Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Cosatu se versoek verdien steun

Die versoek van Cosatu dat daar ’n oudit van staatsamptenare se lewenstyl gedoen moet word, verdien wye steun. êrens moet daar fout wees as ’n werker se leefstyl ooglopend meer flambojant is as sy inkomste.

Dit is onaanvaarbaar om vir mense te werk, ’n salaris daarvoor te verdien, maar agter die skerms het jy lang vingers. Dit is misbruik van mag en immoreel teenoor die mense wat jou moet kan vertrou.

Dit word rampspoedig wanneer die staat nie meer beheer oor die plunder van fondse en die manipulasie van tenders het nie. Fondse wat
dringend noodsaaklik is vir dienste en toelaes. Tenders waarop eerbare hardwerkende burgers geregtig is. Al die gerugte en stories wat oor korrupsie in omloop is, maak Jan Publiek bekommerd. Is die situasie nie reeds buite beheer nie? Het die staat ooit die vermoë om so ’n oudit te doen?

Die karakter van die staat bepaal die gehalte van die nasie. ’n Skoon en effektiewe staatsdiens filtreer oneerlikheid, korrupsie en misdadigheid voortdurend uit. So ’n staatsdiens werk uiters versigtig met die beursie belastinggeld wat die burgers voorsien het.

Die omgekeerde is ook waar. As oneerlikheid en korrupsie in die staatsdiens gedy, dan versprei dit na die res van die samelewing. Dan word dit hoe daardie land is. Die uiteinde is ’n land wat lamgelê word deur ’n kultuur van gryp. Of, “grypsug”, soos Breyten Breytenbach dit noem.

Die regering is dit aan die land verskuldig om die leefstyl-oudit te doen. Die oudit behoort deel van ’n proses te wees waarin daar met alle mag gestreef word na ’n skoon en hardwerkende staatsdiens. Kerkbode ondersteun die versoek van Cosatu.

 

Kommentaar:

-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.