Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Befoeterd, Begaafd en begeesterd

 

STROOIDAK EN TORING

DEUR IZAK DE VILLIERS.
UITGEGEE DEUR UMUZI (2009).
PRYS: R220.00

RESENSENT: FRITS GAUMOor Izak de Villiers se digbundels het ek deur die jare talle resensies vir Kerkbode geskryf. So het ek al oor sy debuutbundel, Leitourgos, in 1972 geskrywe dat hy ’n digter is wat sy woordbyltjie fyn slyp en dat sy gedigte “soos ’n klok klink”. Later het ek geskryf dat hy in die beste sin van die woord ’n “volksdigter” geword het met min Afrikaners wat nog nie sy “Hoor jy die Paasfeesklokke” (Lied 409) en “Ek sien ’n nuwe hemel kom” (Lied 409) in die kerk gesing het en daardeur ontroer is nie.

Maar De Villiers is méér as ’n digter. Hy is en was ook ’n essayis, ’n predikant, ’n redakteur, ’n sportskrywer, ’n lyer aan depressie, ’n (onwilligerige) Broederbonder, ’n wenner van vele toekennings. Hy het in sy dikwels avontuurlike lewe te doen gekry, en soms sleg gebots, met mense oor wie jy nogal huis toe kan skrywe: van PW Botha en FW de Klerk tot André P Brink; van Audrey Blignault en Berta Smit tot Piet Cillié en Christiaan Barnard en Kolie Kotzé en Tony Leon. 

In hierdie boek leer ’n mens De Villiers ken as ’n befoeterde ou. (Befoeterd: Van stryk, beduiweld, nukkerig, vol dinge. – HAT). Hy skryf oor sy ongeskikte streep, laat blyk dat hy soms kort van draad is, vertel dat hy nie geskroom het om die foon partykeer in iemand se oor neer te sit nie (ek het dit ook belewe), of om staatspresident FW de Klerk op ’n Sondagoggend via sy seun te laat weet hy is op pad kerk toe en kan nie nou met hom oor die telefoon praat nie. En hy sê kaalkop dat die “Here Meesters” van Naspers vanweë sy “regsheid” op die ou end haastig was dat hy sy ry by Rapport moes kry. Bygesê: De Villiers “bely” nie noodwendig altyd sy stroomop-geit nie; op ’n manier spog hy daarmee.

’n Mens leer De Villiers ook in die boek ken as ’n begaafde ou. (Begaafd: Talentvol, slim, toegerus – HAT). Hy erken wel dat hy, noudat hy terugkyk, DOM (met die hoofletters) was toe hy sy Rapport-lesers destyds aangeraai het om “Ja” vir die nuwe Suid-Afrika te stem, maar niemand kan betwis dat Izak de Villiers ’n begaafde prediker, digter, skrywer en redakteur is/was nie. Hy kon en kan met woorde werk. Hierdie boek getuig ook daarvan. As jy dit begin lees het, kan jy nie ophou nie.

En dan leer jy De Villiers ook ken as ’n beGeesterde ou (Begeesterd: Met geesdrif vervul, besiel – HAT). In sy  aangrypende preek by die gedenkdiens van Audrey Blignault – as bylae agterin die boek – het De Villiers aangesluit by Job 32:8: “Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees van die Almagtige”: die besielende Skeppergees wat ’n mens in staat stel om óók te kan skep; die Gees, sou ek wou byvoeg, wat ’n mens met deernis en barmhartigheid en genade vul. Dié Gees is ook vaardig in Izak de Villiers se lewe. Daarvan getuig sy skeppende werk. Daarvan getuig sy vroeëre betrokkenheid by jeugoortreders, sy werk vir die kankervereniging, sy aandeel aan die Chris Burger-fonds vir beseerde rugbyspelers. En, in ’n persoonlike trant, daarvan getuig sy talle oproepe aan my toe sy oud-koerant, met die gretige hulp van ’n paar kerklikes, my in ’n stadium bra onbarmhartig bygekom het.   

Dis ’n boek wat ’n mens soms laat lag. En soms laat grynslag. En soms laat huil. De Villiers sal nie vir hierdie boek die nog vir hom ontbrekende Hertzogprys ontvang nie, want dis nie ’n roman of drama of digbundel nie. En tog is daar iets van hulle almal in Strooidak en toring.

- Dr Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

 

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.