Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 9 September 2010

Elandskloof – boeiende verhaal van hoop

Die Verhaal van Elandskloof ,
Deur Tobie Wiese en bygestaan deur Ricky Goedeman.
Uitgegee deur Protea Boekhuis (2009).
Bladsye: 325.

Resensent: Chris Loff

Tobie Wiese, ’n bekroonde joernalis, wend in dié goed versorgde boek oor die plaas Elandskloof in die skilderagtige Cederberge naby Citrusdal sy vaardigheid as betroubare en ondersoekende verslaggewer uitmuntend aan.

In sy soektog na die verhaal van Elandskloof ontgin hy die geheue van (ver­al) bejaarde Elandsklowers en laat (kerk-)geskiedenis soos ’n boeiende roman lees.

Op die titelblad reeds verseker Wiese sy lesers dat “elke woord van hierdie verhaal natuurlik waar (is), ook die leuens”. Dié pakkende vertelling, in vloeiende prosa, is egter nie uit die duim gesuig nie, maar deeglik nagevors. Die “leuens” verwys na die mitologiese interpretasie van die verlede – op sigself nie noodwendig ’n berekende wanvoorstelling van die waarheid nie.

Die verhaal van Elandskloof is “’n verhaal oor grond” (bl 21), maar verseker nie ’n eensydige weergawe van die stryd om ’n skilderagtige stukkie berglandskap en voormalige NG Kerk-sendingstasie nie.

By die boekbekendstelling op Elandskloof het Wiese die vraag oor die “waarheid” van die verhaal beantwoord deur na die egtheid van die grondaansprake op die voormalige sendingstasie te wys. Jare lank het Elandsklowers vas geglo dat die transportakte wat hulle eiendomsreg staaf, opsetlik uit die NG Kerk se Sendingkantoor in Kaapstad verwyder is. Welwetende dat hy hom die gramskap van die inwoners op die hals kon haal, het hy aangetoon dat so ’n dokument nooit bestaan het nie.

Daarteenoor laat hy die historiese dokumente aan die woord. Elandskloof is reeds in 1839 as erfpagplaas aan die kolonialis Joachim Schultz gegee. Die NG Kerk het dit in 1862 gekoop. Lank vóór daardie tyd het die voorsate van die Elandsklowers as nomadiese veeboere die weivelde van die Cederberge benut. Daarná volg ’n spannende geskiedenis, gekenmerk deur die konflik tussen wetlikheid en moraliteit.

Aan die een kant staan die NG Kerk met sy sendingbeleid wat die evangelie van genade wil verkondig, maar terselfdertyd regtens aanspraak maak op grond, die opbrengs van ’n boerdery en huurinkomste asof hulle alleenreg het. Aan die ander kant staan die Elandsklowers wat op die grond boer en dit bewerk, wat die evangelie gehoorsaam en ’n gemeente van die Here vorm, wat onderling twis en soms te veel drink of huweliksontrou is.

Die groot verdienste van Wiese se boek is die gebalanseerde manier waarop hy sy geskrewe en mondelinge bronne hanteer. Uiteindelik wy hy ’n insiggewende hoofstuk aan die grondhervormingsvraagstuk wat nog steeds in Suid-Afrika spook.

In 1961 het die sendingboer Lambertus Janse van Rensburg geskryf: “As alles wat oor Elandskloof gesê en gedoen is, in een boek moet saamgevat word, sal dit ’n vreeslike boek wees om te lees” (bl 7). Tog is dié pragtige boek alles behalwe dit. Trouens, dit eindig op ’n hoopvolle noot van moontlike omkeer en herstel.

Wiese maak ’n onmisbare bydrae tot die verstaan van ons verlede, van die kerklike, sosiale en politieke geskiedenis van Suid-Afrika – met ’n relevansie vir vandag wat jou die boek nie voor die laaste bladsy kan laat neersit nie.

¢º Dr Chris Loff is die vorige argivaris aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.