Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

'Die Here moet op ons kan ry'

Anton Pienaar

Ons het baie oor godsdiens gepraat. Hy was ernstig, baie ernstig oor sy geloof in Jesus. Ek het hom ook voortdurend met die Bybel gekry. Hy kon nie ophou lees aan die Bybel nie.

Esau Kaiko was die kapelaan se klerk in 1 SWA Spesialiste-eenheid. My assistent op Otavi in 1986 toe ons militêre diens moes doen in die Noorde van Namibië. ’n Aristokratiese Hereroman in sy twintigerjare. Pynlik netjies en hoflik. Bykans vlot in Afrikaans. Sy uniform en gedrag altyd onbesproke.
Eendag, onverwags, staan hy met die Bybel in die hand in die deur van my kantoor. Hy wou my iets vra. Iets van die Bybel.

“Die storie van Jesus wat op die donkie se rug gery het, wat beteken dit?” het hy gevra. My sensors is uit. Die hele Suidwes is vol donkies, dit is ’n primêre vervoermiddel vir baie mense. Het die vraag dalk daarmee te doen? Dalk nie. Ek moet die veilige roete kies.

“Dienskneg en nederig,” was die som van my reaksie; ek hiperventileer ’n klomp onbeholpe woorde. Hoe dieper ek probeer delf in my eie teologiese raamwerkie om iets van die paradoks van die koning op sy donkie te verduidelik, hoe meer het ek gewaar dat Esau nie hoor wat ek sê nie.

Hy het net gestaan en luister. Toe ek klaar was, praat hy stadig. Afgemete. “Ek dink,” sê hy, “dit beteken ons amal moet soos donkies wees. Die Here moet op ons kan ry.” En toe bly hy stil. Net dit.

Ek wou nog protesteer, en vir hom verduidelik dit is nie die betekenis van die verhaal nie. Maar toe bly ek ook stil. Toe ek my woorde kry, was al wat ek kon sê: “Ek dink jy is reg. Jy is heeltemal reg.”

En so sag as wat hy ingekom het, so sag is hy daar uit. Emosieloos, soos hy was, maar ek kon die tevredenheid in sy hart aanvoel.

Ek het al dikwels oor daardie voorval gedink. Vir ’n oomblik is ek met ’n eenvoudige nie-teologiese opmerking gekonfronteer. Ek wou dit afmaak. Maar toe kom die ingewing, dit is waarskynlik een van die grootste teologiese stellings wat ek ooit gehoor het. Vandag glo ek dit onvoorwaardelik.

Ek kan maar net ’n draer wees van die onselfsugtige Liefde wat na my toe gekom het.

¢º  Ds Anton Pienaar was dienspligkapelaan van 1986 tot 1987 van 1 SWA Spesialiste-eenheid op Otavi in die Noorde van Namibië.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.