Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Salig is die afhanklikes

Met die resessie wat die wêreldekonomie op sy knieë gedwing het en meer en meer mense werkloos laat, is 'n eerste vraag: Hoe nadelig is die effek daarvan op mense? Dat dit pynlik is, is seker. Mense kry bitter swaar. Ook kerkmense ly intens.

Dit is ook tragies om te sien hoe ons in die wurggreep van verbruikerisme vasgeval het sodat luukshede as noodsaaklike oorlewingsgereedskap beskou word. Ons het perspektief begin verloor en ook afgeleer om ons seëninge te tel. Miskien moet die Hallelujalied terug Liedboek toe.

As ek die Bybel reg verstaan, het God die wonderlikste tye saam met sy kinders in ’n gestroopte omgewing ervaar. Te veel materiële goed kweek by ons ’n gees van onafhanklikheid (en ons beskou dit in die Weste as ’n besondere deug) wat ons minder op God laat vertrou. Daar lê ’n besondere uitdaging voor die kerk se deur om die afhanklikheidsperspektief by lidmate in te burger.

’n Afskaling in werksgeleenthede en koopkrag gee aan lidmate ’n nuwe hart. Straatstaners en deurkloppers word met baie meer simpatie bejeën. So ook gemeentelede wat hulle werk verloor het of hulle huis of sakeonderneming. “Die een hand was die ander een”, kan gerus maar na ons alledaagse omgangstaal terugkeer.

Ook hier lê vir die kerk ’n wonderlike geleentheid om waarlik kerk te wees in die ondersteuning van mekaar - geestelik én materieel. Selfmoord is vir baie lidmate die enigste uitkoms. Dit skreeu om pastorale begeleiding. Elke kerkraad behoort ’n bediening te hê wat hom hierop toespits. Werkskepping lê ook al hoe dringender op kerkrade se tafels. Hierin kan ’n gemeentelike “geelbladsye” help.

Die ekonomie van die land kan herstel en groei as ons almal ons afhanklikheid van God erken. En as ons besef ons is sy arms, voete en harte.

 

Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.