Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Pres Zuma se jammer is nie genoeg

Dit is nie net oor sy flukse libido waaroor pres Zuma oor die vingers getik behoort te word nie. Sy letterlike vermenigvuldiging van mense is iets waaroor die aarde van hom rekenskap gaan vra. Veral van sy kinders.

In Kopenhagen was ons president een van die leiers wat die ontwikkelde lande aangepor het om iets daadwerklik vir die aarde se toekoms te doen. Hy, wat ons afgevaardigde daar was, weet dat oorbevolking ‘n belangrike rat in die komplekse saak is.

Die jongste telling is dat daar 6,8 miljard mense op die aarde woon en dit word beraam dat ons teen 2050 ongeveer 9 miljard sal wees. Tot dan gaan ‘n reeds honger Afrika se bevolking verdubbel terwyl die VSA en Europa se getalle gaan afneem.

In Suid-Afrika het ons die slegte scenario dat daar reeds teen 2020 nie genoeg drinkwater vir al ons mense gaan wees nie. Ons sukkel om ons eie mense uit armoede te kry, dan praat ons nie eens van die massas wat uit buurlande hierheen stroom nie.

As mnr Zuma as rolmodel gevolg word, gaan ander mans ook vrye teuels aan hulle drange gee. Ek verstaan dat baie mammas in die townships, wat reeds huil oor hulle mans se ontrouheid, in moedeloosheid versink het oor die optrede van die president.

Mnr Zuma kan sy apologie opvolg deur vir die operasie te gaan. En dit bekend te maak. En sommer ‘n veldtog begin dat ons strewe na ‘n gehalte samelewing. ‘n Samelewing waarin ons mense geleenthede wil gee om te ontwikkel en waarin ons sensitief vir moederaarde is.

Dit is verblydend dat die president uit eie geledere aangespreek is oor sy seksuele gedrag. Dit is skokkend om te weet dat ‘n staatshoof in ‘n moderne era, homself verontskuldig deur hom te beroep op ‘n vervloë kulturele gebruik.

 

Kommentaar:

President Zuma
2010/02/21
Soos, 'n groot deel van die RSA se bevolking dink ek ook die president se seksuele gedrag is skandelik. Maar ek twyfel of dit regverdig is om hom van aandadigheid aan die oorbevolking te beskuldig oor sy 20 kinders. Mans verwek kinders, maar vrouens bring die kinders in die lewe. As ek Zuma se 20 kinders tussen die aantal moeders verdeel is dit nie veel meer as die 4 wat my vrou in die lewe gebring het nie. Sou daardie moeders kinderloos gebly het as dit nie vir die president was nie? Ek dink nie so nie!

En dan wonder ek of dit darem nie ietwat in swak smaak is om so te verwys na die "mammas in townships" wat so huil oor hul mans se ontrouheid nie. Is dit so dat die township mans meer ontrou is as die mans van Bishops Court of Waterkloof? As 'n mens so luister na die gereeld openbarings en biegstories van bekende sport en vermaaklikheidspersone se eskapades klink dit nie eintlik so nie. - Regverdig
 
Zuma en Moeder Aarde
2010/02/22
Dis hopenlik op sy minste 'n swak woordkeuse om te beweer dat ".....die aarde van hom rekenskap gaan vra....". As daar oortree word sal God (Die Hemelse VADER) rekenskap van ons almal vra. Die MOEDER aarde is in geen enkele opsig in 'n posisie om rekenskap van enigiemand te vra nie.Praat ons hier van 'n afgodiese aarde-aanbidding? Bemerk ek hier iets van die oergodsdiens die animisme?? Wat oorbevolking betref net enkele punte. Suid Afrika is ongevver 1,223,000 vk km groot en daar is ongeveer 6,8 miljard mense op die aarde. As alle mense in Suid Afrika saamtrek sal ELKE INDIVIDU 'n spasie tot sy beskikking he van ongeveer 170 vk m. (die grootte van 'n gerieflike drieslaapkamer huis. Daar is tans 'n groot bevolkingsINPLOFFING aan die plaasvind in Europa,Japan, Rusland, China en verskeie ander lande. Die gevaar is tans baie groter. Die motivering vir klein gesinne(min Kinders) is feitlik sonder uitsondering MATERIALISTIES van aard. Leef lekker, genoeg energie, genoeg hulpbronne,goeie opleiding,ens ens saamgevat 'n strewe na 'n aardse paradys. Die strewe gaan misluk soos alle vorige ideologiee (Marxisme, Nazisme, Sosialisme ens) Die kritiek op Zuma vanuit 'n christelike oogpunt is en behoort beperk te wees tot sy losbandige lewe en veelwywery! - Jan Buter
 
Prez Zuma
2010/02/23
Zuma se seksuele gedrag is in lyn met gods manne van die Bybel. Julle het niks om oor te kla nie. - Detlev
 
Vermaning - Zuma
2010/02/24
Die kerk van Jesus Christus het 'n profetiese verantwoordelikheid teenooor die wêreld. Dit help nie om die gevolg aan te spreek nie. Pres. Zuma behoort aan gespreek /ernstig in liefde vermaan te word oor waar hy staan in sy persoonlike verhouding met Jesus Christus - die wortel van Zuma se probleem. Die NGK moes hom al aangespreek het toe hy verafgod is as Jesus ens voor die verkiesing. Ek kan nie onthou van enige optrede toe nie - behalwe miskien 'n enkele kerkraad. As ek verkeerd is hieroor help my dan reg asseblief. Ek wens die NGK wil ophou om polities korrek te wees en liewer Bybels korrek. Esegiel 3;18 - 19 " Wanneer EK vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe en jy waarsku hom nie,jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie,dan sal hy deur sy sonde sterwe ,maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood. As jy hom waarsku en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid nie,van sy bose optrede nie,sal hy deur sy sonde sterf,maar jy sal jou eie lewe behou." Vermaning moet geskied op grond van Bybelse beginsels en nie op humanistiese wyse nie. - Attie
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.