Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Wat gaan ons doen om gasvry te wees?

Anton PIenaar

Christene word geesdriftig aangemoedig om gasvry te wees teenoor buitelandse besoekers tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi. Dit is een van die sterkste maniere van getuig, is baie se oortuiging.

Maar wat is gasvryheid? Wat moet ons doen om ons gasvryheid te laat blyk? ’n Kykie in die rol wat gasvryheid in vroeë samelewings gespeel het, laat ons gou besef dat daar kreatief met die begrip omgegaan sal moet word.

Bruce Malina gee in The social world of Jesus and the Gospels waardevolle insigte oor hoe gasvryheid in die antieke samelewing plaasgevind het.
Gasvryheid móés beoefen word, veral teenoor vreemdelinge. Die leë stoel en gedekte bord in baie van ons ouers se huise is ’n oorblyfsel van die ou gebruik. Soms was die vreemdeling wat in ’n gemeenskap gekom het, ’n uitdager. En soms was hy net ’n gewone gas. Die groep moes besluit hoe hulle die vreemdeling gaan benader. Indien hy ’n uitdager was, moes een van die groepslede namens die groep die uitdager die stryd aansê. Indien die vreemdeling as oorwinnaar uit die stryd getree het, is hy in die sosiale ruimte van die groep aanvaar en gerespekteer. Die hele groep moes hom dan aanvaar. Indien hy verloor het, het die diskresie by die groepslid wat hom oorwin het berus of die groep hom moet aanvaar of nie.

Wanneer Jesus in Markus 6 sy dissipels aansê om die stof van hulle voete af te skud, was dit juis wanneer hulle by gemeenskappe of dorpe aangekom het waar hulle nie gasvryheid ervaar het nie.

’n Vreemdeling moes altyd ’n gasheer vind wat hom in die ruimte van die groep sou versorg. Die res van die groeplede was dan verplig om respek aan die gas te bewys. Disrespek aan die gas sou ook disrepek aan die gasheer beteken. En dit was onaanvaarbare gedrag. Soos ek ook respek aan my kinders se vriende wat kom kuier, moet betoon.

Wanneer jy nie jou beste vir jou gas gegee het nie, het jy strydig met die sosiale gebruike van die tyd opgetree. Gasvryheid het meesal ’n voetewassing, ’n salwing, die weghou van ongewenste mense, en iets om te eet geïmpliseer.
Gasvryheid het nie wedersyds tussen individue plaasgevind nie, maar was ’n algemene gebruik tussen groepe. Christene is aangemoedig om medegelowiges wat gereis het, gasvry te ontvang.

Die samelewing se reël was, doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê, en ontvang die vreemdelinge, sodat dit met jou ook gebeur. Die vreemdeling wat gasvryheid ervaar het, was verplig om op sy verdere reis te vertel van die goeie ontvangs wat hy gehad het.

Dit kon ook gebeur het dat die gasvryheid nié plaasgevind het nie. Gewoonlik is die weggewyste persoon dan daar weg as vyand. Die opmerking wat ons oor Jesus in Johannes 1 lees, is ’n aanduiding dat Jesus nie gasvryheid by sy eie mense ontvang het nie. Daar staan geskryf: Sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Gasvryheid twintig eeue later lyk nie meer soos in Jesus se tyd nie. In ons konteks beteken gasvryheid dat ek vriende, familie en bekendes sal onthaal, met die idee dat hulle dit aan my gaan terugbewys.

In die antieke tyd was gasvryheid normaalweg teenoor vreemdelinge, met die idee dat ’n groep dit weer aan jou sal terugbewys. In die moderne tyd is dit iets wat binnenshuis gebeur en die hoeveelheid geld wat ek gaan bestee is die onderliggende waarde. In die antieke tyd was dit iets wat in die buitelug gebeur het, en die onderliggende waarde was respek.

Hoe gaan ons gasvryheid betoon aan die vreemdelinge wat in ons midde gaan wees vanweë die sokker? Dalk nie met ’n voetewassing of salwing of groot feesmaal nie. Maar ons kan begin met respek, hoflikheid, vriendelikheid, hulp waar ons kan, en wie weet, dalk eindig ons met voete onder dieselfde tafel!

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.