Die kerk 'kort leiers met drome'

STELLENBOSCH. – Die kerk kort leiers wat vir mense hoop kan gee om in hulle drome te glo, sê die teoloog prof Piet Naudé.

In ’n lesing oor morele leierskap as uitdaging vir geestelike leiers, wat by die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit aangebied is, het prof Naudé mense in Suid-Afrika aangemoedig om weer te droom en nie alles slegs rasioneel te beoordeel nie.

Die ekumeniese konferensie is deur dr Chris Jones van die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch gereël. Die doel was om die breër landskap van morele leierskap te ondersoek en te besin oor die uitdagings wat dit aan geestelike leiers bied.

Prof Naudé het onder andere verwys na Martin Luther King se “I have a dream”-toespraak en na leiers soos Nelson Mandela, Beyers Naudé en andere wie se drome aanvanklik vir die meeste mense na hersenskimme gelyk het. Dit was drome soos dié wat hulle gekoester het wat van die wêreld ’n beter plek met sterker morele waardes gemaak het.

“Ons benodig weer ’n toekomsvisie,” het prof Naudé gesê. Hy sê daar is tans te veel mense in die land wat wil ontsnap van die verlede, vir wie die toekoms duister lyk. Al wat dan oorbly is die hede. Dit veroorsaak dat mense geen drome meer het om na te streef nie.

Prof Naudé sê die land benodig mense wat ’n voorbeeld stel vir morele leierskap. “Ons het meer openbare figure nodig wat bereid is om op te staan vir morele waardes. Ons kan nie op biskop Desmond Tutu alleen staatmaak om dit te doen nie en Nelson Mandela is alreeds te oud.” Volgens prof Naudé sal ’n mens verbaas wees as jy sien hoeveel duisende gewone Christene net wag om bemagtig te word om weer die sout van die aarde te kan word.

Dit is ’n ope vraag of president Zuma met morele leierskap vertrou kan word, het prof Naudé gesê.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die groei van fundamentalisme in Suid-Afrika. Fundamentalisme gedy wanneer die kerk self wil bepaal wat morele waardes is en nie wil toelaat dat die Heilige Gees of die Bybel hulle lei nie.
Prof Naudé sê die kerk moet die volle Evangelie verkondig en daar moet meer klem gelê word op die werking van die Heilige Gees en minder klem op die pastors self.

Fundamentalisme is soos om vir kinders roomys te gee, het hy gesê. Dit hou Christene in ’n onvolwasse posisie. Mense ontvang dit waarvan hulle hou, maar intussen word die Bybel buite konteks aangehaal.

Dikwels lei dit daartoe dat fundamentaliste uiteindelik as ateïste eindig, het prof Naudé gewaarsku.
jean@tydskrifte.co.za   


Kommentaar:

Fundamentalisme
2010/06/30
Prof Naude reken die wereld het 'n beter plek met sterker morele waardes geword. Hy leef duidelik in 'n ander wereld as ons gewone burgers.As ek na aborsies, misdaad, korrupsie, losbandigheid, egskeidings, dobbel, ens kyk lyk dit vir my of ons die spoor geheel en al byster geraak het. Om te beweer dat "fundamentalisme" vir mense gee waarvan hulle hou, en sodoende in 'n onvolwasse posisie gehou word is tog absurd.Dis juis die eindelose herinterpretasies van die bybel wat bedoel is om mense hul sin te gee.Aborsie is dan reg, rook is sonde, skei en hertrou is reg, saambly is reg, huwelike vir homo's is ook reg, die lys kan eindeloos uitgebrei word.Om hard en lang ure te werk is nou materialisties, om meer te besit as iemand anders is gelyk aan sosiale onreg.Die probleem is juis dat die bybel gebruik word om aan te pas by die "moderne humanistiese menseregte ideologie". Daar is 'n groot tekort aan mense wat in die bybel glo as die woord van God. Dit gaan uiteindelik oor die eer van God, nie om mense te plesier nie. - Jan Buter
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.