Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

God is versigitg met ons

Eric Stander

“Ek reken nie vir altyd sondes toe nie. Ek bly nie vir altyd toornig nie, want anders sou dit die einde van die mens beteken, die mens aan wie Ek asem gegee het” (Jes 57:16).

God ken die mens wat Hy gemaak het. Hy weet die mensekinders is nie volmaak nie. Selfs hulle wat Hy tot kindskap geroep het, leef nie altyd volgens sy reëls nie. Ons is net te swak, te menslik, te sondig. Hy kan nie vir altyd kwaad bly nie. God het die mens so gemaak dat Hy teenoor ons genadig en vol liefde kan wees.

Hy is ons ewige Ouer. Sy verhouding met ons word aangedryf deur die liefde. Daaruit word die genade gebore. Ons het nie te doen met ’n nare kwaai wese op die ewige troon nie. Ons Vader in die hemel ken sy kinders. Ons is die produk van sy heilige hande. Niemand ken jou foute beter as Hy nie, want Hy weet hoe Hy jou saamgestel het.

Hy bly verseker nie kwaad vir jou nie. Dan sal sy heilige woede oor sy kinders se ontrou die mensdom se einde beteken. God is versigtig met ons, want Hy het ons lief.

En ons? Kyk ons ook met dieselfde versigtigheid en liefde na Hom? Probeer ons ook ons verhouding met Hom verbeter? As ons dit doen, sal die sonde minder word en die eenheid met ons Vader sterker. Dan sal elke dag vir ons heerlike betekenis hê en ons sal bruikbare kinders vir die Here wees.

Here, dankie dat U nie vir my kwaad bly nie. U wil die mensekinders nie uitwis nie. U wil ons net red van ons foute en swakhede.

- Eric Stander is die besturende direkteur van Aktuapers.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.