Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 30 Julie 2010

Onverslane, onoorwonne ... Invictus

Die film Invictus, wat die afgelope tyd in teaters gedraai het, het fliekgangers na ’n trotse tyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis geneem. Nie net ’n oomblik van trots nie, maar na gesindhede wat inspirerend was, ’n era van hoop. Die film handel oor die “Madiba-magic” en dit wat gebeur het agter die skerms van die Wêreldbeker-oorwinning in 1995. In daardie oomblik was daar hoop dat Suid-Afrika ’n land gaan wees waarin versoening die oorwinnaar is. Pieter van Niekerk interpreteer die film in die lig van die evangelie.

Kuns het die vermoë om nie net ons sintuie te streel nie, maar om ons hart en verstand aan te raak, ons nuut te laat interpreteer, vars gedagtes te inspireer en ons tot dade te aktiveer. Die hartroerende Clint Eastwood-film Invictus het William Ernest Henley (1849 -1903) se betreklik onbekende gedig met gelyknamige titel vir ons afgestof. Madiba het hierdie gedig, wat hom in die gevangenis geïnspireer het, in 1995 aan Springbok-rugbykaptein Francois Pienaar met die Wêreld­bekertoernooi gegee. Destyds se Amabokoboko-oorwinning op die grasgroen Ellispark word vandag steeds trots besing.
In die Evangelie heers kennelik ’n gees van oorwinning. Aan die kruis was Jesus se gesig vol bloed, maar sy gees was ongebroke. (“My head is bloody but unbowed.”) Hy is ons voorbeeld van, en inspirasie vir, ’n gees wat nie oorwin kan word nie. Ons is volgelinge van die Kaptein, wat as onoorwonnene ons oorwinning lei.

Mag volgelinge van Jesus steeds deur die Evangelie se versoenende krag geïnspireer word. Ek glo dat God deur sy lewegewende Woord en Gees ons in staat stel om onversoenlikheid en haat, bitterheid en vyandskap, te oorwin; dat Hy sy volk in staat stel om in ’n nuwe gehoorsaamheid te leef wat in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring (die Belydenis van Belhar).  

Madiba se gees van versoening is evangelies kragtig. In hom sien ons iets van God se liefde wat ’n mens vry kan maak. Al gebeur verskriklike dinge met ons, is dit moontlik dat ons oorwinningsbeker bly oorloop en nooit leeg raak nie (Rom 8:31-39). In donker omstandighede en wat ook al die noodlot bring, oorwin bestemming en kans nie (Strydom). Madiba se selflose optrede dui op ’n onoorwonne gees. Dit is iets soortgelyks aan wat Paulus as ’n reuse-oorwinning deur Hom wat ons liefhet, beskryf.

- Dr Pieter van Niekerk is leraar van VGK Gemeente Friemersheim.

Invictus
Out of the night that covers me,
Black as the Pit from pole to pole,
I thank whatever gods may be
For my unconquerable soul.
 
In the fell clutch of circumstance
I have not winced nor cried aloud.
Under the bludgeonings of chance
My head is bloody but unbowed.
 
Beyond this place of wrath and tears
Looms but the horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds, and shall find me, unafraid.
 
It matters not, how strait the gate,
How charged with punishments the scroll,
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.

Invictus
As die nag swart oor my strek
en in die donker lug
ek ontelbare ligte hoog sien brand,
dank ek die God wat my vry maak
om te kies watter lig my baken is.

In donker omstandighede en wat ook al die noodlot bring, oorwin bestemming en kans nie
en word ek steeds wyser wakker
oor die lewe en sy dinge
 en steeds is my wil vry
om te besluit waar my woorde
en dade hoort, hetsy reg of verkeerd
en in alle dinge antwoord ek net aan Hom wat die Kaptein van my lewe is.

[Verwysings: “Invictus” deur William Ernest Henley en “The Soul’s Captain” deur Orson F Whitney.] (Gert Strydom) www.woes.co.za

 
Fliekresensie Argief
I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.