Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Jou storieráák my

ELSJE BüCHNER

SY WAS AL TWAALF JAAR LANK bitterlik alleen. Volgens die Ou Testamentiese wette in Levitikus 15:25 was sy onrein. Enigiemand wat aan haar geraak het was ook onrein. Vir twaalf jaar lank kon niemand by haar gekuier het nie, kon sy nêrens heen gegaan het nie, kon niemand aan haar geraak het nie, mag sý aan niemand geraak het nie. Raak was uit.

Agter onreinheid kon jy “onwelkom” skryf en net die priester kon vir so ’n persoon versoening by die Here doen as die rede vir die onreinheid opgeklaar is. Maar sy kon nie eens na die priester toe gaan nie, want die onreinheid wou nie weggaan nie.

En in die proses het die samelewing haar eenkant toe geskuif. Twaalf jaar lank. Mense vergeet van jou oor ’n tydperk van twaalf jaar. Hulle gaan met hulle lewens aan. Jou storie raak hulle nie meer nie.

Toe hoor sy van Jesus en sy begin dink: “As ek net aan sy klere kan ráák.” Sy wou net daardie een ding doen wat sy vir 12 jaar lank nie mag gedoen het nie. Net aan iemand raak. Dalk word sy gesond. En sy het dit na buite gewaag.
Die skare het Jesus omring. Deurkomkans was min. êrens het sy tog haar hand deur gekry en aan sy klere geraak. En sy het gesond geword.

Die res van hierdie merkwaardige heelwordverhaal raak my egter meer.
Jesus het agtergekom dat sy aan sy klere geraak het. Hy het gestop en haar storie gevra.

Kan jy die skare se reaksie sien? Dat so vrou aan Jesus se klere gevat het? Jesus het haar nie veroordeel nie. Hy het haar nie eenkant toe geskuif of eers ’n reëlboek uitgepluk en na die priester toe gestuur nie. Haar rou storie van twaalf jaar se alleenheid het Hom diep geraak.

En Hy het haar heel gemaak. Die Hoëpriester Jesus het vir haar geestelike en emosionele genesing gebring. Hy het haar lewe verander.
Ons skuif so dikwels mense eenkant toe as hulle nie binne die raamwerk van ons idees of in ons groep of ons gemeente inpas nie. Verkeerdelik beoordeel ons mense maklik op sigwaarde en skuif hulle weg.

In hierdie stukkende wêreld soek mense die sagte aanraking van heelwordwoorde en die liefde van Christus. Kom ons staan ook by mense soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Mag húlle stories ons ’n slag aanraak, en óns en hulle verander.

- Dr Elsje Büchner is leraar van die Lux Mundi-Gemeente in Pretoria.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.