Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

'n Gepraat is nie 'n gesprek nie

Mense wil praat en daarom skryf hulle. Daarom wemel die kerklike en ander media deesdae van boeke, artikels, onderhoude, briewe en sms’e oor talle teologiese brandpunte in die kerk en ook in die verhouding tussen kerk en samelewing. Dit is goed so!

Ons behoort bly te wees dat daar op die markplein oor die Bybel, teologie en kerk gepraat word; dat die Bybel, teologie, kerk, wetenskap en samelewing, en hulle verband met mekaar, aktueel en nuus is.

Kyk ek egter mooi na dit wat oral gepraat (geskryf) word, ontdek ek tot my verbasing dat die woorde dikwels ’n gepraat is en nie ’n gesprek nie. Dát gepraat en geskryf word, verdien waardering, want in die proses ontdek lidmate ook hulle standpunte, vrae én stemme.

Maar ongelukkig sien ek ook dat woorde gebruik word om mense persoonlik by te kom en mense teologies te verkleineer; standpunte word nie billik weergegee nie; mense hang etikette om mekaar se nekke en deelnemers aan die gesprek lees/hoor mekaar met ’n verskeidenheid subjektiewe filters; geen ruimte word gegun vir verskillende interpretasies of verskille nie; moeite word nie gedoen om na mekaar te luister nie; op liefdelose maniere word mekaar se geloof, belydenis en Christenskap vanuit ’n selfgeregverdigde posisie ge(ver?)oordeel en bevraagteken.

Só word die evangelie in diskrediet gebring en kom die eenheid tussen Christene in gedrang.

Die Moderamen van die NG Kerk was by sy jongste vergadering intens onder die indruk van hierdie probleem. Hulle besluit om sinodes te versoek om prosesse in hulle gebiede te begin vir ’n gesprek oor ons gesprekke is dus baie tydig.

Gesprek is meer as praat: dit “heers” nie; dit geskied met respek, deernis, leerbaarheid, openheid, onderskeiding, erkenning en passie. Miskien kan die verhaal van Jesus en die Emmausgangers ons hierin help.

- Dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk.

 

 

Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.