Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010

Die versoener wat nie 'good riddance' wou wees nie

Jean Oosthuizen

“Ek sou so graag voordat ek van die toneel verdwyn, wou hê dat mense nie dan sal dink ‘good riddance’ nie.”

Só het prof Nico Smith kort voor sy dood aan Kerkbode geskryf. Prof Smith wou graag voor sy dood ’n beweging in die lewe help roep waar mense hulle verbind tot vriendelikheid teenoor alle ander mense met wie hulle daagliks in aanraking kom. Veral dié mense wat anders is as hulleself. Dit was hom egter nie beskore nie. Hy is verlede maand in die ouderdom van 81 skielik oorlede.

’n Artikel van dr Frits Gaum, wat verlede jaar in Kerkbode verskyn het onder die opskrif “Dalk is versoening nooit heeltemal te laat nie”, het wyle prof Smith as tagtigjarige diep laat nadink. Hy het gedink oor al die mense met wie hy, en baie meer mense met hom, nog onversoend geleef het.

“Met onversoend bedoel ek gewoon mense van wie ek nie hou nie en hulle wat nie van my hou nie. En om nie van iemand te hou nie, beteken tog ten diepste dat ek geen aangename gedagtes omtrent die persoon koester nie,” het prof Smith aan Kerkbode geskryf.

Oom Nico, soos hy algemeen bekend was, was terdeë bewus daarvan dat hy nie oral ewe geliefd was nie. “Natuurlik weet ek dat ek talle mense aanleiding gegee het om so oor my te dink. Ek glo nie dat versoening beteken dat jy jouself vir almal aanvaarbaar moet maak nie. As ek dit sou probeer doen het, sou ek ontrou aan myself, en veral aan die Evangelie wat vir my as rigsnoer vir my lewe dien, gewees het.”

Vir hom was die vraag hoe ’n mens versoen moet raak met almal aan wie jy rede gegee het (of hulle aan jou) om met hulle in onvrede te leef. “Sou ’n mens aan hulle almal ’n brief moet skryf en om vergifnis vra vir alles waardeur jy onvrede met hulle veroorsaak het?” wou hy weet.

Toe hy egter daaroor nadink het hy besef dat hy vir die res van sy lewe daarmee besig sou moet wees. “En dan nog sal ek nie die einde van die lys kan bereik nie.”
Met sommige het hy wél versoen probeer raak, maar dit was tevergeefs. Oor hulle het hy gesê hy het bykans ’n gevoel (al is dit nie die Christelike weg nie), soos die oom wat deur die dominee aangespreek is oor sy twee goddelose seuns, en toe gevra is wat hy as vader daaromtrent probeer doen. Die oom se antwoord was: “Dominee, ik heb voor hen gebeden en toen aan de duivel over gegeven.”

Vir Nico Smith was die groot onversoendheid wat tussen die mense van ons land bestaan, waarskynlik die swaarste. “As mense vir só lank in ’n staat van onversoendheid geleef het, is daar dan enige hoop dat hulle tóg eendag op ’n wonderbaarlike wyse tot versoening sal kom?” het hy dikwels gewonder.

“Daaroor het ek in my leeftyd al veel geworstel sonder dat daar lig in die tonnel gekom het. Trouens, daar is tans soveel rede om te wanhoop oor intermenslike verhoudings in ons land. In plaas van nader aan mekaar te beweeg, wil dit voorkom asof ons steeds verder uit mekaar beweeg,” het hy in een van sy laaste korrespondensies aan Kerkbode geskryf.

Dit het hom egter nooit laat ophou streef na versoening nie. Tot met sy dood het hy hom daarvoor beywer. “Ouderdom gee my egter geen rede om te sê dat daar niks aan te doen is nie. Dat ek dit maar aan die komende geslag moet oorlaat om daar ’n oplossing voor te probeer vind nie.”

Kort voor sy dood het hy as 81-jarige nog voelers uitgesteek na swart, bruin, Indiër, en wit vriende. En voorgestel dat hulle ’n mensvriendelike beweging moet begin.

Hy het gesê daar bestaan reeds tientalle vriendelikheidsbewegings in Suid-Afrika – vriendelikheid teenoor die omgewing, die natuur, bedreigde plant-, boom-, voël- en dierspesies, maar nêrens ’n mensvriendelike beweging nie.

Die grootste monument vir Nico Smith sal die totstandkoming van so ’n  mensvriendelike beweging wees. ’n Plek waar mense hulle in sy eie woorde doelbewus sal verbind tot ’n vriendelike gesigsuitdrukking en ’n glimlag. En waar moontlik ’n vriendelike gesprek met mekaar.

’n Plek waar hulle vir mekaar kan sê dit was inderdaad nie “good riddance” nie.

- Jean Oosthuizen is nuusredakteur van Kerkbode.

 
Kommentaar
Humanis Nico Smith
2010/07/15
Kom ons bring eer aan 'n groot humanis, dr Nico Smith. Ek het verskeie kere geluister na hom. Die mens was eerste in alles wat hy benader het, en het sentraal gestaan in sy denke. Hy sou soms in lange gesprekke wees (o.a op TV) en nie een keer na God of Jesus Christus verwys nie, hoewel hy as 'teoloog' voorgestel word! Maar hy sou as oplossing vir SA se probleme en vir rassisme, aanhou hamer op hoe noodsaaklik dit is om "vriendelik" te wees teenoor mekaar. Syne was 'n vlak en nuttelose bydrae. - Somerset
 
Mensvriendelike beweging?
2010/07/19
Die grootste Mensvriendelike Beweging was seker dié een wat God geloods het en waarvan die mens Jesus die Ambassadeur van Godsweë was. Hy't ook onmiddellik die krisis aangewys... As iemand mense aan mekaar wil verbind, moet iemand die risiko loop om die haat en nyd wat tussen die persone bestaan, te ontlaai. Is dit nie juis die betekenis van die kruisgeskiedenis nie?
Die lidmaatskap van so'n Mensvriendelike Beweging vra dus 'n dure investering. Jy sal aanhoudend die flak moet vat wat heen en weer kaats tussen die mense... terwyl jy juis self die heel tyd alternatiewe aanwys aan almal betrokke. Dis presies die verhaal van Nico Smith.
Ons sal dalk as bonus ontdek dat so'n beweging die restorasie van die kerk veroorsaak. Juis as mense ontdek dat hulle nie meer saam deur een deur kan loop nie, gaan hulle soek na 'n Andere weg, die Weg na Bo. Dan gaan ons ontdek dat die weg na die hart van 'n vreemde medemens net te bereik val deur self die Hart van God te ken en te verken. Kortom, net deur 'n mensvriendelike liturgie in die kerk te onderhou, sal ons via God's liefde vir ons almal die weg na alle vreemde medemense vind.
Is dit nie juis die intensie van die groot Sendingbevel nie? Nico het gewoon op sy eie manier gevra vir 'n restorasie van die Egte Kerk na God's hart. Hy het so ook gewoon, tot aan sy dood, niks anders gebly as 'n Hoogleraar in die Sendingwetenskao ;-) Goeie en getrouwe dienskneg...oor min was jy getrou... - Henk Zeeman
 
-Lewer kommentaar-
This Is CAPTCHA Image   (Tik die nommers hier in)
 
Gesprekke Argief
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.