Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Worstelings in 'Faith Happens' nie vir my nie

FAITH HAPPENS
OUDERDOMSPERK: ALLE OUDERDOMME
REGIE: RICK GARSIDE
AKTEURS: BRUCE MARCHIANO,
PETER HUSMANN, SIERRA WINGERT

RESENSENT: IZAK DU PLESIS

Na Faith Happens het ek soos ’n weduwee op soek na ’n muntstuk rondgekruip om die stukkies van my versplinterde geloof op te spoor. Dié goedkoop halssnoer van apologetiek is ’n substandaard stukkie werk, opgesmuk in die skyn van waarheid en suikersoet triomf. ’n Twee uur lange prosaïese marteling wat hierdie gelowige fliekganger koud gelaat en byna vervreem het van die Christelike geloof.

Dat die fliek gegrond is op ware verhale, ontken ek nie. Maar om dit ’n hutspot van lyding en bekering te maak en aan te bied asof dit gelyktydig gebeur, maak dit ’n dis waaraan mens langtand kou. Voeg daarby die swak spel van gemiddelde akteurs en jy kan perdalks jou kos uitkrap vir die hond as die gasvrou nie kyk nie. Garneer dit met die irriterende Peter (Bruce Marchiano), wat ander karakters liefdevol dreig met die hel, dan gaan die gasvrou waarskynlik ’n dooie hond onder die tafel ontdek sonder om ooit te weet haar konkoksie het daartoe bygedra.

Faith Happens ondersoek geloofskwessies in die lig van God se oënskynlike onbetrokkenheid in die wêreld. Klein Amy (Sierra Wingert) se vraag aan haar ouma oor waarom God slegte dinge laat gebeur, is ’n vraag wat telkens onder die loep geneem word wanneer verskeie karakters se swaarkry uitgebeeld word. Dit word egter op ’n ongeloofwaardige wyse gedoen. Selfs die worstelings met God hieroor lyk oneg.

Gemeet aan die dik beursies van die base van Christelike boekwinkels in Suid-Afrika, behoort Faith Happens egter ideale opium vir die gelowige volk te wees. Dis ’n fliek wat onbeskaamd Christelik is en dit so verkondig. En hier te lande het ons mos geleer dat as jy die etikette Afrikaans of Christelik aan ’n produk kan koppel, kan jy gemaklik jou boerdery opsy skuif vir ’n meer winsgewende bedryf.

As Faith Like Potatoes en Hansie jou traankliere geprikkel het, moet jy Faith Happens nie mis nie. Maar moenie mismoedig raak as die resessie dit vir jou moeilik maak om te fliek nie. Minder skeptiese predikante as ek sal vir seker snitte hiervan wys ter illustrasie van ’n roerende bekeringspreek.

¢º Izak du Plessis is jeugleraar van die NG Gemeente Valleisig.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.