Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Die gesukkel staan dikwels afgeëts op die vroue se gesigte

Danie Mouton

“Ek het nooit gedink die Here sou mý kon gebruik nie. Maar Hy het, op ’n verrassende manier.

“Die projek vir vrouebemagtiging wat ons gemeente aanbied, het ’n besondere seën in my lewe geword.” Aan die woord is Rita Louw, leier van die NG Ge­meente Port Elizabeth-Noord se vrouebemagtigingsprojek.

Rita vertel dat baie vroue in hulle gemeente se semi-industriële omgewing bitterlik swaarkry. Van die vroue is werkloos, ander kry swaar onder die tirannie van lewensmaats (hulle word soms bedags letterlik toegesluit as die eggenoot nie tuis is nie). Ander se mans en seuns smokkel perlemoen, en nog ander is by dwelmhandel betrokke. “Die gesukkel staan dikwels afgeëts op die vroue se gesigte.

“Tussen die versorging van mans en kinders is daar nie nog tyd of bronne om aan hulleself aandag te gee nie,” verduidelik Rita. “Ons het net besef dat ons nie met ons knus bestaan kan voortgaan terwyl mense rondom ons vergaan nie.”
Die gemeente het besluit om met hierdie vroue vriende te maak, hulle te help om menswaardigheid te ontdek en te leer om vreugde uit die lewe te put.

In ’n eerste fase het hulle op die “af­vlerkies” – soos die vroue met deernis genoem word – se uiterlike voorkoms gefokus. Daar is met haarsorg begin.  Daarna het velsorg, naelversorging, die kies van klere, kleure en bykomstighede gevolg. Op die laaste aand het hulle foto’s van die vroue vóór en ná vertoon. Die verskil in voorkoms, selfbeeld en vreugde was opvallend.

Die tweede fase het op handvaardigheid gefokus. Die vroue het geleer om mooi sepies en kaartjies te maak, asook eenvoudige juweliersware en ’n paar beginsels van voedselvoorbereiding. Die derde fase het ’n geestelike inslag gehad en het oor Bybelstudie en Bybelvaardighede gehandel.

Hoe het hulle dit reggekry om die vroue by ’n kerklike projek betrokke te kry? Rita lag: “Dit was nie so maklik nie, want die vroue uit die gemeenskap wantrou die kerk. Hulle beleef kerkmense as mense wat maklik oordeel, en vermoed kerkmense dink hulle is beter as hulle. Dit bring beskaming mee, wat ons moes oorkom.”

Die deurbraak het by die laerskool langs die kerk begin, vertel Rita verder. “Ons vroue het doelbewus by sportgeleenthede en by skoolfunksies begin verhoudinge bou met hierdie vroue.”

Ons het die “afvlerkies” aanvanklik genooi om ’n uur per keer aan ons program deel te neem. Ons het tee na die tyd geskink en lekker koekies geëet. Soos die vertroue gegroei het, het die vroue langer begin bly, en het ons vriende geword. Hulle het meer selfversekerd geraak en ook begin kerk toe kom. Die gemeente het begin groei omdat daar nuwe verhoudinge tot stand gekom het met mense wat tradisioneel buite die kerk gestaan het.

“Ja, dit was vir my ’n geestelike belewenis dat die Here my kan gebruik,” sluit Rita af. “My eie selfbeeld het gegroei. Een van die vroue het my as haar suster ‘aangeneem’, en jy sal nie glo wat dit vir my beteken nie. Verder het ek geestelik gegroei en die Here se vaderhart baie beter leer verstaan. Dit het vreugde en sin in my lewe gebring.”

* Ds Danie Mouton is Direkteur Begeleiding van die Sinode van Oos-Kaapland.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.