Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Wanneer God lyf kry

Val Burger

Ons het onlangs by Mbizi, anderkant Bela Bela, gaan kampeer en die Maandagaand heerlik vis gebraai.

Soos ’n goeie Weskusklong-van-ouds het ek die viskop getakel en heerlik die laaste sagte vleisies uitgesuig, toe ek ’n beentjie insluk. Na ’n sny brood, ’n stuk beskuit en ’n glas vrugtesap sit die been asof dit nog altyd daar – dwars in my krop – moes wees. Die plaaslike dokter het geskrik toe ek sê dat ek hom daaroor wil kom spreek. Hy verwys my dadelik na ’n spesialis in Pretoria!
Ek en Ronelle moes maar al slukkende gaan slaap en ry toe vroegoggend terug Pretoria toe. So ’n uur en ’n half na ons aankoms, word ek in die teater ingestoot om so vir ’n uur of wat lekker te slaap terwyl dr Nisius die viskopbeen uit my keel haal.

Daarna was dit maar seer en moes ek gevoed word deur pypies in my neus en arm. Ons het gedink ons sou dieselfde aand terug in ons woonwa wees, maar die dokter het ander planne gehad.

Na al die angs en stres van die Maandagaand en Dinsdagoggend se narkose en nog twee dae in die hospitaal, besef ek skielik een oggend dat ek nie by my oggend-stiltetyd uitgekom het nie. Ek het wel ’n hele paar skietgebedjies opgestuur, maar niks meer as dit nie! Ek het skuldig en alleen gevoel.

So tien minute na daardie oomblik, kom daar ’n vrou na my bed, praat met die verpleegster en toe vra sy my of sy vir my iets uit die Bybel kan lees en vir my kan bid. Ek kon haar nie antwoord nie, want die trane het gerol toe ek besef dat hoewel ek die Here afgeskeep het, Hy nie dieselfde aan my gedoen het nie. Hy het my persoonlik kom besoek!

Na ons dominees se agtereenvolgende preke verstaan ek nou beter hoe God met ons is en dat Hy daardie oggend langs my bed “lyf gekry” het.

Ek weet nie of ons kerk nog ’n hospitaalbediening het, of watter gemeente se uitreikaksie my daar in die Pretoria-Oos-hospitaal besoek het nie. Maar ek sê dankie aan diegene wat sulke wonderlike werk doen! Ek was nie toe in staat om ordentlik dankie te sê nie, maar wees verseker dat julle “God lyf gee” deur julle onbaatsugtige diens.

-  Val Burger is lidmaat van die NG Gemeente Stellastraat in Pretoria.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.