Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 10 Maart 2010

Willie wou nie 'n dominee word nie

Anton Pienaar
Willie de Jager het nie teologie gaan studeer omdat hy ’n dominee wou word nie. Hy het net nie kans gesien om die wonderlike studentelewe na slegs drie jaar vaarwel te roep nie. Sy pa het vir hom en sy broers gesê hy sal hulle ondersteun om elkeen een graad te behaal. Dit is dit. 

“Die sleutel was my engel-ma. As ek haar kon oortuig dat ek soos Oupa ’n dominee wil word, dan sal sy pa oortuig. So kry ek nog drie jaar op Tukkies.
“Na my suksesvolle BA Admissie-graad, met die buitengewone hulp van Wally da Silva, het ek toe weer ’n plan bedink. Maar ek het nie rekening gehou met die Army nie. Hulle sou nie my ma glo nie. Ek kan ’n bietjie musiek maak en probeer toe plek kry in die Weermag se vermaaklikheidsgroep. Ek het ingekom omdat ek die manne kon oortuig dat ek fles kan vat.

“Na weermag was dit ’n ander storie. Op en af, maar lekker. Ek leef voluit. Maar stout. My verhouding met my pa is sleg, en ek neuk twee huwelike op. Op ’n dag is daar ’n snaakse knop in my skouer. Die kort en die lank, die dokter sê vir my dit is kanker. ’n Kanker in die limf.

“Ek gaan huis toe en vat ’n papier en begin die dinge van my lewe neerskryf. Op een dag word ek gekonfronteer met die dinge wat ek in my lewe aangevang het, en met God. Die God wat ek altyd in my engel-ma en engel-ouma raakgesien het. Ek skryf. Alles wat ek verkeerd gedoen het. Vier bladsye. En ek vra Hom om my te vergewe. Toe ek klaar is, toe skryf ek onderaan die bladsy nog ’n sin. Vergewe my ook vir dit wat ek nie kan onthou nie.

“En van toe af is ek in die hande van die Opperbevelvoerder. Ek het ook met my pa gaan regmaak. Een middag in die bovertrek van ons plaashuis in die Vrystaat, het ons oor ’n bottel Chivas Regal mekaar gevind. Hy was reeds baie siek – ook met kanker. Laat die aand moes ek hom oor my skouer gooi, teen die trap afdra en in die bed gaan sit. My trotse pa wat my nie geken het nie. En ek nie vir hom nie. Wat nadat ek hom van my lewe vertel het, vir my gesê het die dinge wat ek aangevang het, wou hy nog altyd doen, maar het nooit die moed gehad nie.

“My pa se kanker het hom gevat, want hy was nie meer jonk nie. Maar my kanker is onder beheer van die Opperbevelvoerder. En Hy het nog baie planne vir my. Die kanker is sy manier om my te ‘challenge’. Hy wil sien of ek Hom regtig vertrou. Ek het vir Hom gesê ek gaan van nou af voluit vir Hom lewe. Ek kan nie wag dat hierdie goggas uit my lyf is nie. Die grootste avontuur van my lewe het begin.”

Later. Daar is ander knoppe ook. “Miskien het die Opperbevelvoerder tog ’n ander plan ook. Dalk wil Hy my by Hom hê. As ek nou sê ek gaan dood, dan stel ek Hom dalk teleur? As dit God se wil is dat ek moet doodgaan, sal ek dit aanvaar. Dit is tog die beste by Hom. Maar ek gaan hom nie teleurstel nie. Hoe weet ons wat God se wil is? Hy kan enige tyd intree in my liggaam en die goed begin doodmaak. Hy kan. Ek gaan wag daarvoor.”

Ons het saam met Willie gewag. Maar in die vroeë somer van 2009 het sy Opperbevelvoerder hom kom haal. Vroeg in sy vyftigs. Hy het nooit ’n dominee geword nie, maar ’n groter draer van God se liefde en vergifnis, het ek nog nie teëgekom nie.

 
Geestelike Groei Argief
I N ..L G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.