Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Nigerië-bloedbad laat vraagtekens

Die brutale godsdiensgeweld wat verlede week in Nigerië plaasgevind het, vul ’n mens met weersin. Volgens berigte is ongeveer 500 mense – vroue en kinders van ’n Christengemeenskap – wreedaardig deur Moslem-ekstremiste vermoor.

Dit kan nie anders nie as om ’n mens diep te laat nadink. As godsdiens geweld soos dié voortbring, het godsdiens dan nog bestaansreg?

Dié vraag was baie prominent na die 9/11-tragedie wat volgens alle aanduidings ook ontspring het by ’n groep fanatiese godsdienstiges. Fanatici is mense wat dink hulle doen hulle God ’n guns as hulle andersdenkendes oorwin of uit die weg ruim. Hulle glo hulle word helde vir hulle mense, en martelare vir hulle God.
Die Christelike geskiedenis is opgeskeep met dieselfde ongure reputasie. Die kruistogte van die Middeleeue se skandvlek sal ons nooit kan uitvee nie, en ook nie sogenaamde etniese suiwering wat in die negentigerjare in Bosnië plaasgevind het nie.

Ons moet weer dink oor die bewering dat daar in alle godsdienste altyd ’n subtiele vyandskap te vind is. As dit waar is, verstaan ons hoekom godsdiens tot geweld lei. Hoe meer godsdienstig-fanaties iemand word, hoe meer groei daar ’n weersin in diegene wat nie konformeer nie. En weersin wat nie weer in balans kom nie, gaan oor in haat en aggressie. En op die punte van ’n ongebalanseerde godsdiens bars die brutale geweld uit, soos dit nou in Nigerië gebeur het.

Is godsdienste dan nie maar aandadig aan dit wat die sweep se punt pleeg nie?
Daar is net een manier om die verdagmakery te besweer. Alle godsdienste moet ’n pakt van vrede met mekaar aangaan. Dit klink na ’n onmoontlikheid, maar as die hartklop van elke godsdiens nie die taal van passifisme begin praat nie, gaan die wêreld ’n al hoe groter renons in godsdiens kry. Dit is in die groter godsdienstige bewegings se belang dat hulle absolute vrede voorstaan en alle geweld afsweer.

 

Kommentaar:

Vrede, vrede roep jy
2010/03/29
Die ware Christelike geloof kan nooit afgeforseer word nie. 'n Pakt van vrede met ander gelowe is prysenswaardig, maar nie in die sin van afstand te doen van jou eie geloof as die enigste Waarheid nie. Want dan sou mens God en Christus verloën. Ek mis hierdie punt in bogenoemde hoofartikel van Kerkbode wat veronderstel is om 'n Christelike kerkblad te wees. 'n Alle-gelowe-is-maar-reg-geloof sal nooit die antwoord wees nie, want dit probeer God buite rekening laat. - Flous Niemand
 
Renons in Godsdiens?
2010/03/29
Eerstens moet ons vergeet om vir ons voorouers vergiffenis te vra. Ons doen vandag genoeg sonde om vir ons eie sondes vergiffenis te soek. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad. Dink net aan Aborsie, wat gefinansier word met ons as christen belatingbetalers se geld. Dit maak ons seker almal medepligtig aan moord op die onskuldigstes van die onskuldiges. Van onreg gepraat, hoekom moet ek vir moordenaars se lewensonderhoud en privaat mediese versorging betaal, terwyl slagoffers van geweld hulle eie kostes moet dra!! As mens die twintigste eeu vergelyk met al die voriges moet die mensdom sekerlik 'n renons he in Nazisme, kommunisme, afrika sosialisme ens wat die bloedigste ijn die mensdom se geskiedenis was. Kommuniste sit nou nog in ons parlement. Die haat teen die VSA is hoofsaaklik gebaseer op jaloesie. Oortreding van die 10de gebod. Die haat teen kapitalisme is soortgelyk gebaseer op 'n begeerte na dit wat ander het. Daar is egter 'n totale onwilligheid om te doen wat die ander (wat ryker is) doen.Kruistogte is dalk weer nodig tensy die Moslemwereld Christene toelaat om God meer gehoorsaam te wees as mense. Selfs ons sekulere owerheid sukkel daarmee.Die geweld wat godsdiens voortbring is 'n vulletjie in vergelyking met wat die sekulere owerhede in die afgelope 100 jaar vermmag het. Dit beteken nie dat Godsdientige geweld enigsins aanvaarbaar sou kon wees nie. Maar 'n pasifistiese houding gaan nie die oplossing wees nie. Die Nazi's het die pasifistiese state in dae oorrompel. Dit kan ook nie weer toegelaat word nie. - Jan Buter
 
Nigerië-bloedbad
2010/04/13
Ek het heelwat vriende in Jos, sommige in kerklike bediening en andere in regeringsdiens as baie senior amptenare. Die indruk wat hulle gee is dat die geweld primêr oor die vestiging van kleinhandelsbelange gaan en dat godsdienstige verskille die handige verskoning is om mense teen mekaar op te stook. Terwyl dit 'n puik idee is vir mense wat erns maak met godsdiens om vrede met mekaar te probeer vind, sal pogings tot versoening geen waarde hê solank die onderliggende oorsake nie ontmasker word deur die waarheid nie. - Pieter
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.