Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Malema se destruktiewe kruisvaart

Suid-Afrika se reënboognasie is ’n wonderwerk. Danksy die genadige teenwoordigheid van die Here en fenomenale menslike instrumente soos Nelson Mandela en Desmond Tutu.

Die unieke nuwe gemeenskap wat onstaan het, is enig in sy soort in die wêreld. Maar nie voltooid nie. Elkeen van die kleure in die reënboog dra maar ’n vooroordeel jeens die ander. En dit sal seker nog lank so wees. Maar om op die lang termyn te oorleef, moet die vooroordeel minder word. Die vertroue moet meer word. Vir goeie naasbestaan moet die kleure mekaar ag en ruimte gee om hulleself te wees.

Na die wonderwerkende begin, het dit ’n uitdagende proses geword. Korrupsie, swak dienslewering en oorgeblewe rassisme is van die ruspes wat die jong nasie wil opvreet. Maar daar is nog wil en genoeg energie om die wurms te beveg.

Maar Julius Malema en sy meelopers is op ’n kruisvaart om dit wat reeds gebou is, af te breek. Om spreekwoordelik die erflating van Madiba deur te bring. Aanvanklik is gedink dat Malema net ’n voortvarende jong turk is wat mettertyd sal kalmeer. Maar nou lyk dit of sy destruktiewe opmerkings momentum kry. En niemand kry dit reg, of het die wil, om vir hom ’n toom aan te sit nie.

Malema se uitbarstings wakker skeptisisme aan. Sy optrede maak dat mense aan hulle verworwe hoop en vertroue in mekaar begin twyfel. So word stereotipe idees weer opgerig. Suid-Afrika het nou jong swart leiers nodig wat positief is; wat ’n toekoms vir almal wat inheems is, in die land sien. Wat positiewe verandering wil maak, sonder verwyte en dreigemente.

Malema gaan dit waarskynlik nie verstaan as Kerkbode of enige wit organisasie dit vir hom sê nie. Dit sal meer gewig dra as swart leiers en veral gerespekteerde kerkleiers met hom praat. Dit sal goed wees as hulle vir ons almal se veiliger Suid-Afrika in die bres kan tree.

 

Kommentaar:

Malema dilemma
2009/10/20
Wat u sê is so waar. Die gevaar is dat die konsekwensies van die polarisasie wat Malema se uitsprake veroorsaak, klaarblyklik nie deur hom verreken word nie. Op ander plekke in die wêreld is massamoorde voorafgegaan deur die skep van presies dié soort sielkundige klimaat wat Julius nou aanwakker. Ons sal ernstiger as ooit noet bid vir genade van Bo. - Bertus Cornelius
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.