Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010

'n Liefdesbrief aan die Afrikaanse woord

Jacqueline Leuvennink

Vriend Phil vertel hoe sy oupa soggens vyfuur altyd hulle huis met “Op berge en in dale” vól gesing het. Hy onthou hoe die sterk stem tot die diepste van jou wese kon binnedring. En sê dan sag: “Hy kon dit tot dáár bring ...”

Iemand wat oor die jare al keer op keer bewys het dat sy dit ook tot dáár kan bring, is die stemkunstenaar Helena Conradie. In ’n tyd waarin Afrikaans weer tussen swaard en see vasgekeer is, sou jy na haar kon verwys as ’n kulturele touleier. Een wat altyd bly soek na nuwe, onontginde paaie om steeds vir ons eie digters se woorde ’n staanplek te maak.

Enigeen wat een van Conradie se sewe woordkuns-CD’s op die rak het, sal vir jou sê jy het hier met gehalte te make. Haar eerste poging, Makie Mooi­goed Staan, oor die werk van Boerneef, het in 2000 verskyn en is soos die res van haar albums immergroen en steeds in aanvraag. Die vermoë om gedigte, so dikwels vergete in dun, stywe bundeltjies op die rak, só ’n tweede asem te gee, is geen geringe prestasie nie.

Verlede jaar het sy in samewerking met haar medewerkers vir George Weideman kort voor sy dood met Doepa gehuldig, wat eweneens goed ontvang is. Maar as die een woordreis voltooi is, moet ’n volgende begin.

Op haar nuutste CD, Speelman, word die digter as speelman of harlekyn, die Pierrot wat bly soek, bekyk. Johan Mocke se kunswerk op die voorblad verraai reeds iets van die keurigheid wat binne wag. Conradie is self iets van ’n Pierrot “die zoekt en denkt tot God hem in de hemel wenkt” (Nijhoff). Sy neem ons dié keer in samewerking met digters wat óf hulle eie werk óf dié van ander voorlees, op ’n verkenningstog van die wêreld waarin ons leef. Joan Hambidge, Zandra Bezuidenhout, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Ronel Loots en Rita Gilfillan doen almal mee. Hierdie diepkykers se insigte, so knap verpak in gedigte, lei die luisteraar ook om die soms weerlose wêreld van die kunstenaar beter te verstaan.

Soos in Helena se vorige albums help begaafde musici soos die sangeres Minette du Toit-Pearce en Lizelle Duvenhage (klassieke kitaar) om die woord selfs verder te vat. Duvenhage se musikale verwerkings en gevoelige vertolking van die musiek van onder meer Julio Sareras, Villa Lobos en Tarrega help skryf hierdie liefdesbrief aan die Afrikaanse woord. Die woorde van Uys Krige in sy gedig “Kitaar” kry byvoorbeeld ’n donker melankolie as ook háár “vingers deur die snare vaar”. Die kitaarklanke voer die luisteraar weg na ’n Spaanse nag: “Hy ween om dinge ver, ver weg: die drome, sugte, fluisteringe ongeseg.”

Daar is soveel wat ’n mens agterna bybly: Joan Hambidge se lees van haar eie skrynende “Judy Garland”, Zandra Bezuidenhout se malse “Dansmusieke”: “Snags as ek diep en dronk aan trapesiums swaai kom sirkusmusiek tot binne ons kamer aangewaai, aangewaai ...”

Dit is hartseer om te dink dat hierdie Afrikaanse woorde maklik sou kon “verpoeier en tot niks verdamp” as dit nie iewers uitgestal word om in al sy wonderlike reikwydte beleef te word nie. Om so ’n program saam te stel, verg dat jy elke gedig met die hand, maar veral die hart, uitkies.

 In die Ou Testament vra Job al tereg: Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte kos proe nie? Vir my en baie ander kom stil Speelman vir ’n wyle daardie hongerte.

Beskikbaar by pieter@cadutoit-wp.co.za of 021-919 2280

- Jacqueline Leuvennink is ’n vryskutjoernalis.

 
Fliekresensie Argief
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.