Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 3 September 2010
Ateïs hoofspreker by openingsdag van UP teologie - 2010/02/08
Hennie Mouton
 

Dat 'n ateïs en evolusionis, soos prof. George Claassen, uitgenooi word om die hoofspreker by die openingsdag van UP se teologiese fakulteit te wees (2 Februarie 2010), laat al klaar 'n paar vrae, maar die probleem is vererger deur die amptelike replieke daarop, waar die twee teologieprofessors grotendeels nie van hom kon verskil nie.

"Ek kan nie van jou verskil nie", het prof. Cornél du Toit gesê, alhoewel hy darem later gereken het Claassen laat hom te veel uit op die terrein van die teologie, waarvan hy te min weet. "Genetika is die doodskoot vir God, waarop die teologie nog antwoorde moet vind" het prof. Danie Veldsman gesê, maar hy was darem beswaard oor sommige van Claassen se uitlatings.

 En die tragiese is dat George Claassen nie net evolusie gepropageer het nie -- hy het geloof in God en God self blatant aangeval. Hy het by implikasie beweer dat moderne wetenskaplikes, onder andere Charles Darwin, groter gesag as die Heilige Gees het.

Sekerlik het die teologiestudente (en predikante wat daar was) hierdeur geleer hoe die wêreld dink, maar hoe om Bybelgelowig daarop te antwoord, was bitter min sprake van. Was die effek van die geleentheid dus tot opbou of afbreek van die Christelike geloof?

Hoe gaan die leuens wat daar verkondig is en die onvoldoende antwoorde daarop, se negatiewe impak reggestel en omgekeer word? Het George Claassen enige oproep tot bekering daar ontvang van enige van die teologieprofessore?

Leopold Scholtz het op 5 Februarie 2010 in 'n artikel "Ateïs mag predikant bly en sê God bestaan nie" in die Beeld berig dat 'n predikant van die Protestantse Kerk in Nederland van sy preekstoel af verkondig dat God nie bestaan nie. "God is vir my geen wese nie, maar 'n woord vir wat tussen mense kan gebeur," het hy glo gesê.

Lidmate in sy gemeente was baie ontsteld, maar sy kerkraad en die klassis van Zierikzee in die "oorweldigend konserwatief-Protestantse" provinsie Zeeland het bevind dat sy ateïsme nie die fondamente van die kerk aantas nie, en hulle het die prosedure teen hom afgesluit.

Die krities belangrike vraag is of die teologie, en spesifiek die NG kerk se teologie, nie op dieselfde pad is nie. Tenminste sal die kerk dan vreeslik lekker met ateïste kan saamwerk, en die droom van sommige kan verwesenlik van een, groot, "gelukkige", humanistiese wêreldkerk. Mag God ons daarvan bewaar.

 

<<Terug

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.