Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010
'Sjibbolet' is 'n gevaarlike woord - 2010/07/15
 

Ek weet nie baie van die menslike liggaam nie – ek het nie eens fisiologie of biologie op skool gehad nie. Ek weet bitter min van die sogenaamde geestelike liggaam. Ek weet niks van die goddelike liggaam nie. Daarom is dit vir my verwarrend as mense allerhande stellings oor allerhande liggame maak.

So skryf Johan Janse van Rensburg op 28 Junie 2006 in Kerkbode: “Die uniekheid van Christus kan tog nie ter wille van sy ware mensheid opgeskort word nie.” En: “... as Jesus getroud was (en hier lê die grootste lastering) sou dit impliseer dat die Godheid van Christus met ’n vrou omgang gehad het!” Ek probeer die gedagtegang al van 2006 af verstaan, en voel huiwerig om die implikasies op te noem. Maar dit kom daarop neer dat Christus uniek is, en in sy uniekheid nie lasterlike liggaamlike funksies sou gehad het nie. Die unieke liggaam sou dan sekerlik ook nie lasterlik gesweet en “smelly” gewees het nie (Stephan Joubert, Beeld, 18 Mei 2010, praat van die “smelly” Jesus).

In Kerkbode (21 Mei 2010) impliseer Janse van Rensburg dat Jesus met dieselfde liggaam waarmee Hy geleef het, gesterf het en opgestaan het uit die dood. Ek aanvaar dat hoewel hy dit nie daar sê nie, hy die “unieke liggaam” bedoel. Maar wat beteken dit dan? Sou doodgaan nie ook lasterlik wees vir die unieke liggaam nie? En waarom soveel klem lê op die liggáámlike opstanding as ’n gewone menslike liggaam nie ter sprake is nie?

My verwarring word verder vererger as juis hierdie liggáámlike opstanding as “sjibbolet” van ons geloof aangekondig word. As daar dan ’n sjibbolet moet wees, moet dit veel eerder die aanvaarding van die volle liggaamlikheid en menslikheid van Jesus Christus wees. Dit is tog wie Hy is: die een wat Hom verneder het om Hom uit liefde ten volle met die mense te vereenselwig tot in hulle “smelly” lasterlikheid. En tot hierdie selfde liefde word ons ook in die Bybel opgeroep!

Sjibbolet is egter ’n gevaarlike woord. Dit is oorspronklik (vóór Christus) toegepas om mense wat anders is uit te snuffel en dood te maak. Dit sal beter wees as ons die woord, saam met alle moderne pogings om die onverstaanbare en onbewysbare te bewys en te kategoriseer, laat vaar, en aan almal die vryheid laat om die genade van die Here te beleef.

 
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.