Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010
 

Nico Smith was 'n nodige doring in NG vlees

Frits Gaum

Dr Nico Smith se dood het die penne aan die roer gesit.

Anne-Marie Mischke skryf in Rapport dat hy “’n priester op sy eie turbulente koers” was en dat sy spore diep kruis en dwars oor kerk, volk en nasie loop.
Henry Jeffreys skryf in Die Burger “verloopte Afrikaners is helde van die nuwe Suid-Afrika” en meen dat Nico een van die “verloopte Afrikaners is wat die rug op die Afrikaner-nasionalisme gekeer het om die groter saak van menslikheid en die ware demokrasie na te streef”.

En Willem Pretorius sê in dieselfde koerant dat die lewe van Nico Smith weer die onvermoë van Afrikaners getoon het om rebelle in hulle midde te hanteer. “Waarom sien ons nie rebelle van die gees as verkenners wat ons intellektueel uitdaag nie en erken dat elke generasie hulle juis nodig het om te vernuwe?” vra hy.
Wat ek weet, is dat Nico Smith die leierskorps van die NG Kerk dikwels smoorkwaad gehad het. 

Ek het sy geskiedenis as dosent op Stellenbosch, sy afskeid van die Afrikaner-Broederbond, sy verwerping van apartheid en bedanking as professor om predikant in Mamelodi te word, nie van naby beleef nie. Maar ek was later by toe hy meermale die doring in die vlees van NG manne was (NG vroue het toe nog nie sulke geleenthede bygewoon nie).

Soos by die dramatiese Rustenburg-kerkeberaad van November 1990 toe Willie Jonker skuld “namens die NG Kerk en die Afrikanerdom” aan apartheid bely het en Desmond Tutu die belydenis tot almal se stomme verbasing daar en dan aanvaar het. Maar Nico Smith het gereken die NG Kerk kom nou darem alte maklik los en het dit ook so vir die verteenwoordigers van die bruin en swart NG familiekerke gesê. Ons van die NG Kerk het hom dit erg kwalik geneem. Hy was ’n vlieg in die salf wat een van die merkwaardigste versoeningsoomblikke in ons land se geskiedenis kom bederf het, het ons gedink.

’n Ander keer, ook in die vroeë 1990’s, was hy ’n afgevaardigde na ’n konferensie in Johannesburg van die Suider-Afrikaanse afdeling van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke. Die NG Kerk was toe nog ’n geskorste lid van dié bond en het geflikflooi om weer toegelaat te word. Weer was Nico ’n vlieg in die salf. Nee, het hy gesê, die NG Kerk moet eers bewys lewer dat hy apartheid afgesweer het. En die lakmoestoets dáárvoor is dat die NG Kerk hom (of, as jy wil, haar) met die NG familiekerke verenig om een kerk te word. Ons was vies vir Nico, maar het op die ou end sy siening ons s’n gemaak en dit so aan die Algemene Sinode van die NG Kerk gerapporteer. En, glo dit as jy wil, die sinode het dit so aanvaar: Kerkvereniging is die lakmoestoets vir die NG Kerk se verwerping van apartheid!
En tussendeur, knaend, te pas en te onpas, het Nico Smith artikels en briewe geskryf: in Kerkbode (waarvan ek toe redakteur was), in dagblaaie, in Sondagkoerante. Veral ook, baie dikwels, téén die Afrikaner-Broederbond. Daaroor het hy selfs ’n boek geskrywe, Die Afrikaner-Broederbond – belewinge van die binnekant – ’n boeiende, maar myns insiens soms eensydige, boek wat vanjaar op die kortlys vir die Andrew Murray­prys was.

Ek dink die groot rede waarom Nico tydens die Rustenburgse en Johannesburgse berade so afwysend teen die NG kerklui opgetree het, was omdat hy hulle nie vertrou het nie. Uit dure ondervin­ding, sou hy seker sê, en soms ten regte, maar nie altyd nie.

Hy het nie gedink dat die NG afvaardiging na Rustenburg opreg was toe hulle die Willie Jonker-belydenis “unequivocally” onderskryf het nie. Daarin, dink ek, was hy verkeerd.

Die NG Kerk het ná Rustenburg op baie maniere getoon dat hy opreg jammer is oor wat apartheid mense aangedoen het en vir dié kerk se aandeel daaraan. Maar ja, oor die “lakmoestoets” het hy dit tog reg gehad. Kerkvereniging sou in die praktyk bewys dat die NG Kerk sy rug onherroeplik op apartheid gekeer het, was sy standpunt.

Die kerk het hom dit uiteindelik toegegee, maar twee dekades later het dit nog nie gebeur nie. (Wat ook nou weer nie wil sê dat dit nét die NG Kerk is wat stokke in die wiele steek nie.)

’n Jaar gelede, toe Nico 80 geword het, het hy my na sy partytjie uitgenooi, wat ek nie kon bywoon nie. Ek het vir hom ’n gelukwensbrief geskrywe en daarin gesê hoeveel waardering ek daarvoor het dat hy sy oortuigings deur die jare onverskrokke uitgespreek het – al was dit by tye baie ongewild, en al het ek nie altyd daarmee saamgestem nie. “Jy was bereid om jou gerieflike posisie op Stellenbosch prys te gee en onder baie moeilike omstandighede in ’n arm swart gemeente te gaan werk om sodoende jou woorde en jou dade bymekaar uit te bring. Ek meen dat jy baie meer waardering daarvoor moes gekry het toe die NG Kerk sy foute van die verlede begin bely het. My verskoning aan jou dat ek self nie meer gedoen het om dit te laat gebeur nie.”

Nico het geantwoord dat mense gelukkig verander – soos hy verander het, soos ek verander het. Hy het die teoloog Dorothee Sölle aangehaal wat êrens gesê het dat, as mense nie kan verander nie, daar geen God is nie. En vir Berthold Brecht wat een van sy dramas begin met twee mans wat mekaar ná dertig jaar weer teëkom en die een wat vir die ander een sê: “Weet jy, jy het in die dertig jaar niks verander nie.” En die ander een wat, bleek in die gesig, antwoord: “Hoe verskriklik. Dertig jaar en ek het niks verander nie?”

Gelukkig, Goddank, ’n mens kan verander. Nico Smith het verander van ’n saamloper na iemand wat onreg in die kerk en in die samelewing hand en tand beveg het. Sy optrede was dalk nie altyd “reg” nie, sy saak teen onreg was altyd “reg”. En daarom kan ek, wat Nico Smith ook eens as ’n doring in die vlees be­leef het, ’n krans op sy graf lê en erken dat ek en die kerk waarvan ek deel is, dié doring dikwels broodnodig gehad het.

Frits Gaum was in die 1990’s skriba van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Frits en Laurie Gaum se boek, Praat verby grense, verskyn vandeesmaand by Umuzi.

  

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.