Aanlyn-rubrieke Aktueel Spotprent Geestelike groei Gesprekke Sinode-nuusbriewe Skakels 7 September 2010

Spangenberg antwoord Jesus


Jesus van Nasaret, Sakkie Spangenberg, Griffel Media, 2009.
Prys R220.00
Beskikbaar vanaf September 2009.

Resensent: JOHANN BOSHOFF


Volgens die Bybelse Lukas-evangelie vra Jesus in hoofstuk 9 twee vrae aan sy dissipels.  In vers 18 vra Jesus:  “Wie, sê die mense, is Ek?” Hulle antwoord Jesus wat die mense sê.  Dan, in vers 20, daag Jesus as’t ware dié navolgers van Hom uit met die intiem-persoonlike vraag:  “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?”

Spangenberg se lywige Jesus van Nasaret is pas op die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein bekend gestel. In dié boek, met beperkte bydraes deur Pieter Botha en Maretha Jacobs, word vermelde twee Jesus-vrae eintlik beantwoord, sonder dat daar regstreeks gesê word dat dit dié Jesus-vrae beantwoord.


Oudergewoonte is Spangenberg se navorsing uiters deeglik, iets waarvan die bibliografie van 15 bladsye en talle voetnote getuig.  Hierin kom Spangenberg as deeglike “Bybelwetenskaplike” na vore – soos hy na homself verwys.


Dis juis dié navorsing, of dan wetenskaplike oorsig, wat die antwoord op Jesus se eerste vraag verstrek.  Spangenberg en kie sê in 21 hoofstukke wie die mense deur die geskiedenis heen gesê het Jesus is.  Daar word gekyk na verskillende en verskuiwende perspektiewe op Jesus, vanaf “ ‘n Kinderbybelperspektief” tot “ ‘n Perspektief vanuit die 21ste eeu”.

“Hierdie boek is ‘n poging om aan lesers te verduidelik waarom daar verskillende perspektiewe bestaan,” sê Spangenberg in die Inleiding.

En Spangenberg verduidelik die perspektiewe boeiend in vloeiende, gemaklike, nie-akademiese lees-Afrikaans wat raak-raak aan die literêre.  En, waar begrippe gebruik word wat minder bekend is, word dit eweneens helder verduidelik.

Geen skrywer kan egter aan sy of haar spiritualiteit of biografie ontsnap nie.  Spangenberg ook nie.  Die leser word deurentyd (aspris?) bewus gehou van Spangenberg se persoonlike inslag en aanslag.

“In die voorafgaande hoofstukke het ek die verhaal vertel van hoe my perspektief op Jesus van Nasaret oor dekades heen verander het,” verklaar hy in die laaste hoofstuk.


Spangenberg beantwoord dus Jesus se tweede vraag.  En hy doen dit met groot akademiese én persoonlike integriteit.

Hy het groot begrip vir die verskeidenheid perspektiewe op Jesus wat ook vandag gekry word en veroordeel dit nie.  Hy stel dit as feite.  Om die waarheid te sê, Spangenberg bepleit ten slotte eerder begrip vir en aanvaarding van ander se perspektiewe.


“Indien daar tans Christene is wat by enige van die ander perspektiewe aanklank vind wat ons óf in die Nuwe Testament, óf in die vroeë Christendom vind, behoort hulle as deelgenote van die lang en ryk tradisie wat rondom Jesus van Nasaret ontstaan het, gereken te word.  Hulle is nie ketters of afgedwaaldes wat hulle moet bekeer nie.”

Dit is interessant dat juis Jesus nóg die antwoorde op die eerste vraag nóg Petrus se antwoord op die intiem-persoonlike vraag met ‘n regmerkie “beloon”.  Om die waarheid te sê Jesus belet sy navolgers om dit vir ander te vertel!  En Jesus verstrek dan daar ‘n rede wat (weliswaar) ‘n hele paar perspektiewe op Hom ten grondslag lê.

Vir die ernstige navolger van Jesus is dit ook belangrik om Jesus se tweede vraag, die intiem-persoonlike vraag, te beantwoord.  Soos Spangenberg.


Nou kan Jesus se moderne navolgers dit enersyds meer ingelig doen danksy die wetenskaplike aspek van Jesus van Nasaret. Andersyds kan sulke Jesus-navolgers ook verby die/hulle dikwels tweedehandse veroordeling van Sakkie Spangenberg en die sogenaamde Nuwe Hervorming kyk na die eerlikheid en opregtheid waarmee Spangenberg Jesus as’t ware op die tweede vraag antwoord.

Werklike lesers, dit wil sê diegene wat die boek oopmaak en van hoek tot kant aandagtig deurlees en hulle nie verlaat op ander se menings oor Sakkie Spangenberg en die sogenaamde Nuwe Hervorming nie, sal groot baat vind by die lees van hierdie boek.


Ook ek word deur Spangenberg se opregtheid, eerlikheid en integriteit uitgedaag om sonder selfbedrog opreg, eerlik en met integriteit te besin oor wie Jesus vir mý is, wetende dat Jesus nie dieselfde vir enige twee navolgers van Hom is nie.  Geen twee verhoudings is immers identies dieselfde nie.  En Jesus het dit volgens die betrokke vraag se implikasie geweet. Feite.

Lees dus die boek as jy Jesus se eerste, maar veral tweede vraag ernstig opneem.


- Boshoff is die skrywer van reeds vier “Jesus-boeke”, te wete Volg jý My!, Gee my Jesus, Hierdie Jesus en Jesus bid, wat ook pas verskyn het en op dieselfde fees bekend gestel is.

I N ..L I G T E R.. L U I M
 
 
Die inhoud van hierdie webbladsy mag op geen manier gepubliseer of hergebruik word sonder die skriftelike toestemming van die Kerkbode-redakteur nie.
Alle materiaal © Kerkbode Aanlyn l RSS feed l Ontwerp deur Oswald Kurten l Met trots gehuisves deur Bybel-Media, uitgewer van Kerkbode.